60.’n Briefie vir jou, my kind.

Vanaand, toe jy vir die soveelste keer met my baklei om te slaap, dink ek sommer aan hoe oneindig baie ek vir jou lief is. En dat my wense vir jou toekoms so verskriklik groot is.

Terwyl jy my in my maag SKOP omdat jy nie nou al wil slaap nie, hoop ek dat jy eendag sal gatSKOP. Dat jy ‘n tawwe meisie sal wees wat nie ander se nonsens sal verdra nie. Dat jy sal opstaan vir wat reg is…al is dit nie altyd populer nie.

En toe jy met jou vinger na my OOG wys en saggies fluister “ogie” (cutewees kry jou gewoonlik uit slaap uit), wens ek dat jou OGIES altyd oop sal wees. Dat jy altyd sal sien wat om jou aangaan en dat jou ogies die nood rondom jou sal raaksien…al beteken dit dat jy soms buite jou ‘comfort zone’ moet gaan.

En toe ek vir jou ‘n Afrikaanse liedjie SING, wonder ek sommer of ek die regte besluit gemaak het om jou Afrikaans groot te maak. Gaan jy eendag trots wees op jou taal? Of gaan jy dit nie wil praat nie? En ek glo dat jy die woorde van die mooi Afrikaanse liedjies wat ek elke aand sing (Daar’s vissies in die water en Stapsoldaatjie)…eendag vir jou babatjie sal SING.

En terwyl jy my ‘n oulike SOEN gee om finaal teen die slaap te baklei, bid ek dat jy eendag iemand sal SOEN wat jou hart liefhet. Iemand wat vir jou omgee en jou sal aanvaar met al jou foute. En ek bid dat jy die regte man vir jou sal ontmoet.

Ek dink sommer aan die lewe en aan jou toekoms en ek hoop dat jy ook as jy groot is, sal BAKLEI teen slaap. Dat jy nie sal toelaat dat jy ‘slaap’ terwyl verkeerde dinge die lewe vir jou sal sleg maak nie en dat jy altyd sal BAKLEI om die positiewe in elke situasie te soek.

En wanneer jy uiteindelik INGEE en jou asemhaling stadiger raak, wens…bid…glo…en hoop ek dat jy altyd sal INGEE vir God se plan. Dat jy sal luister as Sy stem jou roep en dat jy nie sal twyfel dat Jesus en die Bybel waar is nie. 

Laastens, my liefste spesiale kindjie…hoop ek dat jy altyd sal weet hoe lief ek jou het.

 

 

4 thoughts on “60.’n Briefie vir jou, my kind.

    • Sjoe, dis ‘n hartroerende stukkie wat praat met my mamma hart . Mens vergeet so maklik dat hierdie lyfies nie altyd op ‘n compactum gaan pas nie en nie altyd mens in jou maag gaan skop as jy hulle doekie ruil of aantrek na badtyd nie, dat die stryd om eet en slaap (hopelik!) nie vir altyd sal aanhou nie en dat mens hulle net moet vas hou, lief hê en altyd vir hulle moet bid! Dankie vir jou stories! Dit inspireer my om ‘n beter mamma vir my baba seuntjie te wil wees!

      Like

    • Sjoe, hierdie stukkie pluk aan elke hartsnaar van hierdie mamma hart van my! Mens wil so graag al hierdie dinge oor mens se baba lyfies bid! En mens vergeet as hulle jou so in die maag pomp dat hulle nie altyd op ‘n compactum gaan pas nie en hulle nie altyd gaan baklei om te slaap of te eet of te bad nie… Dat mens elke dag moet koester, hulle word so vinnig groot! Dankie vir jou stories, ek lees dit graag en inspireer my om ook meer en harder vir my seuntjie te bid sodat hy ook die man en pappa sal wees wat God hom gemaak het om te wees!

      Like

Lewer kommentaar