Skoolmamma gids

My vriendin by die werk se dogtertjie is vir die eerste keer die jaar skooltjie toe. Nog nie skool-skool nie, maar ‘n ordentlike kleuterskool met fondsinsamelings en “get togethers”. Vanaand is sy op pad na haar heel eerste mamma “get together”. Sy voice note my met ‘n giggel in haar stem en sy vertel my van haar gesonde snack platter en wat sy aantrek. Ek oo en aa en dink terug aan die eerste keer toe ek na ‘n “onskuldige” mamma-piekniek genooi is. Elke skool het verskillende mammas en jy leer hulle almal binne ‘n paar sekondes ken.

Die in-beheer-mamma  groet dadelik vriendelik en vol selfvertroue. Sy was of hoofmeisie of eerste span netbalkaptein of albei by haar eie skool. Sy neem natuurlik leiding en ken almal se name, want sy het die whatsapp-groepie se kontakte memoriseer. Sy gaan iewers in die aand vir jou vra waar jy betrokke wil raak en jy gaan sterk moet staan as jy moet nee sê.

Die sosiaal-wanaangepaste-mamma  vermy oogkontak en lag twee minute na die grappie. Sy werk nie saam met mense nie en maak dit duidelik dat sy nie regtig betrokke wil wees nie. Tog wil sy by elke vergadering in die hoekie bly sit en sy vra altyd een ontydige vraag wat reeds beantwoord is.

Die ek-het-nie-tyd-nie-mamma  het letterlik nooit tyd nie. Sy wil betrokke wees en het voor gestaan toe talente uitgedeel is, maar sy is altyd laat vir alles. Sy het reeds veertien balle aan die rol en die skool bal is definitief nie nommer een nie.

Die klakous-mamma weet net hoe om elke fout uit te wys. Sy dra nie regtig by tot die groei van enige iets nie, maar huiwer nie om die donker wolkie oor elke sonskyndag te trek nie. 

Die ek-dink-ek-kan-als-doen-mamma  bied aan om met alles te help. Sy is ‘n “pro” in alles, maar wanneer dit by die werk kom, lyk dit maar redelik amateur. Meeste van haar projekte realiseer nooit nie en sy word na die derde mislukte poging in beheer gesit van die hotdogstalletjie.  

Die whatsapp-groepie-skim-mamma praat nooit op enige groep nie. Sy ry self as dit reën met haar sonbril op en ken niemand se name nie. Haar kind hou nooit partytjies nie en jy sal haar nooit ooit by ‘n skoolvergadering sien nie.

Die ek-is-net-hier-vir-die-wyn-mamma is gewoonlik reeds een glas voor die res. Sy sê maklik JA en hou van enige werkie wat nie te veel verantwoordelikheid verg nie. Sy het altyd ‘n groepie mede “wyn-mammas” wat saam oor stout grappies lag.

Die gesonde-snack-mamma bring net vars of tuisgemaakte snappies. Haar kind is intolerant vir iets en kry groen smoothies vir pousekos ingepak. Hierdie mamma is gewoonlik in ‘n gymbroek en het geen grimering nodig nie.

Die ek-werk-nie-mamma is altyd bereid om briefies te vou of winkel toe te ry vir die laaste goedjies. Al haar gesprekke begin met “ek weet nie hoe jy dit doen nie…” en eindig met “ek werk eintlik baie harder as toe ek gewerk het.”

Die nie-my-eerste-rodeo-nie-mamma het reeds 2/3/4/5 kinders op skool of klaar deur skool. Hulle ken elke onderwyser op die naam, weet wat in elke kwartaal moet gebeur en weet waar die spesiale Ouer Verteenwoordiger voorskote in die klubhuis gebêre word.

Tussen al die klomp mammas, vind jy op een of ander vreemde manier jou plek. Jy leer om net genoeg JA te sê sodat die onderwysers darem weet wie se ma jy is. Maar jy leer ook om net genoeg NEE te sê om jou eie kop bo water te hou. Jy leer dat sonder mammas en pappas se bydrae (byde fisies en finansieel) daar nie veel by publieke skole gebeur nie. Jy leer dat om ‘n skoolmamma te wees veel rowwer is as wat jy gedink het en jy het skielik meer respek vir jou eie ma. Jy leer baie vinnig wie jou mense is en dat jou “tribe” jou deur alle krisisse sal kry. Dat dieselfde mamma wat jy gedink het glad nie jou soort mens is nie, juis is wat jy langs die krieketveld nodig het.  Jy gaan leer dat jy uniek is en dat elkeen van dié mammas nodig is om balans te bring in ‘n mal wêreld. Maar meeste van alles gaan jy leer hoekom jy die beste ma vir jou kind is.

So as jy vanaand jou eerste mamma-kuier het, gaan met jou snack platter (tuisgemaak of die pak gekoopte kolwyntjies) en gaan wees net JY! Want JY is wat jou kind nodig het en JY is wat jou kind se skool nodig het. Herken jy van die mammas en watter mamma is jy?

