97. Genade, genesing, geloof en God

1Q1A6039 copySoveel mense het my die afgelope maand uitgevra oor hoe anders dit is om ‘n voltermyn baba na ‘n prem te hê. Dis so moeilik om die “anders” te beskryf, want dit het soos twee heeltemal verskillende, amper onvergelykbare, ervarings gevoel. Wat ek wel weet is dat hierdie hele tweede swangerskap sowel as geboorteproses my hart heel gemaak het. Dit het genesing gebring waar ek nie eers bewus was dat dit nog rou en eina was nie.

Lisa se swangerskap was gevul met vreugde en opwinding waar hierdie een gevul was met vrees en afwagting vir iets negatiefs om te gebeur. Elke besoek aan die dokter was anders, want in plaas van bloot opgewonde wees oor wat hulle elke keer sê, was ek senuweeagtig en het die bloeddrukmasjientjie met valksoë dopgehou. Fisies was ek die keer nie so erg naar en moeg nie, ek het rekmerke gekry, maar my voete was nooit geswel nie. Die derde trimester is rof op jou lyf, maar dit was spesiaal om dit die keer te kon beleef.

Aangesien my hospitaalsak en babakamer nie eers amper gereed was met Lisa nie, het ek hierdie keer seker gemaak alles is gedoen voor 28 weke. Ons het ons maternity shoot op 28 weke gehad, die babakamer was op 27 weke gereed en ons het selfs die keer ‘n babyshower gehad. My sak was al van 25 weke gepak en ek het elke week daarna seker gemaak dat ek die keer alles in het. Hierdie klein goedjies het my soveel genot gegee. Dis die klein goedjies waarop mens uitmis met ‘n prem wat mens laat voel asof daar iets van jou gesteel is. My babyshower en maternity shoot was twee groot goed vir my en om hierdie keer die voorreg te hê om dit te kon doen, het my hart warm en vol oorloop-emosies gelos.

Die donker, koue aand van Lisa se geboorte is die keer vervang met ‘n warm, sonnige oggend. Die gejaag van die verpleegsters en dokters voor die teater het verander in rustige, kalm mediese personeel. Die koue teater is vervang met ‘n ligte, warm vertrek. Die stres en bekommerde gesigte van die teaterpersoneel het die keer dokters met grappies en ontspanne glimlagte ingehou. In ruil vir vrees het ek hierdie keer vrede en ‘n oorweldigende golf van genade ervaar.

Met Lisa het die spinaal 3 keer nie gewerk nie en moes ek toe onder algehele narkose gesit word. Dit was seker een van die goed waarvoor ek hierdie keer die bangste was. Maar God ken my hart en die spinaal het sommer eerste keer gewerk en toe die warm gevoel deur my rug afrol en my bene lam raak, was my hart ook sommer lam. Dit het veroorsaak dat my man die keer nie vir my hoef te kom ‘groet’ nie, maar dat hy langs my kon sit en my hand kon vashou. Ons kon saam in mekaar se oë kyk en saam die onsekerheid, trots, ongeloof van die oomblik en dankbaarheid in mekaar se woordelose uitdrukkings en senuweeagtige glimlagte lees.

2018-01-16 12.22.16

Die oomblik toe ek Dian vir die eerste keer sien, is deur die narkotiseerder vasgevang en dit is ‘n foto wat ek vir ewig sal koester. Hierdie vet en groot baba wat ek kon sien het trane in my oë laat skiet. Vir Lisa kon ek eers die volgende dag sien en dit was in ‘n NICU vol masjiene en pype. Dian het gehuil en was groter as net die handjie vol wat Lisa was. Die 850g is vervang met 3.54 kg. KILOGRAM is so ‘n lekker woord vir enige prem mamma. Selfs die woord is groter en vetter as ‘’gram’’.

