73. Bang vir wat?

WEBPAGE_20161220_000516.jpg

Ek het vir lank gedink Lisa is die braafste klein dingetjie wat geen vrese het nie. Sy klim teen die hoogste tralies uit, sy speel met ons groot honde en is vol selfvertroue in alles wat sy aanpak. Maar ewe skielik het die”bang”-woordjie in haar woordeskat ingekruip.

Dit het alles begin by die akwarium toe sy haar gat afgeskrik het vir die lewensgrootte “Nemo”-outjie wat rondloop en al die kinders high 5’s gee. Lisa het vir weke daarna vir my gese: “Lisa is bang vir Nemo”. Sy het ‘n paar nagte wakker geword en selfs nagmerries gekry oor Nemo. 20160702_110718

Daarna was dit die swembad. Eers was sy mal oor water en wou nie uit die bad uitklim nie. En net skielik het dit verander in ‘n vrees. Na maande se vertroue bou, staan sy nou weer op die tweede trappie van die swembad, maar skree blou moord as jy haar wil laat swem.

En dit stop nie daar nie. My tawwe dogtertjie is deesdae bang vir alles. Sy was altyd mal oor die pikkewyne…nou nie meer nie. Sy was bitter lief vir by die see speel…nou ook nie meer nie. As sy iets nuuts moet doen…is sy sommer vir dit ook bang. Bang vir die toilet, bang vir die water, bang vir oupa, bang vir die vlieg… Bang, bang, bang.

Dit het my laat wonder hoe dit gebeur dat mens net een dag bang raak vir goed. En dit het my oor my eie vrese laat dink. Waarvoor is ek bang? En hoekom is ek bang? En hoekom is ek nie meer bang vir goed waarvoor ek wel kleintyd bang was nie? Dit het my ook herinner aan watter VREESlike ding vrees is. Dat dit jou terughou van soveel lekker dinge. As Lisa maar net vir Nemo wou high 5, kon ons langer na al die mooi vissies gekyk het. As sy maar net wil swem, sou sy ook heerlik koel gevoel het. As sy maar net iets nuuts wil probeer, kan sy dalk uitvind hoeveel lekker dinge daar buite is.

Maar hierdie kindervrese het ook tog sy plek. As sy nie bang vir die swembad is nie, verdrink sy dalk. As sy nie dink Nemo is vreemd nie, sal sy dalk nie eendag uit ‘n vreemde situasie kan vlug nie. So dit is ook seker maar net nog ‘n fase van ontwikkeling. Een wat vrek irriterend vir haar mamma is.

Maar hoekom is ek, as grootmens bang vir soveel goed as ek weet dat God self vir my se ek moenie bang wees nie? Hoekom is ek bang vir ‘n tweede swangerskap? Hoekom is ek bang om my eie passies voluit uit te leef? Hoekom laat ek toe dat vrees my ook terughou? Glo ek dan nie genoeg nie? As Lisa se pa by haar is, is sy veel brawer as wanneer dit net ek en sy is. Hoekom is ek dan nie altyd braaf as ek weet my Hemelse Pa is by my nie?

Vandag bid ek met my hele hart dat ons weer ons Pappa sal vertrou. Dat ons ons wereldse ‘ek kan alles self doen’ manier sal laat gaan, want as ons bang is vir goed, kan ons verseker dus nie als self beheer nie. Ek bid dat ons terug sal kom by kinderlike vertroue in ons Pa. ‘n Geloof wat bevestig dat Hy in beheer is. Dat Hy ons beskerm. Dat Hy na jou omsien.

Ek dink vanaand aan al die mammas wat ek ken met hulle eie vrese en ek dra julle vrese ook op. En ek moedig julle aan om weer in die swembad te swem of om die Nemo in jou lewe te high 5.

 

img-20150918-wa0003

 

 

Lewer kommentaar