62. Ma-sisme is amper so erg soos rasisme.

 

moms 2

Daar is deesdae so ongelooflik baie groepies vir mammas oral op die net. Jy het groepies vir mammas in dieselfde area, groepies vir mammas in dieselfde jaar, groepies vir mammas wat borsvoed, groepies vir mammas wat nie borsvoed nie, groepies vir mammas wat goed wil verkoop en groepies vir mammas wat goed wil koop. Daar is werklik groepies vir elke tiepe ma.

Dit is soms vir my ongelooflik hoe onbeskof en lelik ma’s op van hierdie groepies kan raak. Dit maak my regtig hartseer wanneer ‘n ma ‘n opregte vraag het en mense val haar aan oor hulle eie persoonlike opinies of geloofsoortuigings. Dit is asof die ma’s vir ‘n oomblik heeltemal vergeet dat daar ‘n mede-mamma met gevoelens en vrese en swakhede en ‘n hart aan die ander kant van die rekenaarskerm sit.

images

Dan kry mens ook Watsapp groepies tussen vriende. Dis selfs nog erger, want hier voel baie mammas dat hulle deur hulle vriende veroordeel word en dit raak soms baie persoonlik. Ek self, het al soveel keer per ongeluk te sterk oorgekom wanneer iemand iets vra. Dan voel ek so sleg, want ek het iets gesê sonder om te dink of ek het te sensitief oorreageer. Deesdae probeer ek regtig hard om meer te ondersteun en net liefde, simpatie en empatie vir mammas te hê. (Ek is verseker nog nie daar nie, maar het darem ten minste ‘n kognitiewe beweging in die regte rigting gemaak.)

Gelukkig is dit nie  net negatief nie, want soveel keer sal ek mooi goed op hierdie mamma-netwerke sien. Waar ma’s wat mekaar nie van ‘n kant af ken nie, saam staan om ‘n goeie doel te ondersteun. Of waar ma’s ander ma’s op ‘n mooi manier ondersteun of help. Mammas wat hulle mede-mammamense lief het bloot net omdat hulle mede-mammamense is…dis al.

Met Lisa, het ek by ‘n paar groepe aangesluit. En ek het gelukkig (en hiervoor is ek super dankbaar as ek na van my ander mamma-maatjies luister) net positiewe ervarings gehad. Ek het die coolste mense ontmoet en dit was ongelooflik om net partykeer met iemand te “click”. Iemand wat soos jy dink en soos jy kind grootmaak. En wanneer dit gebeur is dit asof daar ‘n wolk wegskuif en die son helder begin skyn, want ewe skielik voel jy nie soos ‘n dom ma wat alweer iets oor ‘n poefdoek of ‘n rash of ‘n siekte of ‘n growth spur vra nie.

moms

Ek is MAL oor mammas wat mekaar ondersteun. Ek glo dat ma’s so ‘n ongelooflike krag het as ons saamstaan. As ons verby mekaar se verskille kan kyk…verby mekaar se leefstylkeuses…verby mekaar se agtergronde, glo ek dat ons groot dinge kan bereik.

Ek ‘challenge’ vandag al my mamma-maatjies: Sien vandag ‘n ander mamma raak. En kyk na haar as ‘n mede-mamma. Kyk verby die metode wat sy gebruik (of nie gebruik nie) om haar kind te voed. Kyk verby die manier wat sy haar kind dissiplineer (of nie dissiplineer nie) Soek vandag die mooi in elke ander mamma. Grawe diep en vind daardie ma se mamma-hart en sien dit raak. Soek VANDAG ‘n mamma wat na liefde en onvoorwaardelike aanvaarding smag, en wees VANDAG ‘n mamma wat ondersteun.

En skree dan hardop in die strate “A-Mamma Ek-voel jou” in plaas van AMANDLA AWEHTU, want saam kan ons ‘n stop aan Ma-sisme sit.

11204392_10157082082505179_4866770587305517628_n

Lewer kommentaar