74. Die Grinch steel my Kersfees

Om tydens Kerstyd sonder jou man alleen saam met ‘n twee jarige te moet wees, is nogal…wel…kom ons noem dit maar ‘interessant’. Dit is asof alles wat ek gewoonlik met Kersfees assossieer net heeltemal op sy kop gedraai is. Dit voel werklik vir my of my oulike dogtertjie bietjie in die Grinch verander het.

Elke jaar raak ek opgewonde om winkels toe te gaan en vir almal ietsie spesiaals te koop. Ek geniet dit om rustig deur die winkels te stap en my tyd te neem om iets unieks vir elkeen te soek. Die jaar moes my dogtertjie natuurlik saam winkel toe. In Pick n Pay se klerewinkel is waar ek die Grinch die eerste keer ontmoet het. Ek was seker so twee minute daar toe ek sien sy raak skielik stil en gaan kruip tussen die rakke weg. Ag nee.. dit beteken net een ding! Sy het net daar tussen die bikini’s (waar net nog-nie-mammas shop) besluit dis tyd om te druk. NEE!?!? Hoe nou? Ek probeer haar optel en in my trollie laai om so gou moontlik by die badkamer te kom, maar sy klap my hand weg en skree (soos net ‘n 2-jarige kan) “los, Mamma…Lisa poefie!” Aarde sluk my in. Ek het my kop in skaamte laat sak en maar gelag en gewag dat sy op haar eie tyd klaar maak.

Tydens die opsit van die Kersboom het ek die Grinch weer gesien. Ek is vreeslik trots op my Kersboom en voel dat dit ‘n uitlating van my kreatiwiteit is. Nie die jaar nie. Danksy die Grinch is die mooi hout engeltjie nie bo op die boom nie, maar liewer ‘n klein plastiek krokodilletjie. Ek het hard probeer dink of daar dalk moontlike Bybelse simboliek aan die krokodil kan wees, maar het steeds nie een gekry nie.

1482323209006-142772673

By gisteraand se Carols, het die Grinch natuurlik weer saamgekom. Ek het vreeslik uitgesien om daardie warm, Kerstyd gevoel te kry terwyl ons Stille Nag saam met die res van die buurt in die parkie sing. Maar, nee, geen “stille” nag vir my nie. Die Grinch het besluit die boom agter die orkes is die perfekte uitdaging en ek moes haar 5 keer van die hoogste takke gaan afhaal. Elke keer met ‘n geskree en ‘n geskop en natuurlik die “slegte ma”-kyke wat daarmee saam kom.fb_img_1482261504529

Hoe het dit gebeur dat ek kon toelaat dat die Grinch bietjie vir bietjie my Kersfees kom steel? Hoekom is Kersfees nie meer vir my lekker en spesiaal nie? Ek het heelaand daaroor getop en uiteindelik vanoggend besef dat my selfsugtige idee van Kersfees juis die probleem is. Kersfees gaan nie oor winkels en Kersbome of engeltjies en Stille Nag nie. Dit gaan oor familie en oor feesviering van liefde en ons Jesus storie. En net so, sommer skielik is die Grinch weg en in sy plek, is my wonderwerk van ‘n dogtertjie en ek is dankbaar dat die Grinch my Kersfees vir my teruggegee het.

Lewer kommentaar