128. Genoeg


Die wêreld van vrou wees gons omtrent deesdae van die woordjie “genoeg”

“jy is goed genoeg”

“ma-genoeg”

“vrou-genoeg”

My pa het onlangs iemand anders se mooi storie van “genoeg” op Facebook gedeel. Dit gaan kortliks oor ‘n pa en dogter wat mekaar groet met die woorde “Ek wens vir jou genoeg.” Toe ‘n vrou langs hulle die pa daaroor uitvra, toe sê hy:

Ek wens jou genoeg son om jou lewe op te helder.

Ek wens jou genoeg donker om die son meer te waardeer.

Ek wens jou genoeg lag om die trane mee af te vee.

Ek wens jou genoeg trane om die vreugde mee te vier.

Ek wens jou genoeg voorspoed om jou lewe te verryk.

Ek wens jou genoeg teëspoed om jou lewe te begryp.

Ek wens jou genoeg liefde om haat weg te dryf, en so gaan dit aan.

Vir ‘n paar dae loop ek nou al rond met hierdie storie in my hart. Wat is genoeg vir my? En wanneer ons sê ons is “genoeg” gee ons regtig die korrekte waarde aan die woordjie. Maak ons seker dat wanneer ons GENOEG gebruik, dat ons ook die sleg deel? Dat ons ons kinders blootstel aan GENOEG van alles … die lekker en die bitter.
Vandag is my wens vir jou en vir my GENOEG.

Genoeg siekte om die gesonde dae te waardeer.

Genoeg gesondheid om die lewe ten volle aan te pak.

Genoeg armte om elke sent te vier.

Genoeg rande om nog ‘n vleisie te kan braai.

Genoeg verveeldheid om die opwinding te koester.

Genoeg pret om saam te kan lag.

Genoeg isolasie om die ware van opregte vriendskap te besef.

Genoeg tyd saam om mekaar werklik opnuut te leer ken.

Genoeg afstand om mekaar gesond te hou.

Genoeg drukkies om te wys jou hart het dit steeds nodig.

Genoeg.
En waar dit dalk voel dat jou ‘genoeg’ op die oomblik net aan die donker kant dip, wens ek vir jou ‘n gebalanseerde skaal van genoeg. Net genoeg … genoeg goed, maar ook genoeg sleg. En hoe lekker om te weet dat net God weet wat jou genoeg is en net Hy kan dit vir jou gee. Hou vas, want HY is genoeg. Vir my en vir jou.

127. Die blou Le Creuset koppie

Daar is twee goed wat jou as Afrikaanse vrou hoog op die styllys sit:

1. Carrol Boyes slaailepels

2. Le Creuset enige iets

Vir waar dit vandaan kom en hoe hierdie twee name op die lys gekom het, moet jy maar by Nataniel gaan aanklop, maar as jy wil lyk of jy dit “gemaak” het by jou Afrikaanse boekklub/tuinklub/wynklub/vrouediens is hierdie die 2 items wat jou daar sal kry. En party probeer jou flous met ‘n soortgelyke koppie of lepel van Checkers, maar daai klein skrif onder, is wat werklik jou waarde bepaal.

Ek self gee nie werklik om oor hoe hoog of liewer hoe laag ek op hierdie ranglys lê nie, maar tog iewers diep binne wens ek ook jare al vir R200 se ‘n blou Le Creuset koppie.Toe ek verlede maand dié einste blou koppie as geskenk by een van my matrieks kry, kon hulle glad nie verstaan hoekom ek skielik meer korrek praat en regopper loop nie, want sien… hulle is meestal Engels en sal moontlik nooit verstaan van vrouwees in Afrikaanse kultuur nie.

My man het my vreemd aangekyk toe ek tekere gaan oor hierdie amazing koppie wat hy nooit mag gebruik nie en mooi moet was. Hy het gelag vir die fêncy koppie tussen ons blikbekers op die rak. En toe ons verlede week by pelle gaan kuier met ‘n hele reënboog Le Creuset koppies het hy dadelik my oë gesoek vir ‘n steelglimlag.

En vandag toe ek met regop skouers uit my spesiale koppie drink, vang dit my. As God se stempel op jou hart is… al is dit hoe klein geskryf, is jy ook ‘n Le Creuset koppie. Jy gee waarde met jou woorde. Jy is kosbaar en smaakvol. Jy staan uit bo die blikbekers en al is jou funksie dieselfde, weet mense jy is anders, want jy is uitgekies en spesiaal. Nie almal verstaan jou doel nie, maar jy is die duur prys werd. Elke sent daarvan werd!

Mag jy vandag jou waarde besef. Mag jy jou kop oplig.

Want… Jy… Jy is Le Creuset!!

