121. Langs die tennisbaan.

images (5)

Ek speel nie tennis nie. Ek het wel toe ek jonger was. Dit het egter op ‘n ramp uitgeloop toe my geliefde hamster dood is terwyl ek op ‘n tenniskamp vir belowende spelers was. Na hierdie traumatiese verbinding met tennis het ek my tennistekkies vir dansskoene en netbalballe verruil. Tog, is ek die tennisbestuurder van my skool se tweede span en elke Maandag ry ons oor die berg vir ‘n tenniswedstryd.

Elke week pak ek ‘n pakkie merkwerk in om hopelik langs die baan gemerk te kry. Maar elke week daag God op. Onbepland, sonder dat ek dit inisieer en net soos hy altyd by my arriveer in ‘n “TA-DA…hier is ek” oomblik. Snaaks hoe Hy soms vreemde mense gebruik om op vreemde plekke met ons te kom gesels.

Die eerste week was ons by Groenpunt en terwyl ons wag vir almal om klaar te speel, vra een van die seuns my of ek dit geniet om ‘n ma te wees. ‘n Moontlike vinnige antwoord loop uit en verander in ‘n 30 minute gesprek oor geloof en ouerskap. En die beste van alles was dat ek nie die een was wat gebabbel het nie, maar die seun wat my bly uitvra het oor alles. Terug by die skool bedank hy my, want hy sê hy het nie ouers met wie hy kan praat oor sulke goed nie en dat hy nou werklik verstaan hoe geloof in ouerskap en huwelik werk en dat hy nou ook eendag ‘n pa wil wees, maar definitief eers as hy in ‘n huwelik is met iemand wat dieselfde as hy glo. Ek het in die bakkie geklim en die radio was aan. Die liedjie wat gespeel het was: “Aint no mountain high enough”… op 5fm. Jip… daar is dit.

Verlede week is ons by Rondebosch en ek word verwelkom deur ‘n vriendelike warm juffrou wat my sommer in ‘n drukkie omhels. Sy borrel en ek weet eerlik waar nie hoe ons oor geloof begin praat het nie, maar daar gesels ons ‘n hond uit ‘n bos uit terwyl die balle links en regs en links en regs oor die net voor ons beweeg. Iewers begin ons gesels oor ons “insecurities” en skielik spreek sy lewe oor iets in my hart waarmee ek worstel. Sy sê: “Bid net dat God jou intensies sal reghou en dat Hy in beheer is. Want ons kompeteer nie met ander vroue in ons lewe nie, maar ons is susters. Almal met ons eie unieke eienskappe, talente en hartsbegeertes. Solank jy joune in Christus uitleef en jou intensies reg is, sal jou hart en boodskap ook reg oorgedra word.” Ons gesels aan en begin oor kerk en sommige tradisies praat en ek sê weer iets wat haar aanraak. Daar, tussen die nette, het God langs ons kom sit, want waar twee of meer in sy naam is, is Hy. En daar het die Heilige Gees met ons kom werk. Ek het weggestap met ‘n hart wat vol is en ‘n glimlag het skelm oor my gesig gekruip en bly sit terwyl ons op die bus terugry.

Gister sit ek langs die juffrou by Jan van Riebeek. Ons gesels maar weer oor ditjies en datjies en iewers kom dit uit dat haar man ‘n dominee is. Sy is 30 en hy 31 … en BOEM, daar tref my tradisionele vooroordeel my in die gesig. Iewers in my kop het dit vasgehak dat dominees nie jonger as 50 moet wees nie. Dat hulle iewers moet wegkruip tot op mid 40 en dan iewers net begin preek. Simpel hoe mens dink, maar ek moes regtig hard werk om haar as dominee se vrou in te sien op 30. En daar, weereens onverwags kom werk God in my hart. En ons gesels oor kerk en God en hoe hy deur ons as “jeug” (en ek weet ek is al eintlik al oor die draad, maar dis asof my broekspyp vasgehak het hier en ek seker altyd gaan sukkel om dit los te kry, want my hart voel nog soos “jeug”) werk.

Volgende week gaan ons Bishops toe en ek kan skielik nie meer wag nie. Wat gaan God die keer vir my kom sê? Ek is so dankbaar dat kerk deesdae nie net tussen die mure van ‘n ou gebou met ‘n toring plaasvind nie, maar dat kerk oral om en in ons is.

Hoe praat God met jou? Is dit in die kar soggens op pad werk toe? Is dit wanneer jy in die natuur is? Is dit tydens stiltetyd of wanneer jy omring is deur mense? Hoor jy nog Sy stem en sien jy nog Sy hand in jou lewe?

 

 

 

2 thoughts on “121. Langs die tennisbaan.

  1. Ek het dit so geniet om te lees en dankie vir die deel. Gedink ek is enigste een wat so op vreemde plekke Hom ontmoet. Langpad in die kar, vreemdste pasiente, by die see, sons opkoms as ek stap…

    Like

    • Die Here het die afgelope ruk tydens die lockdown my geloof kom versterk deur vir my ‘n ladybird as teken te stuur. Ek het my werk net na die vlak 5 lockdown verloor en het eintlik nog vrae gehad rondom of ek hoegenaamd die werk moes aanvaar, omdat ek in Februarie eers aangestel is. Ek het gevra dat God vir my ‘n ladybird sal stuur. Ek het in klompie kinderboeke die onverwagse besef gehad dat daar orals ladybirds wegkruip wat ek voorheen nie eers besef het nie. Maar ek vra toe ook op ‘n dag vir die Here om vir my ‘n regte egte ladybird te stuur. Ek het toe vir ‘n ruk daarvan vergeet en in dieselfde week as wat ek my werkgewer moes gaan sien om die onsekerheid van my posisie te bespreek, het ons een oggend op die stoep gestaan en my dogtertjie van 2 jaar het vir my gesê daar is ‘n mier (omdat sy nie die naam van ladybird kon sê nie) op die vloer. Ek het afgebuk om vir haar te wys dat dit nie ‘n mier is nie, maar wat ek toe dink is ‘n blaar. En wraggies, toe ek afbuk om die “blaar” op te tel, is dit toe inderdaad ‘n regte egte ladybird! Ek was verstom en oorstelpt van vreugde. God is in die detail.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar