91. Geblikte Gevoelens

gevoelens 2Dis vreemd hoe emosies op so ‘n manier werk dat dit jou hele lewe beïnvloed. As jy gelukkig voel, is alles sommer lekker. Die taxi kan maar voor jou indruk en jy stap met ‘n huppel in die besige winkelsentrum rond. As jy ontsteld is, deurtrek jou hele menswees weer negatiwiteit. Alles voel donker en swart en geduld word saam met die glimlag by die venster uitgegooi.

Ek is mal daaroor om gelukkig te wees. Ek probeer altyd die glas halfvol sien en ek is die ewige optimis. Al gaan dinge rof, is dit vir my belangrik om maar liewer ‘n glimlag op my gesig  te sit en die goed in die sleg te soek. Ek is nogal ‘n meester om negatiewe emosies te onderdruk en alhoewel my gesig nie altyd my emosies kan wegsteek nie, vee ek gou-gou die hartseer of onsteltenis af en sit maar weer my glimlag op. Ek dra nie baie grimering nie, maar maskers wel.

Die afgelope tyd het my emosies bietjie met my weggehol. Met hierdie tweede swangerskap het ek aan die begin vrees ervaar en ek het so ‘n klein bietjie van my hart openbaar in een van my vorige posts (89. Om te veel te weet…). En toe het ek besluit om die vrees te vervang met geloof. Geloof dat alles tydens hierdie swangerskap ok gaan wees. Geloof waarvan die Bybel ons tog leer en ek het beter gevoel. Al was die vrees net onderdruk, was ek steeds in my agterkop bang. Ek het wel vrede ervaar, maar vrees was verseker steeds daar.

Tydens ons 20 weke scan het hulle iets opgetel wat my risko vir pre-eklampsië en placenta abruptia weer verhoog. Ek het heeltyd geweet daar is ‘n kans vir die nagmerrie van my eerste swangerskap om weer te gebeur, maar het geglo dit gaan anders wees. En skielik is ek gekonfronteer met oorweldigende emosie. Ek het in my kop gesê ek is ok en maar weer die vrees in ‘n blik gedruk.

Terwyl die nuutste emosies in die blik was, is ek oorweldig met ander negatiewe goed wat om my gebeur. Ek het ‘n onnodige konfliksituasie by die werk met ‘n kollega gehad, ‘n kind het uit die bloute by die skool met my baklei en ek het ekstra stres met merkwerk gehad. Vir ‘n tydjie het ek gedink hierdie goed het niks met mekaar uit te waai nie, maar na ‘n koffie-klets met ‘n hartsvriendin het dinge begin in plek val.

Dis ek! Dis EK wat nie my negatiewe emosies in die gesig staar nie. Hoe meer ek die blik probeer toe hou, hoe meer peul dit uit en hoe meer negatiwiteit trek ek aan. En alhoewel positiwiteit en optimisme alles ongelooflike karaktertrekke is, moet ons soms ons gagga goed bietjie vasvat en tyd spandeer om jou hart toe te laat om werklik te voel.

En van nou af gaan ek probeer om elke emosie te ervaar. As ek opgewonde is, is ek opgewonde. As ek bang is, is ek bang. As ek sterk is, is ek sterk en as ek swak is, is ek swak. As jy my vra of ek ok is, sal ek vandag dalk sê “ja”, maar volgende week is dit dalk weer “nee”. Want dit is wat dit is. Ek is ok, maar ek is ook nie ok nie. En dit is ok.

gevoelens

2 thoughts on “91. Geblikte Gevoelens

  1. hi skat… dankie vir die stukkie skryf! ek dink meeste mense worstel baie met dit! we don’t always admit that we’re not ok because of our inhabitant fear of what people would say of that! maar dis so belangrik om alles wat ons voel, positief of negatief, ons dit moet erken, voordat mens daar deur kan werk! jy is ongelooflik sterk, and to acknowledge the times when you’re not ok & strong is in fact the vary thing that makes you stronger! xxx

    Like

Lewer kommentaar