126. Die groot verlies!

Verlede naweek het ek ‘n groep 16-jarige meisies afgeneem vir ‘n “friendship-shoot”. Hulle was mal en sorgvry. Hulle het gelag en was laf. Hulle was mooi, sonder make-up en hulle was maer. Hulle was opreg en vol lewe…net soos dit hoort. En toe iewers in die middel van die alles, hoor ek dit: “Steek net my maag weg!” “Nee, my arms!” “Ek is te vet!”

In matriek het ek alles geëet wat ek wou, maar ek het elke dag gedans en elke dag geoefen. Ek het nooit gedink aan “carbs” of vette in my kos nie. By my matriekafskeid het die dominee my ma gevra of ek ‘n eetsteurnis het, want ek was SO maer. Borsbene wat uitsteek en my kop het groter gelyk as wat reg is. Tog het ek in ‘n boardshort geswem, want my “bene is HUGE”. Ek was gelukkig met my maag en arms, maar my bene. Nee.

Op Universiteit het ek ver ente klas toe geloop, maar ophou dans. My kop het stelselmatig meer in proporsie gelyk en teen my 4de jaar het ek al 10 kg opgetel. Steeds was ‘n bikini sonder ‘n kortbroek uit en terwyl ek in die spieël kyk, het ek net die foute gesien…ek het veral op my neus en ore gefokus, maar die bobene was steeds ‘n issue.

Toe begin ek werk. Ek was heeltyd besig, maar ek het meer bier gedrink en minder geloop. Binne ‘n jaar in ‘n half was ek op met nog 8kg. Toe ek hoor my sussie trou in Cyprus, het ek dadelik by Oom Leon, met sy pt broek en fluitjie om die nek, se gym gaan draai en hy en een of ander USN pilletjie het my gehelp om 7 van die 8 te verloor. Ek was hartseer oor daai 1 kg. Ek wou so graag weer lyk soos ek op universiteit gelyk het.

En so, deur die jare, het die gewig maar net bly kom. Ek het elke nou en dan ‘n sweetsessie, ‘n Zumbaklas, ‘n Taebo video of ‘n paar situps gedoen en hier en daar ‘n shake of ‘n pilletjie probeer. Maar ek geniet kos en ek hou nie van draf nie. Toe besluit ek dat ek sal wag tot na kinders. Want wat help dit ek kry my lyf reg en dan moet ek weer van voor af begin na die swangerskappe. Dit het goed geklink, maar tog sit ek vandag hier met my jongste al amper 3 en steeds het ek nog niks weer aan my lyf gedoen nie.

Vandag spring hierdie foto op my Facebook memories. Dis 12 jaar gelede in Cyprus op ‘n boot geneem net voor my sussie se troudag. Ek was so kwaad oor daardie 1 kg wat ek nie betyds kon verloor nie, dat ek nie sonder daai rompie wou loop nie. Nou kyk ek daarna ek lag kliphard oor daai EEN kilogram. Ek wens ek kon weer destyds sonder issues in daai mooi blou water spring. Ek wens ek het in matriek al die boardshort verbrand. En voor ek dit weet preek ek vir die 16 jarige meisies.

Jy is mooi! Nes jy is! Jou gewig maak nie van jou mooier nie. Jou gesondheid is belangrik, maar om jou kop te breek oor ‘n kilo hier of ‘n kilo daar is meer van ‘n VERLIES as die gewigsverlies waaroor jy jou so kommer. Dra daai bikini! Swem sonder ‘n kortbroek! Spring sodat jou maer maag wys! Let go! Dis nie ‘n kompetisie nie!

En toe, preek ek sommer vir myself ook. Wie gee werklik om? Wat help die 28 dae se uithonger nou eintlik? Wil ek gewig verloor? Ja! Sal ‘n maerder lyf my help om beter oor myself te voel? Nee! Want toe ek 30 kg ligter was, het ek ook net die foute gesien. So miskien is die skaal nie die probleem nie, maar die kop dalk.

So vanoggend toe ek in die spieël kyk en sien dat my bene uiteindelik nie meer ‘n issue is nie, want my hele lyf het nou bygekom, kan ek net glimlag. Gaan ek die jaar in my swembroek swem? JA! Gaan ek dink aan wat ander dink? JA! Gaan dit my pla? NEE! Want hey…ons is vrouens. Ons sal nooit tevrede wees met ons gewig nie en ons sal altyd worry oor wat ander van ons dink. Maar as ons toelaat dat dit ons van die lewe weghou, is dit die grootste verlies! 

125. Eerste dag terug.

IMG_20200630_073156

Volgende week begin my dogtertjie weer met skool en vandag het die skool ‘n oriëntasie sessie vir die gr. R’s gehad. Hulle het voor die tyd ‘n mooi video gestuur wat presies wys hoe dinge gaan werk. Ons het die afgelope paar weke gepraat oor hoe dinge verander het en hoe dit nou gaan wees. Ons het cute stories gekyk oor maskers en het ‘n boekie gelees wat baie eenvoudig vir die kleintjies op hulle vlak verduidelik hoe als werk. Ons het geoefen hoe om met die maskers te speel. Die skool was ongelooflik en het mooi kommunikeer en ons het geweet presies hoe dit gaan werk.

