103. Emmerskop-lysie

images

Party mense glo dat dood jou met sy manelpak in die nag kom haal en jou op ‘n bootjie na die ander kant wegvat. Ander glo weer in ‘n groot wit lig wat jou roep in die rigting van die onbekende. Vir baie is dit net die niks waarheen jy verdwyn nadat jy jou laaste asem uitblaas en vir sommige is dit die vervolmaking van ‘n siklus wat lei na ‘n nuwe een. Wat ook al die dood vir jou is, dit kom elke dag nader en niemand kan jou sê presies wanneer jou tyd op is nie.

Verlede week was ek met die dood gekonfronteer toe ‘n dogter van een van my kollegas  op 19 onverwags dood is en toe een van my matrieks se ma op 49 oorlede is. Ek is supersleg met begrafnisse, want ek dink te diep en dan huil ek, al het ek nie eers die mens goed geken nie. Ek huil sommer vir die dogter wat sonder haar ma op die dag van haar troue gaan klaarmaak en ek huil vir die ma wat nooit haar kind gaan sien trou nie.

Ek het die oggend toe ek hoor van die dogter se dood met Lisa baklei oor sy ‘n groen pantie wil aantrek soos GECKO van PJ Masks. Ons het heeloggend koppe gestamp oor ‘n simpel groen pantie. Dit het my heeldag gepla, want wat as ek daardie dag dood sou gaan. Sou die simpel groen pantie enigsins iets in ons lewens verander het as ek of sy nie meer daar is nie? Ek het direk na werk gery en ‘n pak groen onderbroeke (want mens kry nie groen panties nie) gaan koop, want ek wil nie onthou word vir ‘n bakleiery oor ‘n pantie nie. Ek wil graag onthou word vir ‘n ma wat elke oggend haar kind aflaai met liefde en nie irritasies oor ‘n simpel groen pantie nie.

By die ma se begrafnis, het hulle gepraat oor haar siekte en oor hoe sy haar lewe voluit geleef het. Haar dogter het gesê dat haar ma, vanaf sy baie sieker geraak het, omtrent alles op haar Bucket List voltooi het, en dat net ‘n lugballonrit en ski in die sneeu vir haar oorgebly het. Dit het my diep laat wonder en ek worstel nou al ‘n paar dae met my donker gedagtes.

Ek wonder of die 19-jarige ‘n bucket list gehad het, want ek weet ek het nie een nie. Ek weet daar is baie goed wat ek nog wil doen voordat ek eendag die emmer skop, maar ek het nooit werklik ‘n lys sit en opstel nie. En dan wonder ek sommer hoekom mens eers begin lewe nadat jy uitvind dat jy siek is. Is dit omdat jy bang is dat jy eendag op jou oudag nie genoeg geld gaan besit om te lewe a.g.v al die avonture waarop jy gegaan het toe jy jonk was nie? Of is ons maar net bang vir die onsekerhede van die lewe?

Is dit nie maar tyd dat ons werklik begin lewe nie? Al is ons onseker. Ek gaan vandag begin met my emmerskop-lysie. Want ek wil nie heeltyd dink aan doodgaan nie, maar ek wil lewe. Nou…terwyl ek nog LEWE. En die goed op my lysie gaan my nie in ‘n finansiele penarie sit nie, maar dit gaan dalk ‘n paar jaar se spaar kos.

Vandag begin ek met my lysie. Nou is daar net ‘n paar, maar hy sal groei en verander. Het jy al jou emmerskop-lysie? En hoekom het jy nie? Begin vandag lewe, want as jy of die mense om jou nie meer daar is nie, is die simpel groen pantie nie meer belangrik nie.

My Emmerskop-lysie:

  1. Ek wil meer uit my maag uit lag.
  2. Ek wil meer vir my man vertel dat ek hom lief het en dat ek hom waardeer.
  3. Ek wil weer die wind in my hare voel terwyl ek met ‘n perd op die strand gallop.
  4. Ek wil minder omgee wat ander mense van my dink.
  5. Ek wil ‘n 4×4 koop en bietjie meer gaan kamp.
  6. Ek wil leer hoe om ordentlik Xhosa te praat.
  7. Ek wil my hele familie bymekaar kry vir ‘n groot kuier.
  8. Ek wil weer plaas toe gaan.
  9. Ek wil weer Die Bybel van voor af lees.
  10. Ek wil saam met my gesin op ‘n regte safari gaan.
  11. Ek wil aan my emmerskoplysie werk.
  12. Ek wil vrede maak met my vyande.
  13. Ek wil ophou baklei oor klein goed.
  14. Ek wil iemand inspireer.
  15. Ek wil ‘n boek skryf.

 

4 thoughts on “103. Emmerskop-lysie

Lewer kommentaar