Soms is ek verskriklik dankbaar dat ek nie kameras in my huis het nie. Verlede week was rof. Ek het ‘n belangrike vakvergadering gehad, ek het my gr. 12’s op ‘n fliekuitstappie geneem, ek het ‘n demonstrasie gehad vir ‘n nuwe Afrikaanse aanlyn-studiegids, ek het ‘n baie groot deadline in my persoonlike lewe gehad waarvan ek julle nog later sal vertel, ek het ‘n familie se foto’s geneem en ons punte moes in wees.
Ek het onsagtelik baie werk gehad en my man was die aand diens. Ek het nog 2 pakke opstelle gehad om daardie aand te merk, want die volgende middag was netbalproewe. Maar Dian wou net nie sonder my slaap nie. Ek probeer hom van my bors afkry, en hy drink glad nie meer enige borsmelk deur die dag nie, maar saans is hy nog baie moeilik daarsonder.
Ek het vir 45 minute met hom op my skouer rondgestap en hy was so uit soos ‘n kers. Dit als terwyl ek vir Lisa ‘n broodjie maak, want sy is skielik vreeslik honger. En terwyl ek die honde voer en terwyl ek my eie pajama broek met een hand aantrek. Nadat ons vir Lisa ‘n storie gelees het (ja met slapende Dian op my skouer) en sy in die bed was, het ek hom in sy kot neergelê. Nes ek my rooi pen optel, hoor ek hoe hy weer begin huil. UGH…regtig!?
So is ek op en af vir omtrent 2 ure. Merk een opstel, en dan is hy weer wakker. Uiteindelik gee ek op en besluit om maar met hom in ons bed te gaan lê. Na hy weer rustig is, staan ek op en sluip na die leefvertrek om verder te merk. En sowaar…een opstel later en hy huil alweer.
Ek is toe maar met opstelle en al kamer toe. Met ‘n koplig op my kop en ‘n kind wat aan my nipple hang, sit-lê ek toe maar en merk. Teen 2:00 skrik ek wakker van Lisa wat huil. Ek moes iewers aan die slaap geraak het. Ek, koplig steeds aan en boob steeds uit, spring op om haar te gaan haal.
Terug in die bed met Lisa ook tussen ons, lees ek maar weer die opstel van die kind wat my aan die slaap gemaak het. Ek kon net een pak so stuk-stuk en chaoties gemerk kry. Heeltyd bid ek dat God net moet intree, dat hy net vir my 2 ekstra ure in my dag moet gee sodat ek die ander pak gemerk kan kry.
Die volgende oggend na 3 koppies koffie en ‘n ekstra laag make-up onder die oë, begin die wolke toetrek. Teen 14:00 sak die eerste reëntjie uit. My hart het vinniger begin klop, want as dit teen 15:00 nog reën word netbalproewe gekanselleer. En sowaar, dit reën net harder en harder en daar kry ek my 2 ekstra ure en my punte is betyds in.
Sommige sê dis dalk net geluk, dalk net toevallig, maar wat as dit dalk, net dalk ‘n ongelooflike genadiglike God is wat gebede beantwoord. En dalk beantwoord hy eintlik net die reëngebede van die miljoene mense wat vir reën bid omdat dit droog is. Maar op hierdie spesifieke tyd en plek, het hy my gebed verhoor.
Dis daardie genade-oomblikke wat mens verwonderd laat. Ek bid dat baba boet gou oor sy verlies sal kom. 😉
LikeLike
Ek lovit Charmé, wat ‘n chaotiese, dog ongelooflike, tyd van ons lewens is dit nie nou nie?! Om jong kindertjies te hê en voltyds te werk, veral as betrokke onderwyseres, is beslis nie aldag maklik of lekker nie. Dankie vir jou mooi skryf van die regte lewe! Einde van die kwartaal is in sig!
LikeLike
Dankie LU! Dis altyd lekker om van jou te hoor. Nog net een slapie tot die vakansie! x
LikeLike