Vir die laaste week tel sy al die dae af om skool toe te gaan en is super opgewonde. Sy het gisteraand al haar klere gekies vir vanoggend en Snow (haar hond wat tydens lockdown “gerescue” is) moes ook ‘n masker hê, want hy sal haar beskerm.

Toe ons by die hek inry was sy nog borrelend. Maar toe sy die onderwysers met face shields en maskers by die ingang sien, het sy my hand skielik stywer vasgehou. Sy was tjoepstil terwyl ek dit “lekker” en “fun” laat klink om deur die stappe te gaan. Sy het omgekyk toe hulle instap, want dis waar mamma haar moet los. Ek kon die vrees voel en toe ek haar ek-is-bang-o-hel-mamma-help-my ogies sien, moes ek vinnig omdraai sodat sy nie my trane sien nie. Het ek haar nie genoeg voorberei nie? Gaan sy ok wees? Sal sy aanpas?

In die kar dink ek terug aan my eerste dag terug by die skool na inperking en ek herinner myself dat ek (as grootmens)2 keer gehuil het. Dis vrek scary. Dis oorweldigend.  Dis vreemd. Dis onnatuurlik. Dis nie hoe ons is nie. En die ergste van alles is dat mens nie kan drukkies gee nie. Ek kon sien dat my dogtertjie se juffrou haar net ‘n drukkie wou gee. Ek kon sien dat dit al was wat my dogtertjie wou doen. En dit suck!

‘n Paar uur later kry ek foto’tjies van haar juffrou. Sy het vir hulle monstertjies gemaak en almal het hulle eie plekkie met hulle eie goedjies. Ek weet hulle is veilig, maar ek is steeds bekommerd oor hulle hartjies. Ek hoop en glo dat hulle weer gaan huppel. Weer gaan kossies deel. Weer gaan drukkies uitdeel. Weer gaan speel.Ek troos myself dat kinders vinnig aanpas en dat sy seker al reeds ok is met die situasie. Ek weet dit gaan beter raak en ek weet dit gaan ok wees, maar vandag is hierdie mamma hart seer. En vanmiddag gaan ons ekstra drukkies gee. Sommer baie.

 

IMG-20200630-WA0003

124. Hoe ‘n prem baba my op Covid-19 voorberei het.

10428583_10154990117505179_4416678339036061921_n

Tydens hierdie inperkingstyd het ek baie gedink. As ek eerlik is, het ek heel moontlik veels te veel gedink. Maar hierdie naweek toe my klein 850g dogtertjie SES jaar oud word, het ek uiteindelik besluit om al dié gedinkery neer te pen.

Ek het nooit vir ‘n oomblik gedink dat ek die lesse wat ek tydens ons NICU en premtyd geleer het, ses jaar later weer gaan gebruik nie. Maar hier is ons weer. Niks met premature geboortes of babas te doen nie … maar hier is die lesse wat net weer vasgelê is tydens hierdie tyd:

