113. Wat die ouerskapboeke jou nie leer nie.

download (1)

Daar is op die oomblik ‘n paar van my vriendinne wat swanger is. Sommige van hulle is al lank genoeg in my lewe om te weet dat die ouerskapboeke baie idilies is, maar ‘n paar het werklik nie ‘n clue wat op hulle wag sodra babatjie eers hier is nie. Dit het my bietjie oor die realiteite van ma-wees laat dink en ek skryf hierdie glad nie om enige toekomstige mammas af te skrik nie, maar net om hulle ‘n bietjie voor te berei op die real world. 

Daar is soveel goed wat ek nie in enige boek gelees het nie. Goed wat my laat lag en soms laat huil. Die lys is lank, maar ek deel met julle my top 10 (of 11):

  1. Jou kar sal NOOIT ooit weer JOU kar wees nie. Dit is wonderlik om te dink dat jou kinders nie in die kar gaan mag eet of drink nie. Ry maar net vir ‘n week met kinders in die kar (nie eers ver nie, net skool toe en terug) en ons praat weer. Daar is op enige gemiddelde dag ‘n ou sagte Niknak/fling, ‘n pop, ‘n karretjie, ‘n onpaar sokkie, ‘n skoen (die een waarvoor jy al heel week soek), ‘n taai half-gekoude lekkertjie, ‘n McDonalds chip en ‘n paar potlode in my kar. Dan praat ons nie van dit wat onder die karstoeltjie in die diep donker grot wegkruip nie. Daar vind jy vrot halfgehapte vrugte wat in die Woolworths-sappie wat uitgegooi is, lê en groei; die melkbottel met borsmelk wat al amper joghurt is en soms selfs jou huis se ekstra sleutel.
  2. Slaap.  Ek wil amper net hier stop en lag. En weer lag. En dan weer lag. Maar omdat van julle nog nie ouers is nie, sal ek maar uitbrei. Jou kind slaap dalk (en ek bid regtig dat dit vir jou so maklik sal wees) van die eerste week af deur. Maar al sleeptrain jy en al co-sleep jy met ‘n bors in jou baba se mond, is slaap nie meer slaap nie. Jy slaap net nie meer nie. Jou baba/kind is soms 5 keer ‘n nag wakker. Myne staan soggens rondom 5:00 op. Dit is normaal om aan die slaap te raak tydens ‘n fliek of selfs tydens jou gunsteling series, want moeg is deesdae net nog ‘n byvoeglike naamwoord wat aan jou naam gekoppel bly. Gelukkig vertel ‘n kollega dat sy die vakansie met haar tieners tot na 10:00 geslaap het, so daar is weer iets om na uit te sien.
  3. Jou wasgoed hou nooit op nie. Ek wil amper skree as ek sien dat “oulike” Lisa 4 broeke en 3 tops aangetrek het omdat ek gesê het sy moet warm aantrek. Dit omdat ek weet dat ek dan al 4 en 3 kledingstukke sal moet was. Jou baba sal mors sodra jy iets skoon vir hulle of jou aantrek en jou wasgoedmandjie sal nooit weer op datum kom nie. Die boeke leer jou ook nie dat jy sekere items doodeenvoudig gaan weggooi nie. Dit is soms makliker om dit liewers soos in Frozen te “Let go” as om nog ‘n vlek met die hand te staan en uitvryf.
  4. Jy gaan met jou man baklei oor wie die meeste buk … Ja, dis reg…BUK! Want dit gaan voel asof jy die hele dag net goed van die grond af optel. Jy gaan net iets optel, omdraai, dit weggooi en terugkom om te sien daar lê weer iets op die presiese plek waar jy nou-net iets opgetel het. Ek praat nie van ‘n kombers of ‘n hemp nie. Jy sal ‘n hele bakkie Otees wat uitgeval het een vir een optel; die uitgespoegde worsie; die kop van ‘n pop; die miljoene klein knipsels van papiertjies wanneer jou kind leer knip; Lego; Lego; Lego; sokkies; bottels; bakkies;  Lego; tampons wat jou seuntjie uit jou kas uitgegooi het; nat stukke mango; Lego; een-happie-gevatde appels; en nog Lego.
  5.  Jy gaan vloek! Ja, selfs die hoogste Christene vloek. Jy gaan jou shit verloor … jou toys gaan dalk lettelik uit die kot kom. Jy gaan daarna bitter skuldig voel en dadelik teruggaan en jou kind (wat jy letterlik wou optel en teen die muur gooi) optel en vashou en sleg voel. Maar jy gaan vloek. Belowe. En dis ok.
