107. ‘n Dip in die diepkant

download

Ek voel al vir so 2 weke bietjie oorweldig. Oorweldig deur werk, deur die misdaad en stand van sake in ons land, deur die hartseer en pyn wat soveel kinders in my klas mee loop, deur familie en deur al die “wees” wat van ons verwag word: ma wees, eggenoot wees, onderwyser wees, vrou wees, vriend wees en Christen wees. Dit voel asof die hele wêreld ‘n bietjie donker en swaar is asof ek per ongeluk in die diepkant van die swembad geval het toe ek eintlik net my tone wou natmaak.

My vriende tel op dat ek nie lekker is nie, my man voel hoe ek kortaf en hard is, my ma sê ek is stil en my kollegas sien die frons op my voorkop raak. Vir iemand wat met hulle hele hart en nog ‘n dagboek vol emosies op my mou rondloop, is dit ook moeilik om weg te steek as alles in my hart nie honkiedorie is nie.

Ek het vir dae lank probeer dink wat presies my so depressief maak, want dit voel werklik asof ek net een oggend moeg en depressief opgestaan het. En ek gebruik die woord depressief baie versigtig hier, want ek het hartsmense in my lewe wat werklik depressie het en ek wil glad nie voorgee dat die klein dip wat ek nou vat enigsins dieselfde is as die daaglikse stryd waardeur hulle gaan nie.

Vir ons almal is die lewe mos maar ‘n rollercoaster ride: ‘n bietjie op, ‘n bietjie af en ‘n bietjie vervelig in die middel.  Vir my is die lewe oor die algemeen ‘n bietjie op en baie vervelig en maar bittermin af. So ek weet nie altyd lekker hoe om te wees as ek skielik af voel nie. Ek weet net ek lag nie so baie nie, ek staan moeiliker soggens op, ek het minder geduld en my filter wanneer ek praat verdwyn skielik.

Gisteraand het ek besluit die dip moet nou end kry, want ek kan mos nie so funksioneer nie. Iewers moet ek tog net weer swem en opkom vir asem. En vanoggend lees ek 2 goed (albei terwyl ek net vinnig ‘n ruskansie vat tussen pakke merkwerk)

  1. ‘n Brief van ‘n ma van ‘n mooi dogtertjie 2 jaar na haar man selfmoord gepleeg het. Dit gaan uit na mense wat voel hulle kan nie meer nie en dat die lewe beter is sonder hulle.

Dit vang my, want die bietjie donker in my is net ‘n druppeltjie teen wat iemand moet voel voordat hulle selfmoord pleeg. Dit ruk my, want mense sien so maklik die negatiewe goed raak en mis die honderde posititiewe wat verbygaan. Dit maak my hartseer, want daar is nog soveel stigma wanneer dit kom by sielkundige toestande en dat soveel mense nooit hulp kry nie en dan dieper en dieper gaan.

  1. ‘n Koerantberig oor “Sunrise”, ‘n pasgebore babatjie wat gister in ‘n blou plastieksak net-net lewendig gevind is by Sunrise Beach in Muizenberg.

Dit vang my meer, want wat het hierdie outjie verdien om weggegooi te word en om nie eens ‘n kans gegun te word nie. Dit ruk my meer, want hoeveel erger moes die lewe van sy ma wees om tot op daardie donker plek te kom.  Dit maak my meer hartseer, want hier sit ek met ‘n werk, met ‘n familie, met ‘n man, met vriende en met ‘n ongelooflike genadiglike en liefdevolle God en kry myself jammer.

En net so, 2 stukkies leesstof en ‘n pak vol perspektief later, en ek haal weer asem. Ek swem lengtes tot by die trappies van die swembad en ek klim uit met ‘n heel hart. ‘n Warm, dankbare, ligte hart.

 

 

 

4 thoughts on “107. ‘n Dip in die diepkant

  1. Ek dink werklik dit is maar net die tyd vd jr. Ons neem bestek opname vd jr en sy dinge en besef hoe vinnig het 2018 gebeur, met ‘n oogwink is dit ook nou klaar.
    Ek is bly jy voel beter, somtyds is dit net ‘n klein dingetjie hier of daar wat mens weer perspektief moet gee, die slag is dit ‘n groot ding deur oa die weggooi v ‘n kleine ou babatjie wat jou weer jou eie lewe laat waardeer het.
    Ek vertrou op die Here dat 2019 ‘n goeie jr vir menigte mense gaan wees 🤗 my inkluis.

    Liked by 1 person

  2. Hierdie tyd van die jaar bring baie seisoenale depressie na voor. Net bly om ook te lees jy voel ligter. In die boek: “The book of joy.” Vertel die Dalai Lama dat dit altyd help om jou probleme met ander se probleme te vergelyk. Dan lyk ons eie oorweldigings nie so groot en kan ons in ‘n spasie van dankbaarheid inbeweeg.

    Like

Lewer kommentaar