  1. Handewas is belangrik. Ek onthou nog soos gister hoe my hande klein skeurtjies gekry het van al die handewas toe Lisa klein was. By die deur van die hospitaal, binne die NICU, by die kamer, by die broeikas, voor jy haar optel, en en en. Die reuk van die alkoholreiniger het my neus laat brand en ek het nooit ooit gedink ons gaan vandag, 6 jaar later weer dieselfde prosesse deurgaan nie. Voor die winkel, voor jy aan die trollie vat, in die kar, tussen klasse, by die huis. Elke keer bring die reuk van die alkohol soveel herinneringe terug.
  2. Immuunstelsels moet sterk wees. As jy 850g weeg het jy omtrent geen immuunstelsel nie. Dan kan alles waaraan jy blootgestel word, lewensgevaarlik wees. Ons moes ons babatjie in “watte” toedraai om te verseker dat sy eers sterk genoeg is voordat ons haar aan die buitelewe blootstel. Vandag is ons opnuut bewus van ons immuunstelsels. Is ek sterk genoeg om dit te oorleef as ek siek word? Is my familie sterk genoeg? Is geloof genoeg? En dan net vir ingeval, pop ons maar ‘n ekstra gummyvit of ‘n ekstra bruistablet om net bietjie te boost.
  3. Soms werk jou planne nie uit nie. Terwyl ek na mammas kyk wat treur oor hulle ‘n driveby babyshower moes hê of wat huil oor hulle nie maternity foto’s kon laat neem nie, het ek soveel meer meegevoel. Ek verstaan. Ek weet hoe dit voel. Ek was ook daar. Dit SUCK om nie jou baba met jou vriende en familie te kan deel nie. Dit SUCK om na ander mense se mooi foto’s te kyk en jy sit net met ‘n paar selfies. Dit SUCK dat jy nie ook ‘n mooi oggendtee vol liefde kon hê nie. Dit SUCK! En jy mag kwaad wees. Al sê almal “jy kan bly wees jy het ‘n baba” of “Ten minste het jy…”, mag jy hartseer wees. Ja, jy kan ook perspektief gebruik om jou beter te voel, maar laat jouself toe om te VOEL wat jy moet voel. Anders verander dit in bitter en dit proe bitterlank bittersleg.
  4. Mense is net mense. Ons sit baie keer ons vertroue in mense. En dan voel ons teleurgesteld wanneer mense net mense is. Almal se lewens is besig en almal ervaar verskillende vlakke van trauma. Soms wil ons hê mense moet daar wees vir ons en dan is hulle nie. Soms soek ons ‘n spesifieke respons op ‘n vraag en dan kry ons dit nie. Soms sê mense goed wat seermaak alhoewel hulle dit glad nie bedoel het nie. Soms is mense net mense en ons self is ook net mens. Soms moet ons net weer ons eie menslikheid in ag neem voordat ons mense kruisig oor hul eie menslikheid.
  5. Hospitale is vreesaanjaende geboue. Ek was nooit voor Lisa bang vir die hospitaal nie. Ek het geweet dis ‘n plek wat gesond maak en ‘n plek waar superhelde werk. Maar nadat Lisa vir die eerste keer ontslaan was, was ek so bang dat sy siek raak. Ek het geweet dat hospitalisering sou beteken dat sy weer vir haar lewe sal moet baklei. En ek het hospitale soos ‘n pes vermy. Nou, 6 jaar later, is ek so bang ons raak siek (nie Corona siek nie, net gewoon siek) of iemand breek ‘n been of iets. Ek is weer bang vir die hospitaal en ek bid en vertrou weer dat ons nie binnekort ‘n hospitaalbesoek gaan benodig nie.
  6. Dis ok om nie ok te wees nie. As jy enigsins soos ek is, moet ek hierdie sin gereeld vir myself sê. Ek haat dit om nie ok te voel nie. Ek haat dit om emosioneel en “vulnerable” te voel. Ek het tydens Lisa se reis baie so gevoel. Soms net heeldag gesit en huil. Nou vir die eerste keer na 6 jaar het ek weer sulke dae. Dae waar woorde nie kan verduidelik wat in jou hart aangaan nie. Waar onsekerheid jou hele lewe oorneem en jou glimlag kom steel. En keer op keer moet ek vir myself sê dat dit ok is om nie ok te wees nie. Jip, en herhaal.
  7. Gebed is magtig. Nooit het ek God se hand letterlik so beleef soos in ons 2 maande in die hospitaal nie. Tot nou. Al glo mense wat, sien ek vandag weer hoe baie krag daar in gebed is. Ek hoor van vriende wat wonderwerke in hulle besighede beleef. Ek sien God se hand van seën in my twee kinders. Ek ervaar die vrede van sy beloftes terwyl ek weer vir ander bid. Bemoedigende boodskappies tussen vriende (en selfs tussen vreemdelinge) bring weer hoop en lig in donkerte. Bid. Bid vir jou familie. Bid vir jou vriende. Bid vir jou omstandighede. Bid vir genade. Bid vir siekes. Bid vir armes. Bid net.
  8. Soms gebeur slegte goed vir ‘n goeie rede. Nooit ooit sou ek kon dink dat daar uit die trauma van Lisa se geboorte soveel goeie goed sou vloei nie. Ek kon net die sleg sien, maar nadat die stof gaan lê het, kon ek terugdink en besef hoe ongelooflik dit eintlik was. Tydens die inperking, het ons weer opnuut begin leef. Ons het saam gespeel. Saam geleer. Saam gebid. Saam gesels. Saam gebak. Saam gekook. Saam gelag. Saam gehuil. Die kleinste goedjies het ons genot gebring. Ons het nuwe waardering vir goed wat ons as vanselfsprekend ervaar het. Ons moes dinge nuut doen en aanpas en nuwe maniere vind om allerdaagse take te voltooi. Ons is in ‘n mate weergebore. En ons het weer ‘n kans om oor te begin. As dit nie ‘n goed genoeg rede is vir hierdie virus nie, dan weet ek nie.
  9. God is in beheer. Soveel keer probeer ons dinge self doen. Ons probeer sterk wees. Ons probeer ons lewens, ons werk, ons familie en ons gesondheid beheer en skielik moet ons dit laat gaan. Ek moes heeltemal laat gaan die middag toe my plasenta geskeur het en daar net bloed om my was. Covid 19 het die wêreld waarin ons so gemaklik klaarkom se plasenta geskeur en ons moet almal nou vir suurstof baklei. Ons kan dit nie alleen doen nie. En vandag leer ek weer volkome dat GOD in beheer is. Heeltemal.

