106. Wanneer die tyd met jou weghol

images.jpg

Toe my beste vriendin se derde kind gebore is en ek haar vra hoe dit voel om DRIE kinders te hê, was haar antwoord: “Dis nie veel anders as 1 kind nie, behalwe vir die feit dat jou tyd minder is.” Ek onthou hoe ek nie presies verstaan het wat sy bedoel nie, maar dat ek ge”ja” en “agh” het om te lyk asof ek weet waarvan sy praat.

Na hierdie vakansie verstaan ek HEELTEMAL wat sy bedoel het. Met een kind, kon ek nog iets doen terwyl sy haar middagslapie vat. Ek kon nog maklik na ‘n speelplekkie gaan en terwyl sy speel, kon ek in vrede ‘n stuk koek of ‘n bederfdingetjie eet. Ek kon haar by ‘n maatjie gaan aflaai vir ‘n uur se stilte waarin ek gou die huis kon regkry of my hare kon laat sny.

Met twee is dit ‘n hele ander ballgame. Wanneer die een slaap, is die ander een wakker. Wanneer die een speel, wil die ander een drink. Wanneer die een wil eet, wil die ander een slaap. En om TWEE kinders by ‘n maatjie te gaan aflaai is bietjie te veel gevra veral as die een nog nie eers 1 jaar oud is nie.

Om na ‘n restaurant te gaan is ook wild. Nes jy dink jy en AL jou sakke is gemaklik in Spur se semi-sirkel bankie, wil die ouer een gaan piepie. Voor die hele Drosdebakel kon sy gou self gaan, want almal by die local Spur ken jou al, maar nou moet mamma liefs oral saamgaan. Maar jy kan mos ook nie jou baba en sakke net so los nie en jy kyk rond na ‘n ander simpatieke ma (mens ken hulle uit aan die donkerkringe onder die oë en ‘n gevlekte wit t-shirt) wat gou ‘n ogie oor jou sakke sal hou terwyl jy en baba en kleuter gou hol om die toilet betyds te maak. Terwyl jy by die toilet is, hou jy jou asem op dat die simpatieke ma asb. net nie ‘n front is vir ‘n sindikaat wat eintlik jou handsak steel en weghol met jou karsleutel nie. Terug by die tafel en jou sak is nog daar, kan jy weer asem haal en jou vertroue in die mensdom is herstel. Die waiter (wat obviously nog nie kinders het nie) hang soos ‘n lui vlieg om ‘n afvalpot rond en wag dat jy jou kroos net onder beheer kan kry en jou bestelling kan plaas. Dan…nes jou stuk koek en koffie kom, huil jou ouer kind omdat die seuntjie in die speelplekkie haar ballon gevat het en terwyl jy dit probeer uitsorteer, is jou baba besig om ‘n stuk koek wat hy uit jou bord gegryp het in sy mond te druk en keer jy sy hand net betyds voordat dit die koffie ook bykom. Vinnig besef jy dat tuisbly dalk net makliker gaan wees in die vakansie, want daar is een van jou en 2 van hulle (vader alleen weet hoe doen mens dit met 3, 4, 5 of selfs 6).

Die volgende dag probeer jy die “huis”-ding. Teen 8:00 is jy al reg vir ‘n middagslapie, want almal is al van 5:30 af op en wakker. Teen 10:00 het jy al puzzles gebou, ingekleur, tummy time met die baba gedoen, parkie toe gestap, Paw Patrol 3 keer gekyk, trampoline gespring, modderkoekies gebak, ontbyt gemaak en 2 stelle klere aangetrek. As jy om jou kyk lyk dit asof daar ‘n wilde Amerikaanse orkaan of dalk ‘n Spaanse bul deur jou huis is, want orals lê speelgoed, komberse, halfgekoude Marie beskuitjies, ‘n pap stuk mango en ‘n nappie wat iewers uit jou hande moes val op pad drom toe. Weereens wonder jy hoe ander ma’s gerus kry tydens ‘n vakansie waarvoor jy regtig hard gewerk het.

Wanneer manlief by die huis kom en kommentaar lewer oor hoe “lekker” jy vakansie hou en hoe “gelukkig” onderwysers darem is om so baie vakansie te kry wonder jy of jy jou kinders saam tronk toe sal moet vat as jy jou man se tee vergiftig.

Maar dan, net voordat jy dink jy gaan nooit rus nie en dat jou emmertjie nooit gaan volraak vir ‘n bitter besige 4de kwartaal nie, klim jou dogtertjie onder jou arm in en sê: “Ek is lief vir jou, Mamma” of jou seuntjie glimlag met sy 4 en ‘n halwe tandjies vir jou en lag sommer net omdat die lewe lekker is. En dan…op daardie oomblik hou die wêreld op met draai. Net lank genoeg om jou hart weer vol te maak. En jy besef dat elke dag saam met jou kinders eintlik gevier moet word en dat elke sekonde se malheid nie vir altyd gaan hou nie. En dan…vir ‘n oomblik…’n ongelooflike mooi oomblik…staan die tyd stil.

download

4 thoughts on “106. Wanneer die tyd met jou weghol

Lewer kommentaar