  6. Jy en jou man gaan meer baklei as wat jy ooit gedink het moontlik is. Jy gaan op ‘n punt in die middel van die nag op hom skree…soos ‘n besetene. Hy gaan probeer om als reg te maak en jy gaan voel asof jy alles doen en hy weer voel asof jy hom nie waardeer nie. Julle gaan nie meer genoeg seks hê nie en julle gaan soms vir weke nie eers soen nie. Julle gaan voel asof julle nooit meer tyd vir mekaar of selfs net op jou eie het nie. Maar dis ok. Dit gaan verby en daar kom ‘n dag waar julle weer lekker sal wees. Solank julle nog tussen al die poefdoeke en borsvoedboobs kan lag, sal alles ok wees.
  7. Jy gaan na jou kinders verwys as monsters/etters/demone/wetters/apies/fokkertjies/duiweltjies/ens. en jy gaan hulle nie minder liefhê as gevolg daarvan nie. Jou kinders gaan soms voel soos aliens en jy gaan soms voel asof hulle nie normaal is nie. Mense gaan frons as hulle dit hoor, maar ek belowe dis ook ok. Dié wat reeds ouers kinders het, het net vergeet dat hulle ook eens so gevoel het en dié sonder kinders sal nog daar kom. Jou “engeltjie/liefiekind/skattebol”-kindjie sal weer terugkom en jy het hulle net so lief soos die monstertjies.
  8. Speelgoed van hel. Niemand berei jou voor op simpel speelgoed nie. Enige iets wat musiek maak en waarvan mens nie die batterye kan uithaal nie, is hel. Ons noem dit “the gift that keeps on giving”. Ons het so ‘n simpel teddie wat liedjies sing en dit haak op die oomblik vas en hy kan nie afsit nie. Ek het hom al teen die muur gegooi, onder die kussing weggesteek en vanoggend is hierdie teddie al singend in die buitedrom op vuilgoeddag uitgegooi. Niemand berei jou ook voor op die feit dat jy op ‘n stadium uitgedroogde slime uit jou kind se hare sal moet haal nie. Ook nie dat jy sal moet Google hoe nie. Ps. Kookolie en ‘n bietjie geduld doen die trick.
  9. Jy gaan nie meer omgee oor kos nie. En Nee, ek bedoel glad nie dat jy nie meer lus gaan wees vir fênsie kos in ‘n lekker restaurant nie. Ek bedoel jy gaan random stuff eet. Soos wat ookal jy van die grond af optel. Ja…glo dit of nie, maar dit gebeur. Jy gaan nie tyd of energie hê om iets vir jouself te maak nie, so jy gaan eet wat jou kinders oorlos. Dit sluit soms vreemde goed in en geen boek het my hierop voorberei nie. Jig.
  10. Bo en behalwe al die gagga goed, gee die boeke nie vir jou hierdie stukkie raad nie. Jy gaan jou mense vind en dit gaan amazing wees. Jou mense gaan nes jy deur al die goed op hierdie lys. Hulle verstaan net en hulle kinders is ook soms ettertjies. Dit is die belangrikste ding om te vind op jou ouerskap-reis … jou TRIBE! Hulle sal jou sê as jy belaglik is, sal jou in die middel van die nag met ‘n kostuum help, sal jou nie judge nie en saam met jou lag en huil. Hulle is belangrik. Hulle leer jou dat dit ok is as jy nie ok is nie en dat dit ok is as jy ok is ook.
  • Hierdie laaste punt is eintlik deel van my lys, maar indien jy nie kies om te borsvoed nie, is dit nie top 10 nie. Maar as jy borsvoed: Jy gaan soms vergeet dat jou boob nog uit jou hemp hang. Jy gaan soms meer as wat jy kan tel, ‘n kind hê wat aan jou boob is. Op ‘n stadium gaan jy glad nie meer omgee wie jou borste sien nie. Jy gaan die vreemdste goed google en jy gaan selfs vreemder goed probeer doen om dit makliker te maak. Jou boobs gaan pyn en bloei en jy gaan aan die begin 10 keer ‘n dag voel jy wil ophou. Maar jy gaan elke dag oordeel voel … maak nie saak of jy borsvoed of bottelvoed of wat ook al nie. So doen net wat jy voel reg is. En hou net aan.

Laastens, jy gaan ‘n ongelooflike ma wees en hierdie crazy-rollercoaster reis is fantasties. Dit maak ons mens en dit maak ons deel van iets veel groter! Onthou wie jy is, maar gee genoeg ruimte vir jouself om aan te pas by jou nuwe rol as mamma!

2 thoughts on “113. Wat die ouerskapboeke jou nie leer nie.

  1. ek lees al jou goed maar vandag het jy my beter laat voel oor om mamma te wees. dankie hiervoor ek het so lekker gelag en natuurlik met als saam gestem hahahahah

    Like

Lewer kommentaar