56. Dis KERSFEES!

IMG_1621

As ‘n klein dogtertjie was ek mal oor Kersfees. Ek kon nie wag dat my pa op die 1ste Desember die kersboom en versierings uit die garage gaan uithaal nie. Dan het ons die boom in die sitkamer opgeslaan en met moeite die liggies ontknoop en die boom versier. Ek onthou elke item…die liggies met die kersvaderkoppies, die doilie-engeltjies, die goue balle en elke keer as die presente onder die boom groei, het ons met opwinding gegiggel en skelm gaan voel wat binne toegedraai is.

My pa se werk het elke jaar ‘n groot kerspartytjie gehad. Almal moes geskenkies koop (waarvan ek toe nie geweet het nie, want ek het toe verseker nog geglo Kersvader maak die geskenke bymekaar) en voor die tyd vir Kersvader gee. Dan het hy met ‘n vreeslike gedoente met al die presente opgedaag. Een jaar was dit met ‘n brandweerwa en een jaar met ‘n hout sleë. Dié jaar was dit met ‘n helikopter. Al die kinders by die werk het nader gehol en opgewonde vir Vader Kersfees gewaai. Toe hy uit die helikopter klim, het hy iets in sy hand. Dit lyk soos ‘n houtkissie en soos hy stap roep hy heeltyd MY naam. Ek kon dit nie glo nie! Kersvader ken my naam?! Ek het skrikkerig nader gegaan en ek was geskok, senuweeagtig, bang en terselfde tyd opgewonde. In sy hande was my present…’n klein konyntjie!

Later (toe ek nie meer in Kersvader glo nie…en wanneer dit gebeur het,   kan ek glad nie onthou nie), het my ma my vertel hoe hulle gesukkel het. Ek wou niks anders vir Kersfees hê nie… net ‘n konyntjie. En wat ‘n probleem dit was om die lewendige hasie by my te kry. Hulle kon tog nie die hasie saam met die ander toegedraaide geskenke in die sak gooi nie. En hoe almal daardie dag niks met hulle duur Barbies en nuwe karretjies te doen wou hê nie, want almal wou ook skielik ‘n hasie hê. My ma het vertel hoe die hasie spotgoedkoop was, maar dit was die beste present OOIT!

Op die 25ste Desember 2013 het ons ‘n ander geskenk gekry. Ek het uitgevind ek is swanger. Dit was vreemd hoe my hart geklop het…amper nes die keer wat KersVader my naam geroep het. Ek was GESKOK. Alhoewel ek geweet het dat ons besig was om te probeer vir kinders…was dit die heel eerste maand. Ek het regtig nie verwag dat dit so vinnig gaan gebeur nie, en dit was bietjie van ‘n “o..koek, wat nou”-oomblik. Ek was ook SENUWEEAGTIG. Gaan ons dit kan doen? Hoe en wanneer sê ons vir ons ouers? Gaan almal om die tafel sien as ek nie my sjampanje drink nie? Daar was verseker ook ‘n tikkie VREES. Ek was bang vir die swangerskap. Bang vir wat die res van die familie gaan dink. Gaan hulle dink ons het te gou probeer? Gaan hulle bly vir ons wees? Wat as ons almal vertel en ons het ‘n miskraam? En dan natuurlik was daar OPWINDING. Ek en my man was vreeslik opgewonde. Ons is swanger! Ons gaan ‘n klein mensie hê!

