114. ‘n Dogtertjie

1_xDDtujCf0MM_dopGVP2n4g

Vandag is my hart swaar. Ek is ongelooflik dankbaar dat klein Amy-Lee gevind is, maar ek is tranerig en swak. So ek kom skryf nou maar hier die hoeke van my donker kamer uit.

‘n Dogtertjie in ons Afrika-kultuur beteken al jare lank soveel seëninge. Maar nou? Nou skielik nie meer nie. Nou is dit amper ‘n “curse” om ‘n dogtertjie te hê. Elke aand bid ek nie net oor Lisa se toekoms nie, maar vir daaglikse beskerming. Dat sy nie gevat word nie, nie verkrag word nie, nie molesteer word nie, nie gemartel word nie, nie vermoor word nie. Ek wil so graag bly wees vir twee van my vriendinne wat dogtertjies verwag, maar ek kan nie wees nie. Want ek is bang.

Ek kyk na Lisa. Sy is 5 en ek voel ek moet haar voorberei op wat om te doen as sy ontvoer word. Sy het al geleer om te baklei en te skree en te skop en te byt as iemand haar wil vat. Maar ek voel ek moet haar ook leer om te glo dat mamma en pappa haar sal vind. En dat sy moet luister wat die “ooms” vir haar sê al verstaan sy nie die taal wat hulle praat of wat hulle besig is om te doen nie.

Aan die ander kant is sy 5. Net VYF. Ek wil haar nie onnodig bang maak nie. Ek wil haar klein hou en haar onskuld behou. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat glo dat sy die mag het om die “bad guys” met haar fiets en haar papierswaard te kan vang. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat glo in “vliegperdjies” wat die pienk en oranje kleure tussen die wolke maak. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat in feëtjies glo en wat “unicorns” en reënboë teken.

Amy-Lee het heelaand by my gespook. Ek kon nie ophou dink wat deur daai klein breintjie moet gaan nie. Ek kon nie help om na Lisa te kyk en te wonder wat ek sou doen nie. Ek en my man het gepraat oor wie ons sal bel as dit met ons moet gebeur. My man is bereid om tronk te gaan, maar hy sal nie rus totdat die “bad guys” weg is nie. Wat is reg in hierdie geval? Skielik is alle normale lyne geblur.

Honderde posts het uitgegaan oor hoekom “ons” net hierdie dogtertjie soek en nie ook alle ander kinders (meestal nie wit) wat ook weg is nie. Dit laat my sleg voel. Want dit maak nie saak wie jy is nie, jy is iemand se kind en almal moet gelyk gesoek en waardig wees.

Miskien is dit omdat wanneer ek na klein Amy-Lee kyk, sien ek vir Lisa. Dit is net soos toe klein Poppie so wreed vermoor is. Ek het Lisa se krulkoppie op die voorblad in Poppie se ogies gesien. Dit gaan nie oor die kleur en waardigheid wat ons daaraan of nie daaraan koppel nie. Dit gaan oor of ons daarmee kan assossieer. Ek laai elke dag vir Lisa by die skool af. Dit kon net sowel ek gewees het. My kind wat weg was. My lewe wat binne ‘n sekonde verander.

My hart bloei vir elke ma en elke familie wat al ooit iemand wreed moes verloor het. Ek kan myself nie indink nie. Ek hoop dat my vertroue in ons polisiemag herstel sal word sodat ek weer kan glo dat hulle elke liewe verlore kind sal opspoor en lewend terugbesorg aan hulle geliefdes. Ek bid vir vernuwing en dat God ons dogters sal beskerm.

God seën Afrika. Nkosi sikelela Afrika!

4 thoughts on “114. ‘n Dogtertjie

  1. Mens het nie woorde hiervoor nie. Ek wil ook sê, moenie jou kind onnodig bangmaak deur hierdie dinge vir haar te vertel nie, want ‘n vyfjarige moet nog onbevange wees. Aan die anderkant moet sy egter paraat wees…ai dis so moeilik…onskuld moet prysgegee word, omdat vieslike boewe ons land in ‘n wurggreep het.

    Like

  2. Beide my kleinkinders was byna gegryp. My dogter en skoonseun was vir seker twee jaar daarna effens versteurd. Ek freak sommer net uit. My twee stukkies fyngoud al sien ek hulle nooit.

    Die strand is honderd treë ver maar is dit ooit veilig?

    Ek het vir dekades “abuse victims” beraad en het ook detail van dinge in Bloemfontein en De Wetsdorp bekom.

    Dis

    Nie

    Meer

    Veilig

    Nie.

    Dit was ‘n Cristensendeling wat die dwangprostituut in Bloemfontein gaan red het. Vandag is ek nie meer gesond genoeg om slagoffers te beraad nie. Wie gaan hulle red?

    Like

  3. Maak maar die ouers bang en laat hulle wakker skrik. Ek het twee kinders en twee kleinkinders en al vier het al aan ontvoering ontkom, vroeg in hulle klein lewentjies. My hartslief kleindogter is agtervolg en daar was briewe van ‘n volwasse man. Polisie was ‘n nul op ‘n kontrak maar ‘n Noord-Bolandse prokureur, voorheen ‘n spegmagtesoldaat, het met die “stalker” afgereken. My eie twee is op ‘n stadium beskerm deur oud-Recce’s, 32Bn-manne en ook die Kaap se 26s en 28s. Mens roep die spesialiste in sulke tyd.

    Like

Lewer kommentaar