Hierdie virus gaan maak dat sommige van ons nes prem babas op ventilators moet gaan. Van ons gaan ook suurstof nodig hê. Party van ons gaan lank in die hospitaal wees en van ons gaan harder moet baklei om ons longe te voel beweeg. Maar ek weet ook dat ons weer sal asem haal. Vars asem. Sonder maskers. Maar vir nou, moet ons eers wag, eers gehoorsaam wees en eers sterk staan.

images

123. Mindfulness

IMG_20200422_133703_127Vandat die skool gesluit het, voel ek bietjie asof ek besig is om in ‘n smoothie te verander: ‘n Klomp goed saam in een houer gegooi en dan geblend. In ‘n miljoen stukkies totdat net ‘n papperige halfdik-halfslap mengsel oorbly. Een wat jy drink omdat jy gewig wil verloor, maar dit proe glad niks lekker nie.

Ek moet skielik mens, ma, vrou, huishulp, kleuterskooljuffrou, wetenskaplike, ondersteuningspan vir my essential working man, dramaturg, baba-oppasser, kok, gimnastiekafrigter, kunstenaar, entrepreneur, graphic designer, online juffrou, homeschooling extraordinaire, bakker, spanbouer, remote learning specialist, kreatiewe genie, positiewe vriendin, games developer, sielkundige, researcher en spelterapeut wees.

Nou, meeste ma’s is al hierdie en nog meer op ‘n normale dag…mooi in stukkies opgesny soos ‘n lekker vrugteslaai. Wat is dus nou so vreemd? Wel, nes die smoothie, kom die papperige besigheid wanneer jy alles… elke dag… vir die hele dag… op een slag… in een huis moet wees. Dan, net om dit regtig in ‘n gemors te verander, gooi jy hier al die druk wat jy op jouself sit om nog perfek ook te wees deur als wat jy op sosiale netwerke sien by.

Gister is daar ‘n mindfulness sessie vir ons as personeel gereël. “Great!” dink ek. Perfekte geleentheid om net stil te raak en van die papperigheid ontslae te raak. Heel oggend gaan dit woes en ek laat 5 minute voor die tyd weet dat ek nie die sessie sal kan maak nie. Nie met my twee monsters nie.

Wonderbaarlik raak almal rustig en ek skakel in op die Google Meet sessie. Die man se stem maak my sommer rustig en ek sit regop met my rug teen die stoel en my ken effens gesak nes hy verduidelik. Ek haal twee keer diep asem. In en uit. In en uit.

“MAMMA!!!! BLOED!!!” is al wat nodig was om my foon neer te sit en te hol. Twee diep asemskepoomblikke moes maar genoeg wees om my mindful te kry en so word ‘dokter’ by die reeds ellelang lys titels gevoeg.

Een ding is seker, smoothies is nie vir my nie. Gee terug my vrugteslaai!

122. My kind skree alweer

download (2)Daar is ‘n wonderlike fase in elke kind se lewe waar hulle emosies uitdruk deur net te skree. Oor alles. Of jy nou Nee sê vir nog ‘n koekie voor aandete (nadat jy reeds 3 gegee het net om die kos klaar te kry) en of jy nou hulle vuil nappy wil ruil. Of jy Nee sê vir die idee om die grassnyer en die lead in te pak skool toe en of jy doodeenvoudig die besem van die grond af optel. Jou oulike gesiggie verander in ‘n histeriese dinosourus bloot omdat jy iets doen wat anders is wat hulle in hulle klein koppie afgemaak het dat dit gaan wees. 

Dian is nou in hierdie fase en vir een of ander rede voel dit vir my erger as wat Lisa was. Lisa was koppig, maar ek onthou nog dat ek gedink het sy is nie “terrible two” nie en dat sy eintlik meer op 3 so geraak het. Maar anyway, miskien was sy so en my brein het dit dalk net geblok. Maar dit voel vir my of klein Diantjie net die hele tyd oor alles meltdowns het. Hy huil die HELE tyd. En dan na ‘n paar sekondes (voel soms soos minute) en ‘n stywe drukkie dans hy weer en lag en speel asof niks gebeur het nie. 

Vanoggend het hy ‘n totale vloermoer gegooi omdat ek (reeds 5 minute laat) nie wou toelaat dat hy die poolstok in die kar laai nie. Dit is om self van te skree. Ek weet dit gaan oor uitdrukking van hulle eie stem en oor boundaries en en en en, maar vir enige mamma is dit om van mal te raak. En dan, as julle huishouding enigsins so chaoties soos myne in die oggend voor werk is, loop dit uit op ‘n bakleiery tussen ma en pa. Tussen pa en die honde. Tussen sussie en ma. Tussen pa en boeta en sommer tussen ma en die kat ook. En soos jy met ‘n donderwolk by die deur uitstap omdat jy laat is … en skuldig voel oor jou kortaf hap voor jou man by die deur uit is … en wens jy kon meer liefde en geduld hê … en sommer wens jy hoef nie heeltyd te baklei nie, glimlag jou seuntjie wat nou net histeries was en die dinosourus verander weer in die oulikste klein dingetjie. 

