72. Bitterboela boelie

boelie-1

Elke week hoor ek van een of ander kind wat geboelie word. As onderwyser is dit een van die groot probleme om te ontsyfer wanneer dit regtig ‘n geboeliery is en wanneer dit net ‘n bakleiery of tienerprobleem is. Ek is dus baie bewus van boelies en hoe hulle werk, maar vir een of ander rede het ek altyd gedink dat boelies eers op skool begin ‘boelie’.

Maandagaand was ons vir burgers (ja…dis weer ‘n koop-een-kry-een-verniet-maand in ons huis) by Spur. Lisa hol dadelik speelkamer toe en gewoonlik sien ek haar nie gou weer nie. Binne ‘n paar sekondes kom sy uitgehol en sê: “Mamma, Lisa bang.”  Ek dog sy is dalk bang om alleen te speel of dalk voel sy net bietjie onseker (beide wat nie gewoonlik gebeur nie, maar wie weet…dalk gaan sy deur ‘n stadium). Ek vat haar toe aan die hand en gaan stel haar voor aan.

Die gesin langsaan ons tafel het 5 kinders (ja…mense het nog 5 kinders) 3 seuns en 2 dogters. Ek het die ma by ‘n ma-groepie ontmoet en het nogal baie respek vir haar wat al 5 haar kinder geborsvoed het en nogsteeds so mooi en in beheer lyk. Ek let egter op dat hulle baie anders as ons oor kinders grootmaak dink. Hulle kinders word redelik op hulle eie groot en is rof en redelik gehard (wat seker ook verstaanbaar is met 5). Die pa is nogal kwaai. Toe die dogtertjie vra of sy nog ‘n tjippie kan kry het hy haar sommer uitgetrap en was redelik aggressief. Maar ek het vriendelik gegroet en toe aangegaan om ons bestelling te plaas.

Met dié dat Lisa bietjie bang is, hou ek toe maar meer van ‘n direkte ogie op haar net om seker te maak sy is ok. En ek kon my oë nie glo nie: Twee (van die 3) boeties stoot vir Lisa sommer uit die bloute teen die bank vas en druk haar plat. Die oppasser moes omtrent bontstaan en gelukkig het Lisa dadelik uitgehol na ons toe (alhoewel ek al amper by haar was). Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ek besig was om in ‘n helikopter-ma te verander, want ek was sommer dadelik kwaad. Ek het dit nie gewys nie, maar dit het my vreemd laat voel dat 2 onder 5 jariges dink dis ok om sommer net ‘n dogtertjie te takel. Ek het besluit om nie te oorreageer nie, maar my binneste was omgekrap oor wat ek gesien het.

Lisa het vir ‘n tydjie by ons kom inkleur en toe weer braaf die paadjie aangedurf na die “maatjies” toe. Sy het ‘n ballon gaan haal en toe, nes sy op die perdjie klim, kom die een seuntjie dadelik weer en stoot haar van die perd. Lisa was deurmekaar en het nie eers gehuil nie, maar net met skok gekyk na die seuntjie. Dit was asof sy nie nou verstaan het wat gebeur het nie. Die seuntjie aan die anderkant het ‘n vreesaanjaende gesigsuitdrukking…amper ‘n mengsel tussen woede en boos. Weereens moes ek en die oppasser inmeng en die arme oulike jong meisie het net haar kop geskud en gesê dat hulle twee altyd probleme maak met die kleintjies.

Dit was vir my so vreemd. Ek weet dit gebeur en ek weet kinders baklei en is selfsugtig, ens. maar hierdie was vir my anders. Daar was 2 perdjies (een was oop) en die seuntjies was nie eens besig om daar te speel nie. Hulle het van bo van die glyplank af gekom toe hulle vir Lisa sien en haar ‘n teiken gemaak. Ek het niks gesê nie en toegelaat dat hulle verder ‘speel’. Gelukkig het die familie gou geloop en Lisa het lekker met die ander regte maatjies aangespeel. Ek het gedink ek sal ophou dink daaraan, maar dit het my heel week gepla. Hoekom is dit ok vir ons om toe te laat dat kinders op so ‘n jong stadium ‘boelies’ raak? En hoe maak ons seker dat ons nie self ‘n boelie grootmaak nie?

boelie-3

As ouers het ons so ‘n groot rol in hoe ons ons kinders grootmaak. Ek hoop en bid en glo met my hele hart dat Lisa nie ‘n boelie sal word nie en dat sy eendag die moed sal hê om teen boelies op te staan. Ek hoop dat ons haar selfbeeld genoeg opbou dat sy nie sal toelaat dat groter boelies haar afbreek nie. Ek bid en vertrou dat ons die krag en uithouvermoë sal hê om haar te dissiplineer wanneer sy verkeerde besluite maak en ek glo dat God ons sal help om die beste ouers te wees vir ons hardekwas bitterboela dogtertjie.

boelie-2

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s