En so is Lisa gebore en ons het die eerste 6 maande van haar lewe oorleef (hoe…weet ek nie, maar ons het dit gemaak). Vreemd dat my skoonpa wat glad nie van my kinderliefde (en dalk steeds grootmensliefde) vir hasies weet nie, Lisa se bynaam KONYNTJIE gegee het nie. En hoe ek dus vir die tweede Kersfees die beste present OOIT gekry het. Weereens ‘n klein ‘konyntjie’. En dit bring ons dan by Kersfees 2014…Lisa se eerste Kersfees.IMG_1642

‘n Goeie vriendin van my het Lisa se 3-6 maande Kersfees outfit al in Januarie by Woolies se uitverkoping gekoop. Min het ons geweet dat Lisa nog teen Kersfees nie eers in haar Newborn klere sal pas nie. Ons het maar net die bip van die pakkie gedra. Almal was skielik meer opgewonde oor Kersfees, want hierdie jaar was daar ‘n kleintjie in die familie. (In my skoonfamilie is dit die eerste kleinkind en by my familie is Lisa die eerste kleinkind wat in Suid-Afrika bly). Ons het Oukersaand by een familie spandeer en Kersdag by die ander. Nie dat Lisa dit sal onthou nie, maar sy het soveel presente gekry. Daar was weer by ons grootmense ook ‘n tipe opwinding en dit is ongelooflik hoe ‘n kind die hele gevoel rondom Kersfees weer terugbring.

Vir jare het Kersfees vir my net ‘n groot etery geraak. Ek het presente gekoop omdat ek moes en dit was nie vir my vreeslik lekker nie. Iemand het altyd baklei en dit was altyd ‘n ‘mission’ om ver te ry en in te pak en en en. Nou, met Lisa, was Kersfees weer Kersfees. Dit was weer ‘n tyd van dankbaarheid, ‘n tyd van feesvieringe, ‘n tyd van gee, ‘n tyd van hoop, ‘n tyd van liefde. Kersfees soos wat Kersfees moet wees.

Die Here het my met hierdie klein dogtertjie so geseën en ek het net weer opreg besef hoe ‘n groot opoffering dit vir God was om Jesus na die aarde toe te stuur. Dat dit die grootste geskenk moes wees. Hoe ongelooflik dit is dat daar ‘n klein babatjie in Bethlehem gebore is. In ‘n stal, sonder hospitale en mooi beddegoed. Dat daardie babatjie se pad vorentoe in baie detail beplan is en hoe daardie babatjie as ‘n grootmens vir ons aan die kruis gesterf het.

Ek hoor soveel keer dat Kersfees eintlik nie ‘n Christelike fees is nie en dat dit maar net ‘n geldmaakstorie is. En dit is dalk waar, maar Kersfees is soveel meer as net dit. Dit is ‘n tyd waar families bymekaar kom en saam kuier en lag. Dit is ‘n tyd waar mense vir mekaar geskenkies gee…en dit hoef nie duur te wees nie…dit gaan oor die gee.

Kersfees is ‘n gevoel. Dit is daardie “fuzzy” gevoel wat jou soms tranerig maak. Dit is daardie effens langer drukkie van ‘n ouma of oupa wat jy nie elke dag sien nie. Dit is die klank van Boney M in die winkels. Dit is daardie reuk van die boud in die oond. Dit is die smaak van die braaiaartappels en die trifle. Dit is die ontmoeting van sagte glimlaggende oë rondom die etenstafel. Dit is die onthou van die wat nie meer daar is nie. Dit is die aanvaarding van elkeen se gawes en persoonlikhede. Dit gaan oor die beloftes en seëninge wat ons elke dag ervaar. Dit gaan inderdaad oor ons geloof, en as dit nie Christelike waardes uitbeeld nie, dan weet ek nie.

Ek het myself daardie aand bevind waar ek in ons bed lê en bid dat Kersfees vir Lisa altyd ook so ‘n spesiale tyd met God sal wees. En dat sy dit eendag met haar kinders ook kan deel soos wat ons ouers met ons gedeel het. En ek het gebid dat ek eendag vir haar ook ‘n konyntjie sal kan gee.

Mag Kersfees 2015 vir julle almal ‘n opregte tyd wees. ‘n Geseënde Kersfees en nie net ‘n “Merry Christmas” soos die Engelse sê nie. Mag julle opnuut die Kersfeesgevoel ervaar en mag dit julle nader aan God bring.IMG_3347_resize

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar