98. Wat is jou verskoning?

Screenshot_2018-05-03-19-26-53
Ek het hierdie week begin werk en dit gaan maar rof met al die sakke wat gepak moet word en al die melkuitpompery. Dit is ook nogal oorweldigend om in die middel van die kwartaal by die skool in te stap met ‘n see vol kinders wie se name jy nie ken nie of dié wat jy wel ken se name wat jy nie meer kan onthou nie. Nes ek myself bietjie begin jammer kry terwyl ek in my afperiode na die irriterende geluid van die borspomp luister, lui die klok vir saalbyeenkoms.

Een van die vele goed wat die onderwys ‘n ongelooflike beroep maak, is die weeklikse geleentheid om na sprekers te luister. Soveel groepe en individue kom spreek leerders toe en vandag was ons bevoorreg om na “Sharkboy” Achmat Hassiem te luister.

Ek het my doodgelag en snot en trane gehuil en tussen die twee het ek met ‘n groot glimlag gesit en luister na sy ongelooflike storie. Hy is tydens ‘n lewensreddingsoefening deur ‘n haai aangeval en het in die proses sy been verloor. Lang storie kort…is hy nou ‘n wêreldrekordhouer in swem en is die beste spreker na wie ek in ‘n lang tyd geluister het.

Ek wil 4 goed met julle deel wat ek by hom geleer het vandag:

1. Baklei altyd terug.
Wanneer ‘n haai jou drome verwoes of wanneer jy dink dit is nou die einde…baklei terug. Moet nooit opgee nie en al moet jy jou drome aanpas, bly droom.

2. Moenie haat nie.
My normale reaksie as ‘n haai my been afbyt, sal wees om nie baie van haaie te hou nie, maar nie Achmat nie. Hy is nou ‘n verteenwoordiger vir haaie en hy help om hulle te beskerm. Vergewe die haai in jou lewe!

3. Hou aan lag.
Achmat se storie wat eintlik vol vrees en pyn is, vertel hy vol humor. Kyk of jy ook die snaaks kan vind in die middel van jou krisis. Positiwiteit en humor maak jou ‘n wenner.

4. Wees ‘n leier.
Achmat het die bekende sê ding: “if life gives you lemons, make lemonade” verander. Want hoekom doen wat almal doen? Hoekom nie lemon meringue met daai suurlemoene maak nie? So as die lewe jou bietjie rondgooi, volg jou eie pad en wees ‘n leier.

Ek het vandag na hierdie groot, sterk jong man met die een been gekyk en besef ek met my twee gesonde bene het nie meer’n verskoning nie. Het jy?
20180503_105606

3 thoughts on “98. Wat is jou verskoning?

Lewer kommentaar