78. Inspirasie mamma 1: Delia Reinders

img-20150723-wa0047

Deur hierdie prempad wat ons gestap het (en ook deur hierdie skryfproses) het ek soveel ongelooflike stories van ander premmammas gehoor dat ek hulle bietjie met julle wil deel. Hulle het my inspireer en ek hoop dat hulle julle ook sal inspireer. Ek deel vandag met julle Delia Reinders se storie!

Delia en haar man, Felix bly en werk in Secunda. Felix is ‘n bekroonde wild fotograaf en het ‘n passie vir die landskappe en natuurskoon van Suider-Afrika. Delia en Felix was 6 jaar getroud voordat hulle swanger geraak het met ‘n dogtertjie. Delia se swangerskap was wonderlik en sy was glad nie naar of siek nie. Hulle het selfs nog vir oulaas in Botswana gaan vakansie hou voor hulle gesin van 2 na 3 verander.

Op 28 weke het Delia hoë bloeddruk ontwikkel. Die dokter het medikasie voorgeskryf en sy is verder gemonitor. ‘n Week later is sy met pre-eklamsië gediagnoseer en nadat haar toestand vinnig verder versleg het, het sy HELLP sindroom ontwikkel. Dit is ‘n lewensgevaarlike komplikasie vir ma en baba. Dit word gekenmerk deur hemolise waar jou rooibloedselle afgebreek word. Die baba kry nie genoeg suurstof en voeding nie en daar is ‘n lys komplikasies vir die ma.

Daar is besluit om dadelik ‘n noodkeiser te doen, maar daar was een probleem: die NICU was vol en hulle moes na ‘n hospitaal met vreemde dokters en nuwe gesigte in Pretoria oorgeplaas word. As gevolg van haar toestand, moes sy onder volle narkose gesit word en toe sy na die operasie wakker word, was klein Anke reeds in die NICU en sy self in die hoësorg eenheid.

Anke is op 30 weke gebore en het 1.065kg geweeg. Sy was vir 24 uur op die ventilator en vir ‘n week op suurstof. Gelukkig het Delia die NICU goed geken, want sy het as radiografis gereeld x-strale van babatjies daar geneem so dit was nie vir haar so intimiderend soos vir ander mammas nie. Sy was dankaar, want sy het geweet dat klein Anke die beste sorg ontvang en tydens die 72 dae in die NICU het die personeel later soos familie gevoel.

dsc_6704

Al was daar baie emosionele dae, veral omdat Felix weer moes gaan werk in Secunda en net naweke kon kom kuier, het Delia gevoel dat sy deur die week vir Anke moes sterk wees. Naweke het sy bietjie laat gaan en saam met haar man deur emosies gepraat en so was hy weer vir Delia sterk en het haar so deur als gedra.

Hulle het soveel ondersteuning en liefde ontvang, beide van familie en vreemdelinge en mense se gebede het hulle gedra. Anke het soveel mense geraak, dat sy nie anders kon as om mooi te groei nie. Felix het oor naweke mooi foto’s kom neem en almal op hoogte gehou van haar vordering. Die oop harte van vreemdelinge en mammas wat verstaan was vir hulle ongelooflik en baie het gegroei tot vriendskappe.

Delia se raad aan ander mammas wat hierdeur gaan is om eenkeer ‘n week ‘n bietjie af te skakel. Gaan doen iets lekker en gaan stap ‘n ent of gaan drink koffie. Al voel jy skuldig dat jy nie by die incubator sit nie, doen iets wat jou weer normaal laat voel. Wees ook elke dag positief al is jou omstandighede nie noodwendig positief nie. Al was jou swangerskap verkort en al het jy nooit daai XL hempie in die kas gedra nie; al het jy nie ‘n maternity shoot gehad nie en al was dit nie die perfekte geboorte nie; al is jou omstandighede nou deurmekaar… jy is die PERFEKTE en KOSBARE mamma vir jou babatjie en niemand kan jou plek in neem nie!

Vandag is klein Anke amper 2 en ‘n regte klein wonderwerk. Sy is gesond, slim, vreesloos en perfek. Hulle is onsagtelik dankbaar vir al die genade en is trots op hulle klein vegtertjie. Die Bybelversie wat die familie koester is Spreuke 31:25: “She is clothed with strength and dignity and laughs without fear of the future.”

Ek haal Delia se woorde aan om mee af te sluit: “Dis die diep waters wat ons leer swem. Die opdraandes wat ons fiks maak. Die vasklou wat ons sterk maak. Die uithou wat ons wenners maak. Maar dis ons geloof in die Almagtige God wat alles die moeite werd maak.”

img-20170115-wa0000

One thought on “78. Inspirasie mamma 1: Delia Reinders

  1. Mamma Delia was self maar ‘n skrale 2 jaartjies oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet en leer ken het. Vriendelikste klein poppie wat met haar rooi tekkies die gang af gehardloop kom. Wie sou toe kon dink dat sy vandag die dapper mamma van netso klein vriendelike poppie sou wees. Saam met julle dankbaar en bly dat die Almagtige Vader vir Anke onderneem en julle so deurgedra het in ‘n moeilike tyd. Aan Hom al die eer.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s