70. Lente in ‘n reënjas

lente 3.jpg
Lente was nog altyd my gunsteling seisoen en ek is absoluut gek oor bloeisels en die feit dat die son al skyn as ek werk toe ry. Ek raak kinderlik opgewonde as ek soggens in my bed lê en die voëltjies kwetter in die boom langs my ruit. Dis een van die groot redes hoekom ek beplan het dat Lisa in September gebore sou word…’n lekker lente-baba.

Maar soos die lewe maar vir ons “curveballs’ gooi, werk dinge mos nie altyd uit soos beplan nie. En dié naweek is ek weer daaraan herinner. Ek het gaan fliek (vir die eerste keer in 3 jaar!) en die titel van die nuwe Afrikaanse rolprent: Sy klink soos lente het dadelik my aandag getrek. Terwyl ek in die fliek sit, sak ‘n helse reënbui op die dak uit (daai middel van die winter tipe reën). Ek kon nie help om bietjie hardop te begin lag nie. Hoe ironies? Hier is ‘n fliek oor die lente wat uitgekom het in die hartjie van die lente en hier reën dit so hard dat mens skaars die akteurs kan hoor.

 

lente-1

Enter a caption

Maar is dit nie maar presies hoe dit is nie? Daardie bruid wat haar troue in Oktober beplan het om doodseker te maak dat dit nie reën nie, word wakker met ‘n donderstorm bo haar kop. Die paartjie wat met afwagting en opgewondenheid in gaan hospitaal toe, stap uit sonder ‘n baba. Die dag van die onderhoud vir jou droom werk, breek jou kar. Die ma wat haar babatjie in September beplan, se baba word in Junie gebore.

Soms wonder ek hoekom dinge met sekere mense gebeur. Daardie hoekom woordjie wat GELUKKIG nog nie in Lisa se woordeskat is nie, gebruik ons tog so baie. Hoekom moes dit met my gebeur? Hoekom kanker? Hoekom alweer? Hoekom het hy haar gelos? Hoekom so vroeg? Hoekom juis met haar? Hoekom kan dit nie beter gaan nie? Hoekom moet ons so sukkel? Hoekom juis nou? Hoekom Here? Hoekom?

En dan besef mens maar net weer. Die lewe het 4 seisoene. Soms gaan dit wonderlik en die son skyn, maar soms is dit koud en donker as mens soggens wakker word. En soms is die seisoene self ‘n bietjie deurmekaar soos nou…dit reën in die lente, of soos dié jaar selfs sneeu. En dan moet ons maar net vashou aan die bietjie son wat ons elke dag kry. Soms help dit ook om te dink dat as die son nie hier by jou skyn nie, dat dit wel iewers anders in die wêreld skyn en dat jou beurt sal kom.

God se plan is soveel groter as ons planne. Daar is ‘n rede vir die reën en daar is ‘n antwoord vir al jou hoekom-vra. Al kan jy hulle nie nou antwoord nie…hou vas, glo en vertrou dat die son wel weer sal skyn en dat jou vel lekker bruin gebak sal word in die hartjie van die somer. En as jou seisoene bietjie deurmekaar is, gaan haal maar weer daardie reënjas uit die kas uit en trek aan jou gumboots, want die keer dans ons in die reën.

 

lente-2

 

Lewer kommentaar