120. Mmmmm…

c4dac44e349bb6d7b9036720db64222b--disney-disney-disney-love

Daar is ‘n paar M-woorde of konsepte waaroor mense nie graag praat nie en nee, MUFASA is nie een van hulle nie 🙂 Alhoewel ek altyd MMMM…uuuu fa sa! hoor as ek daaraan dink.

Een is Menstruasie. Dit is amper ‘n vloekwoord en ons gebruik ander woordjies om daarna te verwys. “My tannie het alweer kom kuier” of “die rooi motor het by my gestop” of “dis sulke tyd” of “daai tyd van die maand”. Dit pla my al lank dat ons nie openlik kan praat oor iets wat met die helfte van ons populasie gebeur nie. So asof ons moet skaam wees daaroor. Wel, ek is oor dit. So Hey! Almal…ek het verlede week my menstruasie gehad! Ok?! Daar is dit. Ek gaan elke maand ten minste een keer die woord MENSTRUEER of MENSTRUASIE gebruik. Want dit mag nie meer ‘n taboe woord wees nie. Dit is NORMAAL!

Nog een is Mental Health. Ons moet net nie sê as ons nie ok is nie en ons mag net nie ‘n rowwe tyd of slegte periode ervaar nie. Alhoewel ons soveel daarvan lees en ons so daarvan bewus gemaak word, is daar steeds ‘n vreemde gevoel wanneer iemand praat van depressie, angs, spanning of sielkundiges. Dit moet stop. En dit stop by my … en by jou. Ek maak elke dag ‘n punt daarvan om in te skakel by my eie emosies en welstand. En alhoewel ek nie elke dag die regte besluit maak om na my self om te sien nie, probeer ek ten minste. En dit is ok om nie ok te wees nie! OK?

Dan is daar Mom’s night out! Ek het verlede Saterdag die aand “af”gevat en ‘n show saam met vriende gaan kyk. Drie mense het my gevra of my man “babysit” en twee het my gevra of dit vir my ok is om my kinders alleen by my man te los. Seriously?! Ek voel klaar so sleg om net een aandjie bietjie iets lekker te doen. Mom-guilt is reeds daar. En dan… my man is hulle PA en hy is net so deel van hulle opvoeding en opbrengs as wat ek is. So Nee. Ek voel nie sleg nie (alhoewel ek dit 3 keer in my kop moes herhaal om dit te glo) om ‘n aand af te vat nie. Ek is nie bang (glad nie) om my man en PA van my kinders te vertrou om vir EEN aand na hulle om te sien nie. En nee, dit is nie nodig om vir hom ‘n “geskenkie” te gee nie, want ons is saam in hierdie crazy “ouerskap” ding.

Die laaste woordjie is Miskraam. En hier is dit ‘n tricky plek. Miskraam is anders vir elkeen wat daardeur gaan. En as jy nie daaroor wil praat nie, want jy kan nie of wil nie, dan is dit fine. Maar om daaroor te praat is nie altyd sleg nie. Ek het verlede week net na my menstruasie (yes…I said it) ‘n miskraam gehad. Ek het nie eers geweet ek is swanger nie. Ek is ook op voorbehoed en is klaar met kinders kry. Tog na ‘n week se pyn, het die dokter bevestig dat ek wel swanger was en dat ek wel ‘n miskraam gehad het. Woes. I know. Maar toe ek daaroor praat, was mense se reaksie geskok…nie omdat ek ‘n miskraam gehad het nie, maar omdat ek dit sê. So asof mens dit nie moet sê nie. Tog, moes ek daaroor praat om self sin te maak daarvan. En in my geval is dit dalk anders, want ek wou nie nog kinders hê nie en ek was nie opgewonde oor die idee van ‘n swangerskap nie. Dit maak nie saak wat jou situasie was nie, dit is ok om te sê dat jy ‘n miskraam gehad het. Dit is ok om dit ook vir jouself te hou. Maar dit gebeur veel meer as wat mense dink, want ons praat nie daaroor nie. 

Vandag is my hoop dat ons sal praat oor die Mufasa-woorde in ons lewe. En al begin joune nie met ‘n M nie, praat daaroor. Deel jou probleme en vrese en oorkom dit. En hou op om jammer te wees oor dit wat jou ‘n vrou maak. En goed wat jou as vrou teister.  Want as VROU, is jy vir God belangrik en as VROU moet ons mekaar ondersteun en liefhê.

Lewer kommentaar