104. Glue-guns en guillotines

40504555_10161220536430179_599256424370929664_nDaar is baie goed in hierdie wêreld wat my bang maak, maar net 2 goed wat regte egte vrese is. 1. ‘n Guillotine en 2. ‘n Glue gun. As onderwyser sou jy dalk dink dat hierdie twee items is wat jy daagliks of ten minste weekliks nodig het, maar NEE…nie ek nie. Ek knip liewers 500 papiertjies met ‘n skêr as om dit met daardie swaardlem te sny en in die proses moontlik my vingers te verloor. En die idee van vuurwarm gom op my vingers krap my diepste binneste om. Die ding met vrese is dat dit gewoonlik heeltemal oordryf is en dat mens nie werklik in gevaar is nie. WEL, ek ken 2 mense wat al vingers verloor het en 1 wat permanente brandletsels op hulle hande het en almal van hulle is geleerde, slim mense. Dus voel ek dat my vrese  heeltemal regverdig kan word.

Dié week was ‘n wilde week. Een waarin ek meer as een keer gewonder het of dit regtig so erg is om tydens werksure te drink. En soos alles maar gaan, is hierdie ‘n week wat reeds vol is, maar waar daar elke dag nog iets op die ellelange to-do lysie bykom.

Ek weet nou al vir meer as ‘n maand dat Lisa vandag ‘n hoed moet hê vir Lentedag. Dit moet uit herwinbare materiaal gemaak wees en dit moet “Lente” skree. Aangesien sy ‘n volle VIER jaar oud is, het ek aangeneem dat die verwagting vir dié hoed redelik klein is, en dat ek Donderdagaand gou vinnig ‘n papboks op ‘n skoenboks met ‘n botteldoppie of twee kan vas-tape en siedaar…Lentedaghoed klaar.

Maar, Nee! Ons lewe mos deesdae op Planeet Pinterest.

Teen Saterdagaand kom die eerste Watsapp foto op die mammasgroepie deur. En teen Sondag blyk dit asof almal klaar is met hulle mini picasso masterpieces. My keel begin toetrek en my hart begin spring, want dit wil voorkom asof ek nie net my kind met die beplande pap-skoen-botteldopboks sal kan skooltoe stuur nie. Ongelukkig pla sulke goed my nog en ek wil tog net nie hê my kind moet die één wees wat uitstaan as die “ag shame…kyk, haar ma het seker nie voorgestaan toe kreatiwiteit uitgedeel is nie”- kind nie.

Google kom gelukkig tot my redding en ek sien miljoene foto’s van skeppingswerke wat almal  as matriekkunswerke kon A’s kry. Een probleem…hulle almal lyk asof dit jare gevat het en almal lyk asof hulle met ‘n glue gun bymekaargesit moet word. My keel trek weer toe, want wat nou?!

Ek kry gelukkig ‘n veel eenvoudiger plan en maak toe sommer papierblomme uit ‘n ou tydskrif en ‘n stapler. Ek krap deur die deurskynende recyclingsak net voordat die vullistrok kom en al wat ek kry is bierbottels, wynbottels, ‘n leë boks wyn en 1 leë eierdosie (dit spreek eintlik woorddele van my week :)). Ek dink dat die eierdosie dan seker maar al ding is wat ons kan gebruik, want ek wil nou net nie hê dat my dogtertjie die “ag shame…kyk, haar ma drink baie én is nie kreatief nie” – kind moet wees nie.

En so verf Lisa ‘n paar eierdoosblommetjies en siedaar, nou net vir die plak. My plan van wit houtlym werk nie, en al wat oorbly is die glue gun opsie. My “Glue Gun Guru”/ supervriendin kom tot my redding en ons (maar meer sy) maak ‘n Next Level hoed wat die koppe letterlik laat draai. Uit haar kas verskyn ‘n pers stuk papier en binne sekondes is daar drie perfekte skoenlappers. Alles word geplak terwyl sy met haar glue gun werk asof dit ‘n towerstaf is. Ek het een blommetjie probeer plak en sowaar, daar brand dit my. Glad nie erg nie, maar net genoeg om te weet dat glue guns en guillotines nie my ding is nie en dat ek hierdie goed liewer vir die guru’s moet los.

 

 

 

2 thoughts on “104. Glue-guns en guillotines

Lewer kommentaar