52. Asof ma’s nie genoeg het om oor te stres nie…kom ons praat oor KOS!

20150701_170711Ek en my man is albei mal oor kos en ons albei se pragtige “glad-nie-reg-vir-somer-lywe” spreek woorddele van ons daaglikse dieet . Ons hou van lekker vetmaakkos en eet graag uit. Dus het ek altyd geweet (of dalk gehoop) dat Lisa ook van kos gaan hou. Ek was egter bewus dat sy meer gesond as ons moet eet en ons het sommer vroeg al begin om ons eie dieet ook bietjie aan te pas.

Wanneer om met kos te begin was egter vir my ietwat moeiliker. Daar is soveel artikels en opinies oor kos vir babas dat dit mens ietwat verwar. Party artikels sê jy MOET op 4 maande begin anders gaan jy sukkel om jou baba aan verskillende teksture en smake gewoond te maak. Ander sê weer dat jy MOET wag tot op 6 maande, want jou baba se maag is nog nie reg vir kos nie. Dan is daar weer dié wat sê jy MOET wag dat jou baba self gereed is om kos te eet. Dit is wanneer jou baba se nek sterk genoeg is om haar kop regop te hou en wanneer jou baba self kan sit.

Al die ‘jy MOET dit so doen’-raad het my regtig deurmekaar gehad, want nêrens kon ek raad kry vir wat ek met ‘n prem babatjie MOET doen nie. Gee ek haar kos volgens haar Actual of Corrected age?Die laaste ding wat ek wou doen is om haar nog ‘n agterstand in die lewe te gee. Ek was bang ek begin te vinnig en beskadig haar maag (imagine daai skuldgevoelens!). Of ek wag te lank en sy wil niks eet nie. Te veel inligting is nogal partykeer nie ‘n goeie ding nie. Dit is moeilik en verwarrend. Veral met jou eerste kind. En waar mens gewoonlik na jou ma toe gaan vir raad, wys baie van die statistieke en nuwe informasie dat dit wat ons ouers gedoen het, juis nie reg was nie.

Ek het besluit om my hart (en ‘n bietjie van my kop te volg) en net te luister na ons pediater.  Ek het haar nou al op speeddial op my foon en ons is op eerste naam basis. Ek vertrou haar opinie verskriklik omdat sy nie net ‘n pediater is nie, maar ook ‘n ma van ‘n prem baba. So met al die informasie in my kop en die agtergrondkennis van ‘n Google-ma, het ek haar gevra. Haar advies was om op 6 maande te begin. Al kon Lisa nog nie sit nie omdat haar ontwikkeling anders is, moes ons begin, want haar maag ontwikkel vandat sy begin melk drink het. So op 6 maande het Lisa haar eerste kossies geëet.

Maar daar is natuurlik ook die enorme debat wat sosiale netwerke en kletsgroepe oorgeneem het oor pap as eerste kos. Weereens het ek my leeswerk gedoen. Soveel mense glo dat pap (soos Cerelac en Nestum) heeltemal ok is as eerste kos. Ander (en hulle is redelik aggressief as dit by hulle oortuigings kom) glo weer dat mens pap teen alle koste moet vermy. Dat dit vreeslik sleg vir jou baba is. Hulle glo dat dit te veel suiker bevat en dat dit beter is om meer natuurlike kos (soos piesang, butternut, ens) as eerste kos aan te bied.

20150209_171306

Weereens het ek my pediater geraadpleeg en sy het gelag toe ek haar oor die papdebat vra. Sy het my haar professionele en persoonlike opinie gegee dat pap ok is. Maar als in matigheid. Dus het ons begin met ‘n mengelmoes…so bietjie The best of both worlds. Lisa het pap en groente gekry. Die pap het ek met my melkies gemeng en die groente het ons sommer self gekook en sag gemaak.

Die metode van voer wat jy wil gebruik, is nog iets om oor te besluit. Ek het erg opgelees oor Baby Led Weaning (BLW). Die idee daarvan het nogal aanklank gevind by my. Dit is waar jy jou baba toe laat om self te eet. Jy gee dus nie met ‘n lepel kos nie, maar sommer stukkies kos. Dit is baie gesond en die baba raak sommer vroeg gewoond aan self eet en ook aan al die teksture en so aan. 20150209_165958

Aan die begin het ek besluit om 100% met BLW voort te gaan. Maar na die tweede dag van gemors, het ek my besluit bietjie aangepas. Die innerlike control freak het gesukkel met die idee dat ek nie weet hoeveel sy eet en hoeveel van die kos op die grond beland nie. En ek wou seker maak sy kry genoeg kos in. Nou doen ons meestal BLW, maar wanneer ons uitgaan is dit net makliker om met ‘n lepel te voer.

10590478_10152620300511322_5815086148215762660_n

Sy was dadelik mal oor eet en geniet elke oomblik daarvan. Sy het sommer so rukbeweging gemaak as ek die kos nader bring. Haar mond maak soos ‘n voëltjie oop en sy gryp nou nog met albei hande na iets en sit dit in die mond. Hoe morsiger hoe beter en hoe vuiler sy aan die einde van ete wegstap, hoe lekkerder. Ek het aan die begin ‘n borslappie gebruik, maar sommer gou agtergekom dat ALLES vuil raak, so ek het maar moed opgegee.

20150203_172802

Laastens moet jy besluit of jy self al die kos gaan maak en of jy die Squish/Purity/Umati roete gaan volg. Weereens is daar uiteenlopende opinies oor hierdie onderwerp. Purity is glo die anti-chris self, squish is ietwat toelaatbaar en Umatie is die “lui-maar-steeds-organiese”-manier van dinge doen. Daar is hierdie absolute verwagting dat ma’s alles self moet kook en net organiese kossies moet opdien. Geen suiker, geen koolhidrate, geen lekkers, geen koekies, geen flings, geen koeldrank, geen, geen, geen.

20150325_163852

Ek het vroeg al besluit dat ek net die beste gaan probeer wat ek kan. Ek het meeste van Lisa se kos self gekook, maar wanneer ons uitgaan het ek net ‘n Squish sakkie in my handsak gegooi. Sy eet partykeer bietjie soetgoed, maar ons probeer om so min as moontlik suiker en gagga-goed in te kry. Op die oomblik eet sy maar net wat ons eet, en sy floreer.

Ek dink my hele punt is om net op te hou stres. Lees genoeg om ‘n opgevoede besluit te maak, maar volg jou hart en doen wat jy dink reg is. Op die ou ent is daar ‘n sê-ding in Engels wat my baie gehelp het: “Food until ONE is just for FUN!”

10387697_10205797166190364_5791921431590461418_n

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s