67. Maak jou tjorretjie vol!

1

Inspirasie is vir my ou lewenstjorretjie soos petrol. Ek moet elke nou en dan volmaak om eers weer vir ‘n tydjie te kan ry. Vir ‘n paar weke brand my petrolliggie al en ek kom ruk-ruk soggens by die werk aan. Maar vandag is volmaakdag en ek is GEiNSPIREERD!

Vanoggend het ons ons wekkers vir 2:45 gestel en vroeg opgestaan om te sien hoe Wayde van Niekerk die 400m wêreldrekord breek en ‘n hele nasie sommer net so binne 43.03 sekondes inspireer. Hy het die wêreld se harte gesteel en baie mense met trane van trots gelos.

My hart het hy egter verlede jaar al gesteel toe ek hoor dat hierdie merkwaardige outjie van die Kaap kom en dat hy, soos Lisa, ook ‘n preemie was. Om te dink dat hy ook sy eerste paar lewenswekies in ‘n broeikas in Grootte Schuur deurgebring het, het onmiddellik my aandag getrek en ek het sy reis na die Olimpiese Spele aandagtig begin volg.

2

Wat vir my so ongelooflik van Wayde is, is sy nederigheid. Dat hy altyd sy bes gee, maar nie grootkop kry nie. Hy bly steeds die cool, vriendelike plat-op-die-aarde “Capie” met ‘n onskuldige glimlag. En wat my asem heeltemal weggeslaan het, is toe hy aan die begin van die jaar R500 000 aan die Newborn Trust by Grootte Schuur geskenk het. Dat hy weet waar hy vandaan kom en dat hy teruggee vir sy gemeenskap, het my werklik geinspireerd laat voel.

Ek hoor so baie dat mense sê  Lisa se storie inspireer hulle. Dan voel ek warm en lekker in my hart. Om te dink dat my tawwe klein dogtertjie dit regkry om ander mense te inspireer, is vir my ongelooflik. Ek is so opewonde om haar eendag as sy bietjie groter is, van Wayde te vertel. Van hoe hy ook ‘n klein ou dingetjie was. En hoe hy nou al die ander vet babas uitstof en rekords breek en beroemd geraak het. Ek sal haar vertel van sy omgee hart en hoe hy nie gaan lê het toe mense hom kritiseer het nie. En ek hoop dit inspireer haar om ook groot drome vir haar klein lyfie te begin vorm. En ek kan nie wag om te sien wat sy eendag as sy groot is gaan doen nie!

2016 sleepover 1309

Inspirasie-stasies is oral om ons. Soms is dit in die groot oomblikke wat op tv verskyn en soms is dit ‘n klein woordjie wat oor jou gespreek word. Soms vind jy dit in ‘n liedjie en soms op die strand of in die woud. Soms vind jy dit in ‘n boek en soms moet jy dit op die langpad gaan soek. Daar is tye waar jy heeltemal ongeinspireerd voel, maar dalk is dit juis dié tye waar jy ander kan inspireer. Ek daag jou vandag uit: Vind jou inspirasie  en inspireer iemand om jou!  En maak seker jou tjorretjie is volgemaak, want wie weet…miskien gaan die prys weer binnekort op. images

 

 

2 thoughts on “67. Maak jou tjorretjie vol!

Lewer kommentaar