66. Vakansies vol vuilwees (met ‘n spesiale lekker-uitstappie-lysie vir die Suidelike Peninsula)

20160712_121629_HDRVakansie voor kinders was  altyd ‘n tyd vir rus. ‘n Tyd om kaste reg te pak, laat te slaap en op die bank te bly lê terwyl jy series op die tv kyk. ‘n Tyd om jouself ‘n bietjie te bederf en net vir ‘n paar dae ordentlik selfsugtig te wees.

Hierdie vakansie het ek vir 3 weke elke dag 100% met Lisa spandeer. En wat ‘n skok vir my “werkende-mamma”sisteem. Die eerste week was ‘n groot aanpassing. Lisa het 6:00 aan my arm getrek en gesê: “Mamma, klaar geslaap.” En met ‘n 2-jarige stry mens nie sommer nie, so ek was dus “klaar geslaap”. Binne 2 minute van wakker wees het die huis gelyk of ‘n orkaan dit getref het. Daar was ‘n halwe bakkie vol pap op die mat uitgegooi, daar was ‘n kombersie, ‘n apie en ‘n haas op die bank. Die speelkamer lyk asof daar ‘n bom ontplof het en Lisa hang aan my pajama broek terwyl sy borrels blaas met ‘n strootjie in haar waterkoppie. Al wat ek wou hê is ‘n koppie koffie, maar selfs dit moes wag vir die ruil van een massiewe poefdoek!  Al wat ek gedink het terwyl ek kamer toe stap, was hoe op dees aarde ek die vakansie gaan oorleef?

Elke aand het my man by die huis ingestap en gevra of als ok is? Ook wat met die huis gebeur het en wat ons vir aandete gaan eet. Elke aand het ek gevoel asof ek hom wil vermoor. Wat bedoel jy wat het met die huis gebeur?! Die huis behoort aan ‘n monster-2-jarige wat teen die diewering uitklim en haar hele bord kos na elke ete op die mat omkeer! ETE??? Ek het al 7 keer vir Lisa innoverende etes gemaak…wil jy ook nog eet?!? Ek kon nie wag vir die naweek nie. Dan kan hy mos ‘n bietjie die speel/voer/dink/beplan/stimuleer/optel/skoonmaak/nee-sê werk doen.

Week 2 was aansienlik makliker. Ek het uitgevind dat Lisa net elke dag IETS moet doen. Maak nie saak wat nie, maar ons moet op ‘n uitstappie gaan. Elke oggend het ons opgestaan en die vuil huis se deur toegetrek en iets lekker gaan doen. Vir Lisa beteken “lekker” net iewers hol of speel. Vir mamma beteken “lekker” enige plek met koffie. So het ons al die parkierige plekke ontdek en ek het seker gemaak daar is’n wegneem-koffiewinkel naby. Geld is nie iets waarvan ons te veel het nie, so restaurante was nie altyd ‘n opsie nie, maar ons het met initiatief lekker reggekom. Na elke uitstappie het Lisa in haar karstoeltjie met ‘n groot glimlag gesê: “Mamma, lekker outing, lekker gespeel, lekker…” en dan op pad huis toe aan die slaap geval. Terwyl sy slaap het ek gou die huis uitsorteer en gerus en sommige dae sommer net ook ‘n middagslapie saam met haar gevat.
20160710_152224

Teen week 3 het ek gevoel asof ek elke dag by haar wil bly.  Asof ek so baie van haar leer en sien en ervaar. Dat werk miskien nie vir my is nie. Ek het die kuier saam met mede mamma-maatjies geniet en die paar daggies by die oumas was heerlik. Ek het gevoel asof ek nooit weer wil gaan werk nie. Maar teen die einde van die week het Lisa begin vra na “tannie Gill” (haar dagmoeder) en gevra wanneer sy met “Cruz, Joshua, Mia en Derek” gaan speel. En toe besef ek dat my werk my toelaat om vakansies te hou en dat dit ongelooflik is. Maar ook dat my werk my toelaat om ‘n cappucino en petrolgeld te kan bekostig en dat sonder ons uitstappies sou die vakansie maar erg vervelig gewees het. En ek weet dat Lisa gelukkig is by Gill en dat sy haar maatjies by die skooltjie mis en geniet. En net so is die vakansie ook verby.

20160626_132257Vir die van julle in die Suidelike Peninsula, is hierdie ‘n paar idees (dié wat vir ons die lekkerste was) vir jou volgende wintervakansie:

  1. Vishoek se strand het die lekkerste parkie en die restaurant reg langs die parkie maak heerlike wegneem cappucino’s. Vishoek Spur is ook ‘n wenner vir ‘n
    goedkoop brekkie en hulle het ‘n baie lekker speelarea met oulike vrouens wat uithelp en gesigte verf. 20160704_110628
  2. In Noordhoek is daar ‘n paar wenners: Cafe Roux met die speelplekkie reg daar, Village Roast met die Noordhoek Common reg oorkant dit, en dan Ellies Deli by die Noordhoek Emporium kwekery was almal wenners.
  3. Kalkbaai het ook ‘n paar heerlike koffiewinkels, maar my gunsteling is die bagelshop wat so bietjie uit die besige straat is…en reg oorkant die parkie! Wen-wen. 20160630_102344_HDR

  4. Muizenberg het 2 baie oulike speelareas. 1 is langs die swembad (maar koffie is ‘n entjie weg) en die ander 1 is reg op die strand by Surfers Corner. Daar is ‘n paar koffie-opsies, maar ek hou van Gary’s Surf Shop se baristas. winchester-september-2015-04.jpg
  5. Simonstad het nie regtig lekker parkies nie, maar wel hardloopareas. My gunsteling was om koffie by een van die honderde koffieplekkies te kry en dan die pikkewynwandelpad te vat. Lisa was mal oor die klank van haar gumboots op die houtpad en het haar moeg gehol. En sommer baba pikkewyntjies ook gesien. 20160707_113640.jpg
  6. Kommetjie het die lekker staparea by Slanghoek lighuis en ek het sommer by Mc Donald’s op pad koffie gekry. Maar daar is oulike plekkies in Kommetjie self ook. 22.JPG
  7. Tussen Kommetjie en Capri is Harry Ghoemans kwekery en hulle het ook ‘n heerlike speelarea met lekker melkskommels. njam.20160713_104215
  8. Scarborough het die mooiste, rustigste strand en Lisa is mal daaroor om daar te speel. The Hub maak lekker wegneemkoffies en al is dit ‘n bietjie verder om te ry, is dit altyd die moeite werd.

As jy heeltemal uit geld en idees is, gaan verken sommer jou eie area en gaan stap en jy vind dalk net ‘n spesiale goudmyn-plekkie!

 

 

 

Lewer kommentaar