Na die operasie kon ek hierdie keer dadelik my seuntjie vashou en borsvoed. Dit klink so eenvoudig, maar as jy 2 weke moes wag om jou eerste kind vas te hou en meer as ‘n maand moes sukkel  voor jy kon borsvoed, is hierdie goed veel groter. Dit het onwerklik gevoel en dit het gevoel asof alles net so maklik is. Ek het in daardie oomblik net heeltyd gedink hoe ongelooflik geseënd ons is.

Daar was die keer geen ver stap na ‘n NICU toe nie. Om jou kind te sien was so eenvoudig as om links te kyk en siedaar. Daar lê ‘n perfek gevormde babatjie langs jou bed…sonder pype of monitors. Ek het heeltyd gevoel dat hy HUGE is en hoe lekker dit is om ‘n vet babatjie te kon vashou is iets wat “normale”mense nie sal verstaan nie. Kuiergaste kon die keer dadelik in ons vreugde kom deel en hoef nie maande te wag om jou kind te sien nie.

Om na twee dae ontslaan te raak en om uit te stap met ‘n baba wat in ‘n karstoeltjie pas, is ook iets wat ons vir die eerste keer ervaar het. Om nie elke twee ure melk te pomp by die huis nie was ook veel makliker. Om nie saam met elke voeding ‘n spuitnaald vol medisyne by te gee nie, is soveel eenvoudiger. Al wat ek die keer moes doen was voed. Om ‘n wind uit te kry, vryf mens net sy ruggie…geen ure se sukkel met cupfeeding nie. En dan slaap hy (waarookal jy hom neersit). Lisa wou nooit slaap nie. En as sy wel slaap, was dit net op my bors.

Om op te som, ‘n voltermynbaba is MAKLIK. En ‘n voltermynbaba bring genesing wat in groot golwe op jou toesak. Dit versterk geloof en maak mens opreg weer dankbaar vir ‘n onbeskryflike, liefdevolle, groot en sterk God wat ons dien. Ja, hierdie was sowaar ANDERS…veel anders.

2018-01-16 12.20.36

Advertisements

12 thoughts on “97. Genade, genesing, geloof en God

  1. Die geboorte van ‘n nuwe mensie bly wonderlik. Ek is saam met jou dankbaar dat Lisa en jy uiteindelik sterk en gesond anderkant julle prem-ondervinding uitgekom het; en veral dat julle nou weer die avontuur op ‘n ander, maklike manier met Dian kon beleef! Geniet jou kleingoed … sommer hopeloos te gou is hulle groot.

    Like

  2. So dankbaar.. en verstaan so goed. My kleinkind is op 30 weke gebore 2 jaar terug. Sy was 6 maande in NICU…nou is my dogter onbeplan al 6 maande gesond swanger…..elke week is ons dankbaar….als loop mooi…maar 30 weke lyk nog sooo ver

    Liked by 1 person

  3. Baie geluk, eerstens!

    Ek was by met albei kinders se geboorte, die jongste by 1Militêre Hospitaal in Pretoria. Die teaterpersoneel was uitmuntend, daar was ‘n hoëtroustel met rustige barokmusiek. Ek moes beurtelings my vrou vryf of nie vryf nie, sy het baie pyn gehad, of dan die vroedvrou se voorkop afspons. Water gebreek 3vm, toe klim sy doodluiters terug in die bed. Verbeel jou. Ignore it and it will go away. Ons was van net voor 5vm in die kraamteater en hy is eers 1:13 die middag gebore. Epiduraal werk nie altyd nie, nes met die oudste. Omdat dit 1992 was voor digitale kameras en boonop ‘n militêre hospitaal, geen foto’s. Maar die oukikste “geboortesertifikaat” met hom se voetjies in pers stempelink daarop afgedruk. O, ek is deurgaans koffie en koekies gevoer. Voor die geboorte stap ‘n jeugvriendin van Kleinmond verby, sien my en kom in, sy en my wyfietipe was groot maats. Nie lank nie, of daar is ‘n hele vlytige geselskap daar binne.

    Dokters kan vreeslike goed met skêre doen en meer as net naelstringe knip. Goed dat ons mans nie kan kinders kry nie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s