Lisa sit rustig in die kar en wag en toe hy uiteindelik in sy stoeltjie is sê sy net rustig: “Ai, boetie. Jy huil alweer oor niks. Dis ok, boeta. Moenie oor niks huil nie.”  Mag ek (en jy as jy ook deur hierdie fase gaan) vandag Lisa se wysheid en kalmte hê, want O hel, anders gaan hierdie mamma dit ook verloor. May the force be with you! Ons is almal saam in hierdie crazy ma wees ding!

121. Langs die tennisbaan.

images (5)

Ek speel nie tennis nie. Ek het wel toe ek jonger was. Dit het egter op ‘n ramp uitgeloop toe my geliefde hamster dood is terwyl ek op ‘n tenniskamp vir belowende spelers was. Na hierdie traumatiese verbinding met tennis het ek my tennistekkies vir dansskoene en netbalballe verruil. Tog, is ek die tennisbestuurder van my skool se tweede span en elke Maandag ry ons oor die berg vir ‘n tenniswedstryd.

Elke week pak ek ‘n pakkie merkwerk in om hopelik langs die baan gemerk te kry. Maar elke week daag God op. Onbepland, sonder dat ek dit inisieer en net soos hy altyd by my arriveer in ‘n “TA-DA…hier is ek” oomblik. Snaaks hoe Hy soms vreemde mense gebruik om op vreemde plekke met ons te kom gesels.

Die eerste week was ons by Groenpunt en terwyl ons wag vir almal om klaar te speel, vra een van die seuns my of ek dit geniet om ‘n ma te wees. ‘n Moontlike vinnige antwoord loop uit en verander in ‘n 30 minute gesprek oor geloof en ouerskap. En die beste van alles was dat ek nie die een was wat gebabbel het nie, maar die seun wat my bly uitvra het oor alles. Terug by die skool bedank hy my, want hy sê hy het nie ouers met wie hy kan praat oor sulke goed nie en dat hy nou werklik verstaan hoe geloof in ouerskap en huwelik werk en dat hy nou ook eendag ‘n pa wil wees, maar definitief eers as hy in ‘n huwelik is met iemand wat dieselfde as hy glo. Ek het in die bakkie geklim en die radio was aan. Die liedjie wat gespeel het was: “Aint no mountain high enough”… op 5fm. Jip… daar is dit.

Verlede week is ons by Rondebosch en ek word verwelkom deur ‘n vriendelike warm juffrou wat my sommer in ‘n drukkie omhels. Sy borrel en ek weet eerlik waar nie hoe ons oor geloof begin praat het nie, maar daar gesels ons ‘n hond uit ‘n bos uit terwyl die balle links en regs en links en regs oor die net voor ons beweeg. Iewers begin ons gesels oor ons “insecurities” en skielik spreek sy lewe oor iets in my hart waarmee ek worstel. Sy sê: “Bid net dat God jou intensies sal reghou en dat Hy in beheer is. Want ons kompeteer nie met ander vroue in ons lewe nie, maar ons is susters. Almal met ons eie unieke eienskappe, talente en hartsbegeertes. Solank jy joune in Christus uitleef en jou intensies reg is, sal jou hart en boodskap ook reg oorgedra word.” Ons gesels aan en begin oor kerk en sommige tradisies praat en ek sê weer iets wat haar aanraak. Daar, tussen die nette, het God langs ons kom sit, want waar twee of meer in sy naam is, is Hy. En daar het die Heilige Gees met ons kom werk. Ek het weggestap met ‘n hart wat vol is en ‘n glimlag het skelm oor my gesig gekruip en bly sit terwyl ons op die bus terugry.

Gister sit ek langs die juffrou by Jan van Riebeek. Ons gesels maar weer oor ditjies en datjies en iewers kom dit uit dat haar man ‘n dominee is. Sy is 30 en hy 31 … en BOEM, daar tref my tradisionele vooroordeel my in die gesig. Iewers in my kop het dit vasgehak dat dominees nie jonger as 50 moet wees nie. Dat hulle iewers moet wegkruip tot op mid 40 en dan iewers net begin preek. Simpel hoe mens dink, maar ek moes regtig hard werk om haar as dominee se vrou in te sien op 30. En daar, weereens onverwags kom werk God in my hart. En ons gesels oor kerk en God en hoe hy deur ons as “jeug” (en ek weet ek is al eintlik al oor die draad, maar dis asof my broekspyp vasgehak het hier en ek seker altyd gaan sukkel om dit los te kry, want my hart voel nog soos “jeug”) werk.

