Die doop van ‘n baba was nog altyd vir my iets waarmee ek geworstel het. Ek is as ‘n babatjie gedoop en toe ek ouer was en ek self kon kies (en dit was vir my eng NG Kerk brein…’n GROOT dag) was ek grootgedoop in die nuwe “happy-clappy” kerk waar ek myself bevind het. Ek is mal oor die idee om ‘n babatjie in te seën en dan as sy groot is, kan sy self besluit.
Toe ek my man ontmoet, het dinge bietjie verander. Hy ken nie charismatiese kerke nie en is redelik konserwatief as dit by kerk kom. Hy hou van die formele NG kerkdienste en ek is weer mal oor die informele dienste met ‘n orkes en ‘n ontspanne atmosfeer. Ek glo sterk daaraan dat mens as ‘n familie na dieselfde kerk moet gaan en na vele gesprekke, argumente, navorsing, afsprake en besoeke, het ons tog besluit om by die NG kerk in Vishoek aan te sluit.
Dit is ‘n wonderlike gemeente en daar is formele en informele dienste…dus ietsie vir ons albei. Dit is nie die stywe NG kerk waarmee ek grootgeword het nie en ek voel tog asof my hart daar hoort. Hulle het omgee groepe en dit is maklik om vinnig in te skakel. Met Lisa se koms het ons besluit om haar te doop en haar groot te maak volgens die Christelike waardes wat ons albei ken.
Die ding wat ‘n doop bietjie moeilik maak…is wanneer doop jy jou baba? Meeste mense glo binne die eerste 3 maande. Wel…dit was bietjie onmoontlik met klein Lisa. Ons het met die dominee gepraat en op die ou ent besluit om dit voor die einde van die jaar te doen…en op 30 November 2014 is Lisa gedoop.
Wat ‘n affêre! Die eerste probleem het gekom by die dooprok. Ek wou baie graag hê dat ons Lisa in ons gebreide familierokkie moes doop. Maar op amper 6 maande het die rokkie steeds nie vir Lisa gepas nie en het sy omtrent verdrink in die rok. My wonderlike kreatiewe ma maak toe ‘n ander plan. Sy kry ‘n pop dooprok en koop dit onmiddellik. Dit het perfek gepas… my poppie in ‘n poprok. En daar breek ons klein Lisa (alweer) ‘n tradisie.
Die tweede probleem het gekom by die nooi van gaste. Natuurlik was daar die familie, maar daar was soveel ander mense wat so geestelik deel was van ons ondersteuningsraamwerk, dat dit bitter moeilik geraak het om mense te nooi. Ons het besluit op die familie en direkte vriende. My broer en suster bly altwee oorsee en dit was vir my vreeslik hartseer om te dink dat hulle nie by die doop gaan wees nie. Ek mis hulle daagliks, maar op spesiale dae soos Kersfees, Paasfees, verjaarsdae, doop en so aan, mis ek hulle ekstra meer.
Ek was so verras toe my broer my bel en sê hulle wil graag kom. Al die pad uit Mauritius. Ek was super opgewonde en kon sy twee pragtige dogtertjies en my skoonsussie ook weer sien. Dit was heerlik om hulle hier te hê en ek was sommer emosioneel daaroor dat Lisa haar niggies kon ontmoet. Ons het lekker voor die doop gekuier en alhoewel die huis vol mense was, het dit so reg gevoel. Ons het op die opblaasmatras geslaap en dit het my laat terugdink aan die krismisbed by ouma en oupa op die plaas. Die diens self was vir ons baie spesiaal. Dit was ‘n kinderdiens, so die kerk was vol kinders en daar was ‘n poppekas en lekkertjies is uitgedeel. Dit was lekker ontspanne en vol bedrywighede. Die dominee het dit vir ons baie spesiaal gemaak. Hy het ‘n foto van Lisa toe sy gebore is op die projektor gesit en die hele gemeente het dadelik deelgeword van ons storie. Hy het vir ons die mooiste rooi kers gegee (sodat ons elke jaar sal onthou) en so mooi gepraat.
Hy het ons albei se ouers ook vorentoe geroep om deel te wees van die doop. So mooi idee om erkenning te gee vir hulle bydrae in ons en Lisa se lewe. Lisa was stroopsoet en het met haar groot ogies vir die mense geloer. My swaer (Lisa se peetpa) het haar vir ons aangegee en dit was regtig vir ons so ‘n wonderwerk dat ons tot hier gekom het. Elke gebed se antwoord het hier voor ons oë in ons arms gelê. En ons kon met dankbaarheid voor ons vriende en familie ‘n belofte maak om hierdie perfekte geskenk van God tot die beste van ons vermoeëns groot te maak.
Lisa is 100% ‘n wonderwerk. En Lisa is 100% ‘n geskenk van God. En Lisa is 100% ‘n werklike bewys dat Jesus lewe en dat God soveel groter is as wat ons menslik kan dink. Hoe anders as om haar nie 100% groot te maak volgens wat die Bybel ons leer nie. Doop of nie…Maar een ding is seker: Ek is ewig dankbaar dat ons ‘n lewende God het wat nog wonderwerke doen en wat gebede verhoor.
Wow wat n wonderlike geleentheid. Opreg dankbaar saam met jule vir jule pragtige en gesonde pop. God is onbeskryflik groot
LikeLike