Vandag is dit weer tyd vir ‘n Inspirasie Mamma! Dié keer ‘n redelike ongelooflike een, selfs vir ‘n mede-prem mamma. Vandag deel ek die storie van Chantal Lategan. ‘n Storie wat al selfs op Carte Blance was, maar vandag deel ek nie net die feite nie, maar ook die mamma-hart agter klein Allegra.
Chantal en haar man, Hennie bly in die Kaap. Hulle geniet dit om tyd saam met familie te spandeer en is gek oor ‘n rustige aand by die huis met ‘n goeie fliek en lekker kos. Voor Allegra se geboorte, was Chantal ‘n Gr. 4 onderwyser, maar is nou ‘n voltydse mamma (dus: verpleegster, sielkundige, speelterapeut, onderwyser, hanswors, kunstenaar, kok, huishulp, ens).
Chantal se swangerskap was tot en met 22 weke sonder enige komplikasies en sy was dankbaar dat hulle Allegra een keer kon voel beweeg en dat haar man toevallig op daardie oomblik by was. Op 22 weke het haar water skielik een oggend gebreek en sy is op bedrus geplaas. 4 dae later is Allegra gebore en het slegs 515 gram geweeg en was ongeveer 25cm lank.
Chantal beskryf die dag as die ergste dag van haar lewe. Die trane van oorweldigende liefde en geluk wat mens tydens die geboorte van jou kind moet ervaar, is vervang met trane van vrees en wanhoop terwyl haar dogtertjie wat veronderstel was om ‘n klein prinsessie te wees, as ‘n brose klein dingetjie weggevat word.
Nadat die eerste enorme skok van ‘n onverwagse mikro-premie verby is en die NICU reis begin het, was Chantal oorweldig deur die masjiene en mediese toerusting wat rondom al hierdie klein, brose, siek babatjies staan. Die drade, kabels en monitors wat almal aan die lewe hou, het haar angstig gemaak en haar onsekerheid vergroot. Sy onthou hoe sy gewonder het of klein Allegra ooit huis toe sal kan kom en of sy ooit sal groei en grootword. Of sy ooit die wêreld buite die hospitaal sal sien en hoe sy moontlik kan oorleef met al die ontwikkeling wat nog in die baarmoeder moes gebeur.
Vinnig het Chantal en Hennie gewoond geraak aan die vreemde mediese terminologie en in hulle 5 maande in die NICU het hulle ook besef wat die dokters bedoel wanneer hulle sê dit is ‘n “rollercoaster”-ride. Elke dag was daar iets anders. Nes sy goed doen, gebeur daar weer iets wat haar terugsit. Twee tree vorentoe…5 tree terug.
As ma het sy het ook gesukkel met die hulpeloosheid waarmee soveel ma’s in die NICU worstel. Sy wou graag vir Allegra ‘n ma wees en haar versorg, maar ander mense moes besluite oor haar lewe neem en jy het geen beheer oor wat met haar gebeur nie. Sy is in die hande van medici en al wat mens werklik kan doen is daar wees en bid.
Sy het gesmag na ‘n lazyboy in haar kamer, want dit het beteken dat sy haar dogtertjie kon vashou. Sy moes met jaloerse oë toekyk hoe ander mammas hulle babatjies kan KMC (Kangaroo Mother Care) terwyl hare nog hard baklei om aan die lewe te bly. Toe sy na 2 lang maande uiteindelik ook ‘n stoel in haar kamer kry en vir die eerste keer haar dogtertjie kon vashou, was daar sommer baie trane.
Chantal het besef hoe sterk die krag van gebed is en hoe mens bonatuurlike krag kry om die terugslae te kan hanteer. Sy het ook geleer dat mens ‘n goeie ondersteuningsnetwerk moet hê en wie haar ware vriende is. Die NICU reis is veral moeilik omdat niemand behalwe ander premmammas werklik verstaan waardeur jy gaan nie en mense kan soms baie onsensitief wees.
Chantal het vinnig agtergekom dat mens elke klein dingetjie moet vier om positief te bly. Ook hoe baie 5 gram gewig kan wees en hoe ongelooflik ‘n vuil doek kan wees as dit sonder mediese intervensie kon plaasvind. Dit het haar dankbaar gemaak vir die klein goedjies in die lewe. Sy het ook besef dat mens nie jou baba met enige iemand anders kan vergelyk nie en dat elke kind op ‘n ander tyd hulle mylpale sal bereik. Die gesegde “Children are like butterflies. Some are brighter than others. Some fly much higher than others. But each one is beautiful and unique in its own way”, is vandag nog vir haar van pas.
Chantal se raad aan ander mammas op die pad, is om nie skaam te wees om vir hulp te vra nie. Wees spesifiek as mense wil help en laat mense toe om te help. Vertrou dat die dokters die beste vir jou kind wil doen, maar vertrou ook jou eie mamma-intuisie. Vat dinge een dag op ‘n slag, selfs uur vir uur as dit nodig is. Huil as jy so voel, skree, lag, gee uiting aan jou emosies en moenie opkrop nie. Hou aan glo, bid en vertrou dat alles ok gaan wees, en God sal jou die krag gee om nog ‘n dag se uitdagings in die gesig te kan staar.
Chantal en Hennie se paadjie met prematuriteit het ongelukkig nie gestop die dag toe hulle by die NICU uitstap nie. Hulle het meer telefoonnommers van dokters, spesialiste en terapeute as vriende op hulle lysie. Allegra het baie gesondheidsprobleme gehad en is ook doof. Sy het kogleêre inplantings en hulle volg die verbale roete met haar spraak en gehoor. Sy is nou amper 6 en in Graad R, maar daar duik steeds gereeld uitdagings op.
Hierdie gesin glo verseker in wonderwerke en dit maak elke dag vir hulle makliker. Hulle is bewus van God se hand in hulle daaglikse lewe en hulle weet daar is ‘n rede vir als. Hulle het byvoorbeeld na toetse agtergekom dat daar ‘n virus in die plasenta was en dat Allegra nooit sou oorleef as sy nie vroeg gebore was nie. Chantal is dankbaar vir die proses waardeur hulle moes gaan, alhoewel dit nie glad nie maklik was nie. Dit is emosioneel en fisies uitputtend, maar wanneer sy die dag moed verloor, kyk sy net terug na hoe ver hulle reeds gekom het en hoe hard Allegra al moes baklei in die lewe. Dit gee haar dan weer die krag en motivering om aan te gaan en dankie te sê vir haar wonderwerkmensie. Chantal sukkel steeds om na vrouens met groot swanger magies te kyk en wonder gereeld hoe dit sal voel om ‘n babatjie te voel skop binne jou. Maar wanneer sy na Allegra kyk en sy haar klein armpies om haar nek gooi, weet sy dat sy die gelukkigste ma op aarde is. Allegra is presies wat haar naam beteken: vol lewe en geluk.