59. OUMAS en OUPAS

e844cb0f9a3a3e3f146e8ff4e9b26cfd

Een van my gunsteling herinneringe van my kinderdae was om saam met my Ouma Lalie van die Strand kreatiewe goedjies te doen. Oupa is dood toe ek nog baie klein was en ek kan hom glad nie onthou nie. Maar Ouma het altyd vir my ietsie gehad om te doen. Ons het klippies aanmekaargeplak en gesiggies op hulle geteken en so ‘n klein klipfamilie gemaak. Ons het prentjies geteken uit verskillende strepies en krulletjies wat sy sommer vinnig op ‘n papier getrek het. Ons het saam koekies gemaak en ‘n gewone kolwyntjie in ‘n vlinder laat verander. Om by Ouma Lalie te kuier was altyd lekker en sy het altyd iets gehad om my mee te bederf. Sy het ons fliek toe gevat of ons het gaan skulpies optel. Sy het ons sirkus toe gevat of ons leer Rummie speel. Ouma Lalie is warm, vol liefde en mal oor drukkies gee.

My ander Ouma het ‘n heel ander rol in my lewe vervul. Sy was streng en meer tradisioneel. Sy het reëls gehad en daar was meer formaliteite. Ouma Lot en Oupa Jim het ver gebly en ons het hulle maar min gesien. Oupa Jim was ‘n kwaai oupa met baie liefde in sy hart. Ouma Lot was ‘n hardwerkende vrou wat al deur baie in haar lewe was. Ek onthou hoe Ouma Lot elke jaar vir ons ‘n nagrokkie by Edgars op Vredenburg gaan koop het en dan het ons heel vakansie gespog met ons nuwe nagrok. Sy het met haar hande gewerk en het ons sokkies reggemaak of vir ons konfyt gekook. Ek onthou hoe sy ‘n voorbeeld was van spaarsamig lewe en hoe sy altyd ‘n plan gehad het as dinge skeef loop. Ek onthou ook hoe sy altyd vir ons ‘n opgekrummelde noot (die hoeveelheid het met ons ouderdomme vermeerder) in ons hand gedruk het as ons in pak om te ry en hoe sy altyd met trane in haar oë gewaai het as ons wegtrek.

Lisa is gelukkig om nog twee oumas en twee oupas te hê. Oupa André en Ouma Zet (my ouers) bly nader en Lisa sien hulle redelik gereeld. Oupa G en Nanna (my skoonouers) bly bietjie verder en dit verg bietjie meer beplanning om hulle gereeld te sien. Lisa is MAL oor haar oumas en oupas. Sy roep “ouma” en “oupa” as sy hulle sien en raak sommer opgewonde as ons op die foon praat. Soms stap sy sommer na die selfoon toe en sê: “ouma”. Dan wil sy hulle bel en hoor hoe dit met hulle gaan. Albei oumas en oupas is baie betrokke en ek weet hulle is altyd daar om te help en gee so baie vir ons en vir Lisa om.

 

Nes my verhouding met my twee oumas verskil het, is dit vir my so wonderlik om te sien hoe Lisa anders is as sy by haar oumas is. By my ma is Lisa ‘n grapmaker en omtrent laf. Sy lag hard en kyk met stoute ogies rond en soek iets om kwaad te doen. Sy speel rof en sy trek aandag. By my skoonma is sy rustig en kalm. Sy kan vir lank op haar skoot sit en boekie lees sonder om te probeer snaaks wees of om aandag te probeer trek. Dit is vir my so spesiaal om te sien hoe sy op so jong ouderdom reeds verskillende verhoudings met elkeen van hulle kan hê.

Dit is ook vir my baie oulik om te sien hoe haar twee oupas met haar is. Beide my pa en skoonpa is mans wat hard werk. Hulle hou van werk en hulle doen als self. Regte MacGyver manne. En dit is vir my wonderlik om te sien hoe hierdie sterk mans, putty in Lisa se hande is. Hoe hulle so sag en speels met haar kan werk. Oupa G is maar lekker stout en hy geniet dit vreeslik as Lisa stout is. Dan kan hy hom doodlag vir haar streke. Oupa André sal ook enige iets vir haar doen en hy neem altyd die mooiste foto’s van haar. Hy sal ure met haar in sy arms stap sodat sy kan slaap en dit maak my hart so warm.

Oupas en oumas help so baie. Hulle is altyd daar as ons na ‘n troue toe gaan of as ons iets aan het. Dit is so maklik om Lisa by hulle te los en te weet hulle sal haar met hulle lewens bewaar en oppas. Dit is ongelooflik om hulle nog deel te hê van ons dogtertjie se lewe en dit maak ons lewe net soveel makliker. Oupas en oumas is ‘n absolute BLESSING!

Lisa is ook bevoorreg om ‘n hele paar oumas en oupas te hê wat nie regte oupas en oumas is nie. Almal wat vir haar lief is en ouer as 50 is, is ook volgens Lisa oupa en ouma. Sy is van kleins af al so omring deur soveel oumas en oupas en ons waardeer elke aandeel wat hierdie wonderlike mense in haar lewe het. Die wysheid, die bystand, die gebede, die ondersteuning en die liefde beteken vir ons so baie. Ek hoop dat hierdie spesiale oumas en oupas nog lank in ons lewens sal wees. En ek glo dat Lisa net sulke spesiale herinneringe van haar oumas en oupas sal hê.

Lewer kommentaar