63. Mans wat Pappas is

pappa 5

Daar is iets anders wat in ‘n man gebeur die dag wat hy ‘n pa word. Dit is asof die wêreld ewe skielik net verander. Daar is skielik hierdie ekstra verantwoordelikheid wat hulle  laat dieper dink oor allerdaagse dinge. Dinge soos ‘spaar’ vir die toekoms raak sommer oornag ‘n groter fokus. Goed soos ‘sekuriteit’ raak ‘n prioriteit en ek lag elke keer as my man nou nêrens sonder sy knipmes (Afrikaanse boerseun se vorm van beskerming) in sy sak gaan nie. Die 27 jarige-seuntjie met wie jy getrou het verander oornag in ‘n MAN!

Vandag is ons huweliksherdenking en ek het sommer gevoel dat ons nie genoeg oor ons mans as ‘n pa’s praat nie. Ek is effens ouer as my man en het altyd gewonder of hy ‘reg’ is vir kinders. Ek was al ‘reg’ vandat ek 24 jaar oud is. Toe het ek al geweet dat ek eendag ‘n ma wil wees en ek was broois as my maatjies oor hulle babatjies koer. Maar met mans weet mens mos maar nooit regtig nie (of met my man altans). Was hy lank genoeg ‘jonk’? Is hy bereid om al die vryheid van kindloos wees, op te gee? Gaan hy ok wees met die minder slaap en die vroeg oggende (hy is ‘n laatslaper)?

My man het verander van iemand vir wie ek lief is, in iemand wat my absolute HERO is! Hy het hierdie hele pa-ding net aangetrek en gehardloop daarmee. Hy het my eerstens verras met die manier waarop hy reageer het toe ons uitvind Lisa gaan ‘n dogtertjie en nie ‘n seuntjie wees nie. Hy het gesê hy wou nog altyd ‘n dogtertjie gehad het en hy was meer opgewonde as ek oor die idee. En wat ‘n ongelooflike dogtertjie pa is hy nie. Ek het hom altyd gesien as meer van ‘n seuntjie pa…iemand wat saam met sy seuntjies in die tuin rugby speel of visvang by die dam. Maar hy is ongelooflik met Lisa. (alhoewel haar eerste speelding wel n rugbybal was)

Vir iemand wat nie sussies het nie en ook glad nie regtig in mode of klere of kleure belangstel nie, het hy haar aan die begin soos ‘n nar aangetrek. Klere met kleure wat of te veel bymekaar pas of met heeltemal uiteenspattende moetiewe. Maar ‘n jaar later, trek hy haar met soveel selfvertroue aan en ek was so trots toe ek nou die aand laat moes werk en ek sien dat hy haar in ‘n grys hempie met ‘n wit en grys broekie aangetrek het. Haar hare het hy self in ‘n poniestert bymekaargeskraap en sy het gelyk asof ek haar self aangetrek het.

Ek dink ons gee veels te min krediet aan ons mans. Soms voel ek asof net ek weet wat om te doen en dat net ek vir Lisa kan help, maar dan kom ek  egter met ‘n skok agter dat EK nie alleen belangrik is nie. Ek mag dalk haar geborsvoed het, en ek mag haar dalk in my maag laat groei het, en ek mag dalk die een wees by wie sy getroos wil word, maar sonder Pappa is sy nie gelukkig nie.

My man was vir 7 weke weg vir werk en Lisa het bitter min in daardie tyd regtig uit haar maag uit gelag. Dit was asof sy hartseer was dat hy nie by die huis is nie. Sy het 2 aande in haar slaap gesnik…iets wat sy nog nooit gedoen het nie. Asof sy selfs in haar drome na hom verlang het. Alhoewel al haar ander behoeftes vervul was, kon ek nie haar PA wees nie. Net hy kan daardie rol vervul.

Pappas speel rowwer, hulle kielie lekkerder, hulle gooi die bal beter, hulle laat vlieg my hoër, hulle vang my makliker as ek van hoog af spring, hulle mors meer, hulle gee lekkerder soene, hulle is net soveel anders as mammas. My man was net ‘n dag by die huis en sy het kliphard uit haar maag uit gelag toe hy haar kielie. Sy was gelukkig omdat hy by die huis was en sy wou die heeltyd net by hom wees.

As my man na Lisa kyk, kyk hy met sagte oë propvol liefde. Dit is dieselfde kyk waarmee hy altyd na my kyk. ‘n Diep liefde wat nie beskryf kan word nie. ‘n Kyk wat sê: “Ek is hier vir jou…ALTYD en ek sal baklei vir jou…ENIGE TYD en ek sal jou koester…VIR EWIG. En daarvoor kan ek nie genoeg dankie sê nie.

 

 

3 thoughts on “63. Mans wat Pappas is

Lewer kommentaar