Voordat ek 21 geword het, wou ek nie werklik kinders gehad het nie. Ek is glad nie ‘n babatjie mens nie en ek was nog altyd liewer vir diere. As tiener het ek altyd voorspel dat my hele huis eendag vol diere sal wees en dat ek kinders kry sal los vir die “moederlikes” onder ons. Maar die Here het die moeder-instink in my opgewakker en hier sit ek nou met ‘n klein monstertjie en nog een wat in my maag groei.
My liefde vir diere het egter nie verdwyn nie en ons het (teen my man se wil) ‘n mini dieretuin aan die gang. Ons het twee baie groot honde (mense noem hulle soms perde), ‘n hasie, twee katte en ‘n tenk vol visse.
Mac en Macy is buite honde, maar hulle slaap saans binne op die stoep. Die hare is oral en elke nou en dan is daar ‘n glipsie wat opgevee moet word. Mac, ons seuntjie slaap deur, maar Macy se blaas kan nie heelnag hou nie. Hulle is albei ongelooflik met Lisa en laat haar graag toe om hulle te cuddle.
Jimmy, die hasie, was ‘n geskenk van Oupa op Lisa se tweede verjaarsdag. Hy is vernoem na Jimmy braaisous, want my man het gespot en gesê die hasie gaan gebraai word. Jimmy is nie ‘n petshop-konyntjie nie, maar ‘n oewerkonyn wat Oupa by ‘n rasta langs die rivier in Montagu gekry het. Jimmy was nog nooit juis mak nie en kan nie eintlik vasgehou (of gevang) word nie. Jimmy het vir die eeste 5 maande mooi in die hokkie gebly, maar is nou ‘n free-range haas wat die vryheid van die tuin vreeslik geniet.
Katrina, ons eerste kat, het ons as ‘n volwasse kat aangeneem. Ek wou nog altyd ‘n kat met die naam Kat hê en het gehou daarvan dat haar naam dieselfde as die karakter van Paljas is. As Afrikaanse onnie het dit met my hart gepraat. Sy is oud en rustig, maar spring sommer gou uit die pad uit as sy Lisa sien aankom.
Fiela het onverwags gekom. Ek het die mooiste klein katjie op Facebook gesien en MOES haar net aanneem. Aangesien Paljas deur Fiela se kind as voorgeskrewe boek vervang word, was haar naam vanselfsprekend. Fiela en Lisa was dadelik beste maatjies. Elke aand het Fiela in Lisa se nek aan die slaap geraak en Lisa het Fiela soos ‘n babatjie rondgedra. Maar Fiela het ook gekom met ‘n hele pelaton vlooie en ons het haar sommer Fiela-vlooi herdoop.
En so het die Avonture van Fiela en Lisa begin en ek verkyk my aan die tweetjies. Fiela spring saam met Lisa trampoline en kry die oorskiet melk uit Lisa se papbakkie. Sy word afgeklap as sy ‘n oorlas is en word omhels as ons by die huis kom. Fiela moet saamry as ons die kar in die garage trek en sy luister as Lisa saans vir haar ‘n storie vertel. Fiela en Lisa se avonture het maar nou eers begin, maar ek sien dit gaan nog lank aanhou.