42. Baby showers en Due Date Partytjie

10659225_10152736176995159_3180914853248595138_nIets waarna ek nog altyd baie uitgesien het, was my ooievaarstee. Ek het altyd gekyk na ander mense se foto’s (met hulle mooi ronde magies en al die mooi babygrowtjies wat met gedrukte name of prentjies aan ‘n wasgoedlyn hang) en in my hart het ek myself daar gesien. Ek… wat met my hoogswanger-maag en opgeswelde enkels saam met my vriende en familie in ‘n tuin iewers staan en tee drink en lag en gesels oor die lekker en sleg van ma-wees. Ek het gedroom oor al die raad wat mense my gaan gee. Die stories oor hoe mens weet jy is in kraam…hoe hulle die hele huis wou skoonmaak voor die baba kom…hoe almal hospitaal toe gejaag het…hoe hulle water gebreek het…hoe hulle geskree het van pyn in die kraamsaal…hoe hulle gevoel het toe hulle hulle bondeltjies vir die eerste keer vasgehou het…al die borsvoedingsadvies…en…en…en.

Ek was nog nooit by ‘n ooievaarstee van enige iemand wat ‘n prem-babatjie gehad het nie. En dit was ook nooit iets waaraan ek eers gedink het nie. In my kop was dit maar net iets wat natuurlik met almal gebeur. Almal wat swanger is…het ‘n ooievaarstee. Dis net hoe dit werk. Is dit nie?

10641222_10152736176300159_3708617820218933182_n

My beste vriendin het al van die oomblik wat ek haar gesê het ek is swanger aan my ooievaarstee begin beplan. Sy is net so…engelmens. Sy wou weet of ek dit stylvol of grapperig wou hê. Of ek wil speletjies speel? Of ek simpel goed wil aantrek en nappies ruil? Of ek net wil kuier by iemand se huis en of ek wil uitgaan? Sy wou weet wie sy moet nooi en waar sy dit moet hou. Elke keer wat ons gaan koffie drink het, wou sy weet wanneer sy dit moet hou en in my kop was daar nog BAIE tyd. Ons het beplan om dit aan die begin van Augustus te doen. Dan is daar nog ‘n maand oor vir my en dit sou net perfek wees.

10599189_10152736176735159_5173645278144293527_n

Toe Lisa aan die begin van JUNIE gebore is…was daar dus nog nie eers sprake van die “beplande” baby shower nie. Ek het nie veel gehad nie, want almal het altyd vir my gesê mens moet niks koop tot na jou baby shower nie…want mens kry soveel goed. Maar in die tyd wat ek in die hospitaal met Lisa was, het al my vriendinne en familie geskenkies en klere en allerhande lekker goedjies tog by die huis kom aflaai.

Die skool het my gevra om eendag my UIF vorms te kom optel en hulle (of liewer ongelooflike kollega-maaitjies) het my HEELTEMAL verras met ‘n baby shower. Sommer ‘n driedubbele een (want daar was twee ander swanger juffrouens ook). Dit was so spesiaal, maar tog so oorweldigend. Dit was toe Lisa net 2 weke oud was en sy het op daardie stadium nog vir haar lewe baklei. Ek onthou hoe ek gevoel het toe ek in die saal instap en al die kinders en onderwysers daar staan. Ek het my trane wegbaklei en het in verwondering gestaar na al die versierings, bosse blomme, koekies en mooi toegedraaide geskenke. Ek het so spesiaal gevoel en het soveel geskenke gekry…van die personeel en van die kinders. Ek het na elke stukkie klere gekyk en gewonder wanneer Lisa dit ooit gaan dra. Vandag is sy 14 maande oud en sy pas nogsteeds nie in meeste daarvan nie. Maar ons was so geseënd met tonne geskenke (van ‘n koekie seep tot ‘n hele medisyne tassie) en skielik was die nut vir ‘n baby shower nie meer daar nie.

10463923_500500283416721_2959160947477201672_n

Tog het ons besluit dat Lisa (en in ‘n mate mamma) se lewe gevier moet word. Dat ons ‘n baby shower MOET hou. Ons het besluit om liewer ‘n Due Date Partytjie te hou. My vriendin het steeds als gereël en dit was so spesiaal. Almal wat vir my belangrik was, was daar. En dit was vreeslik snaaks om my baba by my baby shower te kon hê. Sy was maar nog klein…net oor die 2kg…maar sy was daar (alhoewel sy regdeur die kuier geslaap het).

10592680_10152736177735159_5494859319212141448_n

Ek wou nie hê mense moes weer vir my presente koop nie (want almal het al teen die tyd iets gebring) en ek wou net hê ons moet lekker rustig kuier en gesels en lag en normaal wees. En dit was presies wat ek altyd wou hê. Als was so mooi en daar is soveel moeite gedoen. Dit was heerlik om te kon dankie sê vir almal se ondersteuning en liefde. Dit was ook lekker, want die ergste stres was verby en ons kon werklikwaar feesvier. Ek het dit so geniet om met almal te gesels en op te vang. Dit was regtig spesiaal.

10372512_10152736177410159_3221115571236102122_n

Nou beteken baby showers skielik vir my iets anders. Baie van ons vriendinne is nou swanger en dit is vir my so vreemd (en in ‘n mate moeilik) om na hulle baby showers te gaan. Ek voel asof ek hulle wil skud en vra of hulle weet hoe gelukkig en geseënd hulle is om nog op 32 weke ‘n baby shower te kan hê. Of hulle weet hoe bly hulle moet wees dat hulle moontlik normaal kan kraam? Of hulle elke dag dankie sê dat hulle babatjie groei? Of hulle elke dag besef hoe dankbaar hulle moet wees dat hulle nog ‘n babatjie in hulle maag het? Of hulle besef hoe gelukkig hulle kan wees dat hulle kan kla oor seer voete en ‘n seer rug?

Maar ek het besef dat ek dit tog nie vir hulle kan vra nie…want dit is belangrik dat hulle voel soos hulle voel. Dat hulle opgewonde moet wees. Dat hulle moet kla oor hulle voete en hulle rug. Dat hulle moet glo dat hulle babatjie normaal sal kom. Dat hulle mag stres oor die feit dat hulle babatjie reeds 2.6kg weeg. Dat hulle moet dink alles gaan perfek wees. Dat hulle moet verwag dat alles 100% soos plan gaan verloop. Want dit is wat vir hulle reg is. En in plaas van die doemsprofeet speel, glimlag ek maar en bid ek elke aand dat hulle drome sal waar word en dat hulle planne sal uitwerk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s