92. Onderklere onderonsie

onderklereEk is nie een wat vreeslik gepla is oor wat ander mense van my dink nie en dans redelik op musiek wat meeste mense nie eers kan hoor nie. Maar so ‘n paar jaar gelede het ek in die middel van die nag omgekap terwyl ek op die toilet sit.  Dit was vreeslik ongewoon en eintlik nogal snaaks, maar in die val het ek my neus gebreek.

Daardie oggend was my gesig opgeswel en blou en ek moes dokter toe gaan om te kyk wat hy aan my neus kon doen. Ek wou nie lyk soos ‘n aangerande of mishandelde vrou nie en het besluit om my mooiste rokkie aan te trek. Ek het so ‘n lang wit boobtube somersrok gekies. Dit skyn effens deur, so jy moet ‘n vleeskleurige pantie dra. Aangesien dit ook alles wys, kies ek so regte stepping-fietsry-spandex nommertjie wat sommer al die vet ook onder beheer hou. Die rok se boobtube deel is versterk, so ‘n bra is nie nodig nie. Ek haat bra-dra so dit pas my goed. Ek blaas my hare en sit make-up op die dele van my gesig wat nog reg is en siedaar…’n redelike agtermekaar vrou met ‘n blou neus stap by die deur uit.

Dis ‘n nuwe dokter en hy is veel aantrekliker en jonger as oudok Roux van my kinderdae. Hy het my bietjie uitgevra oor wat gebeur het en toe gesê dat hy nie veel aan my neus kon doen nie, maar dat die omkappery hom wel pla. Hy wil graag ‘n paar toetse doen om te kyk of daar iets fout is en gaan sommer nou dadelik ‘n E.K.G. doen. Dit was reg met my totdat hy my na ‘n kamertjie gevat het met ‘n klein nou bedjie en ‘n treadmill. Hy het gesê ek kan maar my bra en pantie aanhou en op die bed klim. Hy gaan net gou iets haal en dan kom plak hy die stickertjies op my bolyf. My hele lewe het verby my geflits, want o hel, doktertjie…weet jy waste pantie ek aanhet en om van ‘n bra nie eens te praat nie.

Ek het begin bloos en maar my mooi rok uitgetrek en in my fietsry-spandex besigheidjie op die bed geklim. Toe ek my kop so bietjie oplig om te kyk hoe ek lyk, sien ek hoe my een boob links af val en my ander boob regs hang. Ek sien hoe die vet wat deur die broek meestal ingedruk is, net onder my borste uitpeul en onder my bobene druk dat dit eintlik so wit vetrol maak. Ek het nie geweet waar om my blouneus-gesig weg te steek nie.

Die dokter het ingekom en was duidelik geskok, met ‘n effense grynslag op sy gesig. Hy het baie professioneel gebly alhoewel ek kon sien dis moeilik. Hy het my vetbroek so bietjie tot op my heupe afgerol om die stickers te plak. Met dié het my vet maagrolle bo-oor gerol soos ‘n klomp skoolkinders wat op die laaste dag van skool by die hoofhekke uitpeul.

Nog nooit was ek so skaam en ongemaklik nie, maar ek moes maar daar lê en die toetse klaarmaak. Ek is NOOIT weer terug na daardie arme doktertjie toe nie en nou maak ek seker ek trek altyd bypassende onderklere aan vir enige mediese afspraak. Selfs die tandarts kan maar kyk…want twee keer gaan hulle my nie vang nie.

3 thoughts on “92. Onderklere onderonsie

Lewer kommentaar