99. Sak en pak

images

Ek is ‘n 1 sak mens. Ek het gewoonlik 1 redelike groot handsak waarin alles van appels tot merkwerk gegooi word. Die sak was handig, want alles wat ek ooit gesoek het, was daarin. Na Lisa het ek so paar ekstra goed gehad om te pak, maar nou…nou raak dinge biejtie wild. Vanoggend het ek die sakke getel wat op die tafel (wat eens op ‘n tyd lank lank gelede soos ‘n eetkamertafel gelyk het) staan:

Lisa:
1 x swemsak (met handdoek, swembroek, swempet en goggles)
1 x skoolsak (met ekstra klere)
1 x coolerbag (met kos en water)

Dian:
1 x doekesak (met medisyne en ekstra klere)
1 x coolerbag (met 3 uitgepompde bottels borsmelk en 2 icebricks)
1 x plastieksak (vol nappies vir die week)

Ek:
1 x handsak (my goeie ou staatmaker leersak wat vir jare my enigste sak was)
1 x coolerbag (met icebricks, borspomp en leë bottels)
1 x lunchbag (met snacks en kos)
1 x sportsak (met oefenklere vir vanmiddag se netbalafrigting)
1 x skoolsak (met beplanning, dagboek en 4 pakke opstelle wat nog gemerk moet word)

ELF!!!! 11 sakke! 11 lyk soos twee 1’e langs mekaar. Een 1 vir elke kind. Maar saam maak dit 11. Elf sakke wat gepak moet word en elf sakke wat gelaai moet word sonder die hulp van ‘n towerelfie of twee om te help. En dit als net vir 1 dag!

Google foto’s wys hoe wonderlik dit is om soggens met twee kinders uit die huis te gaan. Almal op die foto’s glimlag en die pa drink ‘n koppie koffie terwyl die ma met ‘n groot glimlag die dogtertjie se skoene aantrek. Niemand lyk moeg of effens gestres nie.

REALITY CHECK:
1. Waar is die donker kringe onder die ma se oë?

Die model (wat seker nie eers ‘n actual ma is nie) het sekerlik nie 3 keer wakker geword om ‘n baba te voed nie. Sy het ook nie 11 sakke gepak nie en sy het definitief nie binne 3.5 minute aangetrek nie. En sy het sonder twyfel gestort en hare gewas.

2. Wie het die koffie gemaak en hoekom sit die pa en ma met ‘n glimlag?

Die modelle moes seker nie vir die oudste kind Paw Patrol op sit of pap maak nie. Hulle het ook seker nie met ‘n baba op die arm toilet toe gegaan of gou die laaste bietjie melk uitgepomp wat nodig was vir die dag se melk kwota nie. Hulle neem ook nie beurte om die huilende baba vas te hou of om die kind se tande te help borsel nie. Die cappuccino shake wat met een hand gemaak word (terwyl die baba vir oulaas nog aan die ma se bors hang) en wat tel as koffie en ontbyt sien ek ook nie op die kombuiscounter nie.

3. Waar is die horlosie wat wys dat almal eintlik al 10 minute laat is alhoewel jy 30 minute vroeër opgestaan het?

Hulle 3 jarige baklei seker nie omdat sy geleer is “dis nog donker en mens slaap in die donker nie”. Hulle babatjie huil ook seker nooit soggens nie en hulle hoef nooit skottelgoed te was om ten minste een skoon lepel te hê vir die kind om haar pap mee te eet nie. Hulle katte het ook nie in die nag al hulle kos en water opgedrink nie en hulle skedule loop 100% op tyd.

4. Watter 3-jarige glimlag terwyl hulle ma hulle skoene vir hulle aantrek?

Die modeldogtertjie het seker nie ‘n wil van haar eie nie. Sy kies dalk nie self wat sy wil aantrek nie. Sy huil definitief nie as haar ma (wat klaar 10 minute laat is) haar met haar skoene of zip wil help nie. Sy is ook natuurlik ‘n oggendmens wat elke oggend ‘n “goeie” oggend het.

Om met 2 kinders te gaan werk is rof. Dit is veral vir my rof omdat Diantjie nog borsvoed en ek ‘n natuurlike HAATgevoel teenoor ‘n borspomp het. Om te oorleef vereis ‘n nuwe roetiene en almal se hulp. Dit vra dat jy vroeër opstaan en meer beplan. Saans nadat almal slaap, moet jy nog sakke (soms tot 11 :)) pak en bottels en pompparte steriliseer. Jy moet vooraf dink aan etes en soms in die middel van die nag opstaan omdat jy van die nat wasgoed in die masjien vergeet het. Dit vat baie emosionele energie waarvan die grootstes seker geduld en dissipline is. Maar dit is ‘n wilde, kosbare en humoristiese tyd van ma wees wat ek vir niks sal ruil nie. Ek is mal oor my werk en ek is mal oor my kinders. En voor ek my oë uitvee is die huis soggens stil en ek wens vir die chaos van nou.

 

4 thoughts on “99. Sak en pak

  1. So goed geskryf en so waar, daar is geen realitieit check nie en ma’s voel so skuldig oor hulle nie soos die prentjies lyk nie Great dat jy dit so goed gestel het en gedeel het, dankie

    Like

Lewer kommentaar