As kind het ek in ‘n redelike konserwatiewe, “beskermde” gemeenskap grootgeword. Ons het nie enige Moslems of Hindoes in ons skool gehad nie. Daar was net ‘n paar kleurlinge en slegs een of twee swart kinders in my graadgroep. Al ons vriende het uit sogenaamde “normale” gesinne gekom … met ‘n ma, pa, broer en/of suster. Ons was bewus van “gays” en dit was ‘n area wat vir ons vreemd was. Om ‘n sielkundige te sien was taboe en om ‘n tattoo te kry was sonde. Almal het vleis geëet en dit was onbeskof as iemand met vegatariese wors by ‘n braai opdaag.
Vandag lewe ons in ‘n wêreld waar ons openlik kan praat oor gender en oor die hele spektrum van seksualiteit waar jy jouself kan bevind. Ons gesinne is uitgebrei en gemeng. Ons leer nie net uit boeke van verskillende gelowe nie, maar ons het vriende en kollegas wat anders as jy glo en dink. Ons mag dalk moet Google vir ‘n oulike gepaste gereg as jou vegan/lactose intolerant/gluten-allergic/IBS vriend kom kuier, maar ons snoepie het deesdae selfs vegan-hotdogs. Ons lewe in ‘n ongelooflike tyd waar ons mense wat heeltemal anders as ons is, nie verdra nie, maar heelhartig aanvaar.
Gister terwyl ons huis toe ry, vra Lisa vir my hoekom haar maatjie, Yusrah , nie varkvleis mag eet nie. Die vraag het my vir een of ander rede omkant gevang. Ek het altyd gedink sy gaan hierdie vrae eers vra as sy bietjie ouer is. Dit het die wonderlike geleentheid oopgemaak om verskillende gelowe aan haar op ‘n kinderlike manier te verduidelik. Toe sy sê dat sy bly is dat sy nie ‘n Moslem is nie, want sy hou nogal van varke het ek maar net geglimlag en besluit dat ons maar weer hieroor sal moet praat op ‘n latere stadium.
So ‘n tydjie terug het Lisa vir die man agter Mr Price se toonbank “Dankie Oom” gesê. Ek was trots op die feit dat sy uit haar eie uit vir die vreemde man dankie sê. Die “oom” het dadelik kliphard gelag en gesê: “Bokkie, hierdie moffie is nie ‘n oom nie, maar liewer ‘n tannie!” Dit het dadelik ‘n gesprek oopgemaak toe ons uit die winkel stap en ek moes veel vroeër as wat ek verwag het verduidelik hoe die oom-tannie ding werk.
Dié vakansie moes ek verduidelik hoekom Janet in ‘n shack saam 6 ander mense bly toe ek ons wonderlike huishulp in die reën by die huis gaan aflaai het. Dit was ongelooflik om te kan verduidelik hoekom ons meer bevoorreg is as gevolg van ons verlede. En hoekom ons ‘n plig het om ander te help en om elke dag dankbaar te wees vir alles wat ons het.
Ek is so dankbaar vir ‘n dogtertjie wat vrae vra. Vrae wat soms vir my moeilik is om te beantwoord, want sommige van ons wêreld se wonders is selfs te moeilik vir my grootmensbrein om heeltemal te snap. Dis ook nogal moeilik om dinge op ‘n vyfjarige se vlak te verduidelik.Maar dit is vir my ongelooflik om haar van vroeg af te kan leer om hierdie dinge sonder vooroordeel te kan leer ken en haar vrae te vra. Ek is ook dankbaar vir haar aktiewe brein wat hierdie dinge raaksien en optel en dat sy WIL weet hoe dinge werk.
Ek hoop en glo vandag in ‘n nuwe generasie wat grootgemaak word deur mense wat met nuwe oë na die wêreld kyk. Ek bid dat elkeen van ons kinders vrae sal vra wat ons dalk soms ongemaklik maak en ek bid bo alles vir wysheid om dit op die korrekte manier te antwoord en te hanteer.
Ek weet hierdie wonderlike wêreld bestaan nie orals nie en dat die meerderheid van ons nog sukkel met baie van hierdie eens taboe-konsepte. Maar vandag sê ek dankie. Dankie vir verandering. Dankie vir ‘n blink toekoms. Dankie vir verskille. Dankie dat ons vooroordeel kan leer en ontleer. Dankie vir ‘n tweede kans op menslikheid. Net DANKIE!
Ja dinge het baie verander en ons kinders word baie anders groot.
LikeLike