Daar is deesdae soveel “Wêreld”-dae dat dit vir my partykeer ietwat afgewater raak. Daar is dae vir die bewusmaking van ALLES: Vigs, Vrouegeweld, Kindermishandeling, Dieremishandeling, Geweld en Borskanker, Prostaatkanker, Klierkanker…alle ander Kanker (om net ‘n paar te noem), maar daar is ook dae vir ander goed soos ‘n dag vir onderwysers, ‘n dag vir verpleegsters, ‘n dag waar jy nie ‘n bra dra nie (my persoonlike gunsteling), ‘n dag vir kaalvoet loop, ‘n dag vir swart dra…en en en.
Wel…volgende week, is dit World Prematurity Day…’n dag wat spesiaal uitgesit is vir die bewusmaking van premature geboortes en babas. En soos iemand wat ‘n sussie aan borskanker verloor het, iets oor borskanker sal bemark…en iemand wat ‘n hond aangeneem het, teen hondemishandeling sal opstaan…en iemand wat ‘n kind met ‘n leeragterstand het, ietsie sal deel oor die onderwerp, is ek natuurlik baie passievol oor hierdie saak.
In die afgelope jaar het ek baie agtergekom hoe min mense regtig weet oor iets waardeur soveel families gaan. Ek self het gesukkel om informasie op die internet te kry. Alles wat jy lees is van Amerika en daar is min inligting oor spesifiek Suid-Afrika beskikbaar. Dus het ek dit goed gedink om bietjie die statistieke vir Prem geboortes en babatjies spesifiek in Suid-Afrika met julle te deel.
Hier is dit dan:
- ‘n Prem baba is enige baba wat voor 37 weke gebore word.
- Prem babas se gewig word tot en met 2kg in gram gemeet (1060g vs 1.06kg)
- Die kleinste baba wat al ooit in Suid-Afrika gebore is (en wat oorleef het), was Lei De Wet van Grassy Park. Dit was 10 jaar gelede en sy was 400g en op 26 weke gebore. Sy was vir 4 maande in die NICU by Kingsbury Hospitaal.
- 80% van alle prem babas word tussen 32-37 weke gebore en slegs 16% word voor 30 weke gebore.
- Die gemiddelde tyd wat ‘n prem baba in die hospitaal moet bly is 2-3 maande.
- In Suid-Afrika word 1 uit elke 7 babas prem gebore (die res van die wêreld is 1 uit 10).
- 90% van babas wat meer as 1kg op geboorte weeg, oorleef.
- 74% van babas wat tussen 800g en 1kg wees, oorleef.
- Slegs 25% van prematuur geboortes is natuurlik (die ander is almal volgens keisersneë)
- Meisies is sterker as seuns en hulle kanse tot oorlewing is 25% hoër.
- In 2011 is 15 miljoen prem babas in die wêreld gebore. 84 000 van hulle was in Suid-Afrika en 10% van al hierdie babatjies het dit nie gemaak nie.
- 1 miljoen babas sterf jaarliks weens premature geboorte.
- 10 jaar gelede was 28 weke die afsnypunt waarby dokters gemeet het of hulle mediese sorg aan die baba kan verskaf. Dit is bereken omdat so min van hierdie babas oorleef, al lewe hulle net na geboorte. Nou word lewe op 24 weke geklassifiseer. In Suid-Afrika is daar steeds hospitale wat geen lugtoevoer aan babas wat onder 1kg of voor 28 weke gebore word, verskaf nie.
- Suid-Afrika is 24ste (uit 184 lande) as dit kom by die hoeveelheid prematuur geboortes. Mosambiek en Malawi is die twee hoogste Afrika lande as dit by hierdie statistieke kom.
- Hier is ‘n grafiek met die ‘sterfte vs oorlewings’ syfers vir babas onder 1kg in die Wes-Kaap vir 2013:
Sjoe…OK dis miskien bietjie informasie-overload, maar dit het my nogal laat terugstaan en (weereens) met ‘n groot dankbare hart daaroor laat dink. Dit het my weereens laat besef hoeveel dinge verkeerd kon gaan op ons reis en hoe verskriklik geseënd ons is met ons klein Lisatjie. Maar dit het my ook laat dink aan al die ander mammas wat nie so gelukkig was nie. Die wat in die negatiewe kant van al hierdie statistieke staan. Die wie sonder ‘n baba sit of met ‘n gestremde baba of kind sit en my hart gaan uit vir al hierdie mammas. Dit is my wens dat niemand hierdeur moet gaan nie.
Daar is soveel redes waarom babas vroeg gebore word. Baie van die kere gebeur dit net spontaan, maar hier is die topredes waarom dit gebeur:
- Ma’s wat meer as een baba dra (tweelinge, drielinge, ens)
- Ma’s wat jonger as 18 is of ouer as 35 is
- Algehele gesondheid (diabetes, oorgewig, hoë bloeddruk, stres).
- Pre-eklampsië (5-8 % van alle swangerskappe)
- Infeksies
- Abnormaliteite (soos probleem met plasenta of water, ens)
Ok…genoeg negatiwiteit! Wat is my punt nou eintlik? Wel, ek wens ek het vooraf meer geweet hieroor sodat ek dalk vroeër al die tekens (my pof voete en my bloeddruk) kon optel. So, my wens is dat meer mense bewus sal wees dat dit regtig met baie mense gebeur en dat jy heeltyd tydens jou swangerskap moet uitkyk vir goed. Maak seker jy gaan na al jou voorgeboorte afsprake. Maak seker hulle toets jou bloeddruk en jou uriene. So kan enige abnormaliteite vroegtydig opgetel word en jy kan gehelp word.
Vir die res, moedig ek elkeen van julle aan om met een mens te praat oor prematuur babas. Net een. Vertel hulle daarvan en wat in hospitale aangaan. Bid vir die 84 000 mammas en families wat in ons land hierdeur gaan. (Kyk wat het julle gebede in ons lewe beteken). Brei bietjie mussies en booties vir staatshospitale of help uit deur ‘n paar Tiny Baby goedjies by Ackermans te gaan koop. Gaan hoor wat die NICU by jou plaaslike hospitaal nodig het en kyk of jy dalk kan help. Soms is dit net ‘n potplant of ‘n ou stoel wat die wêreld se verskil maak. As jy ‘n ou borspomp het wat jy verseker nie weer gaan gebruik nie, skenk hom aan ‘n prem-mamma wat met haar hand sit en express by die NICU. Gaan koop en dra jou plakker by Toys R Us winkels. Dis R10 en dit gaan vir die Newborn Trust by Grootte Schuur. Dra iets pers op die 17de November en ondersteun die veldtog!
Bronne vir statistieke:
http://www.ngopulse.org/press-release/time-focus-84-000-preterm-births-south-africa
http://www.littlelife.co.za/lifemagazine.aspx?ID=1&ArticalID=22
Click to access MortalityStatisticsSA.pdf
http://www.who.int/mediacentre/factsheets/fs363/en/
http://www.health24.com/Parenting/Child/News/Preterm-birth-an-African-killer-20130210