65. Partytjietyd

Een van die goed wat baie ouers moeilik vind, is dit kinderpartytjies. Dis ‘n dilemma, want aan die een kant wil jy jou baba se verjaarsdag vier met ‘n groot, duur partytjie, maar aan die anderkant weet jy dat jou baba te klein is om enige iets daarvan te waardeer of te onthou. Ons was so opgewonde dat Lisa tot by ‘n jaar gekom het, dat ons ‘n partytjie MOES hou.

En so, na die Vrydag se besoek aan die hospitale, het ons die Saterdag Lisa se 1ste partytjie gehad. Ek was opgewonde en tog was ek ietwat senuweeagtig. Hoekom, weet ek nie heeltemal nie. Dit was asof ek weereens die druk wat die wêreld op ons plaas om ‘perfekte’ mammas te wees en ‘perfekte’ partytjies te hou (wat op Pinterest gesit kan word) gevoel het. Die ‘ideale’ partytjie op ‘n helse budget. ‘n Partytjie met ‘n gehuurde fotograaf en ‘n mooi venue en duur speelgoed en party-packs wat self die koningin van Engeland sal laat glimlag. Waarvoor ons dit aan onsself doen, weet Vader alleen.

Maar Lisa het ‘n partytjie gehad. Op Pinterest kon dit verseker nie gaan nie (al het ek probeer), maar dit was tog spesiaal. Ons het geen gehuurde enige iets gehad nie en het verseker nie enige toekennings vir uitmuntendheid gewen nie.Ons het pannekoeke gebak (want ons kon nie veel meer bekostig nie) en al die mense wat vir ons spesiaal is was daar. Die tema was Twinkle Twinkle Little Star, want dit was presies wat Lisa vir ons was. ‘n Klein sterretjie. ‘n Uitblinkertjie. ‘n Stukkie hemel op aarde.

Lisa het vreeslik baie geskenke gekry. Klere wat nou eers begin pas, ‘n houtperdjie van oupa Gido, opvoedkundige speelgoed, poppe en boekies. Ons het nie ‘n “Cake smash shoot gehad nie, maar sy het darem ook vir die eerste keer in haar lewe ‘n kolwyntjie geëet en dit vreeslik geniet. Dit was ‘n dag vol dankbaarheid en ‘n dag vol geluk.

Na al die mense weg is, het my pa vir ons familiefoto’s in die parkie gaan neem. Daardie aand om 20h00 het ek en my man na mekaar geloer en ek het gewonder of hy ook dink waaraan ek dink. Of hy ook dink hoeveel anders die jaar se aand verloop. Of hy ook nogsteeds die vrees en trauma van daardie aand onthou. Of hy ook twyfel oor ‘n volgende baba. Of hy ook nie kan glo dat ons ou poppie al ‘n jaar is nie.

Hierdie jaar wou ek ook partytjie hou en het reeds (in Januarie al…want dis mos hoe ‘n ma se kop werk) op ‘n Tutus en Ties tema besluit. Ek het alreeds begin om ‘n uitnodiging te maak toe ek en my man een aand bietjie gesels. Ons besef toe dat die lewe nie net oor partytjies gaan nie. Dat ons nie elke jaar ‘n partytjie HOEF te hê nie. Dat dit onnodig is om elke jaar ‘n klomp geld uit te gee en druk op onsself te sit vir ‘n dag wat op soveel maniere gevier kan word. So hierdie jaar gaan ons 3 rustig op Lisa se verjaarsdag piekniek hou. Dalk gaan ons volgende jaar vir die naweek van Lisa se verjaarsdag ‘n bietjie weg. Want partytjies is net een manier om fees te vier. Maar wie weet, miskien hou ons volgende jaar dalk liewer weer partytjie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s