Volgende week gaan ons Bishops toe en ek kan skielik nie meer wag nie. Wat gaan God die keer vir my kom sê? Ek is so dankbaar dat kerk deesdae nie net tussen die mure van ‘n ou gebou met ‘n toring plaasvind nie, maar dat kerk oral om en in ons is.

Hoe praat God met jou? Is dit in die kar soggens op pad werk toe? Is dit wanneer jy in die natuur is? Is dit tydens stiltetyd of wanneer jy omring is deur mense? Hoor jy nog Sy stem en sien jy nog Sy hand in jou lewe?

 

 

 

120. Mmmmm…

c4dac44e349bb6d7b9036720db64222b--disney-disney-disney-love

Daar is ‘n paar M-woorde of konsepte waaroor mense nie graag praat nie en nee, MUFASA is nie een van hulle nie 🙂 Alhoewel ek altyd MMMM…uuuu fa sa! hoor as ek daaraan dink.

Een is Menstruasie. Dit is amper ‘n vloekwoord en ons gebruik ander woordjies om daarna te verwys. “My tannie het alweer kom kuier” of “die rooi motor het by my gestop” of “dis sulke tyd” of “daai tyd van die maand”. Dit pla my al lank dat ons nie openlik kan praat oor iets wat met die helfte van ons populasie gebeur nie. So asof ons moet skaam wees daaroor. Wel, ek is oor dit. So Hey! Almal…ek het verlede week my menstruasie gehad! Ok?! Daar is dit. Ek gaan elke maand ten minste een keer die woord MENSTRUEER of MENSTRUASIE gebruik. Want dit mag nie meer ‘n taboe woord wees nie. Dit is NORMAAL!

Nog een is Mental Health. Ons moet net nie sê as ons nie ok is nie en ons mag net nie ‘n rowwe tyd of slegte periode ervaar nie. Alhoewel ons soveel daarvan lees en ons so daarvan bewus gemaak word, is daar steeds ‘n vreemde gevoel wanneer iemand praat van depressie, angs, spanning of sielkundiges. Dit moet stop. En dit stop by my … en by jou. Ek maak elke dag ‘n punt daarvan om in te skakel by my eie emosies en welstand. En alhoewel ek nie elke dag die regte besluit maak om na my self om te sien nie, probeer ek ten minste. En dit is ok om nie ok te wees nie! OK?

Dan is daar Mom’s night out! Ek het verlede Saterdag die aand “af”gevat en ‘n show saam met vriende gaan kyk. Drie mense het my gevra of my man “babysit” en twee het my gevra of dit vir my ok is om my kinders alleen by my man te los. Seriously?! Ek voel klaar so sleg om net een aandjie bietjie iets lekker te doen. Mom-guilt is reeds daar. En dan… my man is hulle PA en hy is net so deel van hulle opvoeding en opbrengs as wat ek is. So Nee. Ek voel nie sleg nie (alhoewel ek dit 3 keer in my kop moes herhaal om dit te glo) om ‘n aand af te vat nie. Ek is nie bang (glad nie) om my man en PA van my kinders te vertrou om vir EEN aand na hulle om te sien nie. En nee, dit is nie nodig om vir hom ‘n “geskenkie” te gee nie, want ons is saam in hierdie crazy “ouerskap” ding.

Die laaste woordjie is Miskraam. En hier is dit ‘n tricky plek. Miskraam is anders vir elkeen wat daardeur gaan. En as jy nie daaroor wil praat nie, want jy kan nie of wil nie, dan is dit fine. Maar om daaroor te praat is nie altyd sleg nie. Ek het verlede week net na my menstruasie (yes…I said it) ‘n miskraam gehad. Ek het nie eers geweet ek is swanger nie. Ek is ook op voorbehoed en is klaar met kinders kry. Tog na ‘n week se pyn, het die dokter bevestig dat ek wel swanger was en dat ek wel ‘n miskraam gehad het. Woes. I know. Maar toe ek daaroor praat, was mense se reaksie geskok…nie omdat ek ‘n miskraam gehad het nie, maar omdat ek dit sê. So asof mens dit nie moet sê nie. Tog, moes ek daaroor praat om self sin te maak daarvan. En in my geval is dit dalk anders, want ek wou nie nog kinders hê nie en ek was nie opgewonde oor die idee van ‘n swangerskap nie. Dit maak nie saak wat jou situasie was nie, dit is ok om te sê dat jy ‘n miskraam gehad het. Dit is ok om dit ook vir jouself te hou. Maar dit gebeur veel meer as wat mense dink, want ons praat nie daaroor nie. 

Vandag is my hoop dat ons sal praat oor die Mufasa-woorde in ons lewe. En al begin joune nie met ‘n M nie, praat daaroor. Deel jou probleme en vrese en oorkom dit. En hou op om jammer te wees oor dit wat jou ‘n vrou maak. En goed wat jou as vrou teister.  Want as VROU, is jy vir God belangrik en as VROU moet ons mekaar ondersteun en liefhê.