101. My eie VET baba

Toe ek met Lisatjie in die hospitaal was, het ek een middag Wimpy toe gegaan en oral om my was mammas met VET babas. Babas met rekkies om hulle enkels en gewrigte, vetwalle wat oral uitrol en wange wat mens net wil soen. Ek was daardie dag so hartseer en ek onthou dit nog soos gister. Ek wonder steeds wat daardie arme karwag moes dink wat my tydens hierdie histeriese ontploffing gesien het. Hier is die post wat ek destyds daaroor geskryf het. 17. Vet babas in Wimpy 

Terwyl Dian in my maag was, het ek baie gewonder of hy ook klein gaan wees. Ons was so voorbereid om weer ‘n prem baba te hê dat ek nooit eers gedink het dat ek ‘n vet baba gaan hê nie. Dian is gebore op 3.54kg. ‘n Redelike “normale” gewig. Hy was gesond en maklik. Ons is na 2 dae in die hospitaal huis toe en van daar af het Dian sonder enige ernstige gebede gegroei. Vir ‘n nie-prem ma is dit heeltemal normaal. Maar as jy ure lank op jou knieë deurgebring het en daagliks (vir maande) elke gram wat jou babatjie optel vier, is dit nogal iets spesiaal. Iets so vanselfsprekend wat my hart weer ‘n keer opreg dankbaar gemaak het. Hy het nie gewig afgegooi nie en het goed en redelik baie gedrink. Hy was/is verslaaf aan my borste en glimlag met trots as hy hulle weer na ‘n dag by die werk kan vashou. Klein boob-monstertjie 🙂

 

20180502_165124

 

In my wildste drome het ek nie gedink my kind sal eendag vet wees nie. En ek het nooit gedink dat ‘n vet kind iets is wat my hart so warm sal maak nie. Maar God ken my hart…veel beter as ek self. En hier sit ek vandag met my eie vet baba. Met wangetjies wat ek net heeldag wil opvreet. Met vet voue wat ek moet wegskuif om orals skoon te maak. Met aangeskroefte handjies en voete. My eie klein vettie boem boem!

Hy weeg 9kg op 6 maande. Lisa was op 6 maande net oor die 3kg. Dian dra nou klere waarin Lisa al geloop het. Met Lisa was my hart ook uitgedun en maer. Ek was moeg en geestelik uitgehonger, maar hierdie vriendelike outjie het my hart weer vet en rond gemaak. Ek voel asof God my hart weer versadig gemaak het en dit laat my ongelooflik geseënd voel. Met Lisa het mense in die winkels na ons gestaar en almal het gepraat oor hierdie piepklein lyfie. Nou staar mense ook, maar almal praat dié keer oor hierdie oulike ronde wangetjies.

Ek kyk gereeld na ander mense in die winkel as ek met hom uitgaan en soms vang my oog die ma in die hoek met die pienk milkshake wat nie met ‘n glimlag na hierdie vettie kyk nie. Dan bid ek vir haar. Vir in geval sy dalk nooit kinders kan kry nie. Of vir in geval sy dalk onlangs ‘n babatjie verloor het. Ek bid vir haar wat dalk ver weg van haar kinders is as gevolg van die lewe se omstandighede. Vir in geval sy dalk ‘n kind aan die dood moes afstaan. En ek bid veral dat haar prem babatjie wat in die hospitaal is, vinnig sal groei en sterk en oulik sal raak.

20180723_170041

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s