116. Van boeke en boobs gepraat.

twee-kinders-later-web.jpg

Klein Dian is versot op die troos van mamma se borste. JIP! Daar is dit. Hy is ‘n boobman! Hy drink nie ‘n dummy nie, hy vat nie bottel nie. Hy wil net sy mamma hê. Ek sukkel nou al vandat hy een jaar oud is om hom gespeen te kry, maar boeta baklei en mamma is bloot net te moeg om elke aand terug te baklei. Ek kon nie wag om weer my EIE borste terug te kry nie en vandag is dit al 2 weke wat hy nie meer aan my drink nie! Twee weke waar ek weer normale klere kan dra, waar ek kan slaap, waar pappa kan opstaan om ‘n bottel water aan te gee. Twee weke van vryheid. Ek het my BOOBS terug!

Snaaks genoeg het hy dieselfde aand as my boekbekendstelling [vir die van julle wat nog nie weet nie; ek is genader deur NB uitgewers se LuxVerbi afdeling om hierdie blog in ‘n boek te omskryf] ophou drink aan my. Ek het my van die boekskryfproses gespeen en moes “let go” van my boekbabatjie en hy moes “let go” van sy boobies. “Letting go” is moeilik. Al die vrese en vrae wat daarmee gepaard gaan. Hy moes sekerlik bang wees of hy op sy eie buite sy gemaksone kan funksioneer. Nes ek bang was dat my boek en my baie “real” uitkyk op skryf en ma-wees gekoop en geniet sal word. Ek was bang dat my broosheid as swakheid gesien sal word en ek was bang vir wat mense uit die boek sou neem.

Om ‘n boek te skryf was nog altyd iets waaroor ek gedroom het. Iets wat ek op my emmerskoplysie gehad het, maar ook iets wat ek half geweet het heeltemal buite my bereik is. Ek hou van skryf. Dit is vir my helend en lekker. As ek nie te veel dink nie, is dit vinnig. Die woorde vloei net uit en my vingers gly oor die sleutels terwyl ek tik. Tog het ek nooit vir ‘n oomblik gedink dat ek ‘n boek binne my het nie. Baie stories wel, maar nie ‘n boek nie.

So hoe voel dit dan om eendag op 35 jarige ouderdom jou eie boek in jou hande vas te hou? Wel, jou hande bewe terwyl jy met hoendervleis oor die buiteblad streel. Jy ruik die bladsye van ‘n nuwe boek … jou nuwe boek … en jy haal diep asem om die reuk vir altyd in jou geheue vas te vang. Jy giggel soos ‘n klein dogtertjie wat ‘n nuwe hondjie kry en jy druk  die boek styf tussen jou borste vas. Dan lees jy 3 keer jou naam op die voorblad en dan net voor jy dit neersit, lees jy gou nog een keer jou naam, net om seker te maak dis werklik JOU boek.

Ek is absoluut stom oor die terugvoer en staan in dankbaarheid voor die spieëltafel. Ek voel nog heeltemal oorweldig oor die tydskrifartikel in die Juig, die Kwêla-onderhoud en elke radio onderhoud wat ek al gehad het. Dit is vir my ongelooflik hoe God hierdie proses seën en hoe hy soveel “healing” bring vir my en die lesers van die boek. Dankie aan elke leser! Dankie aan elke brokkie terugvoer! Dankie vir elke foto van jou wat my boek lees! Dankie vir al julle liefde en ondersteuning! Dankie dat julle al van die begin af ons storie lees! TWEE KINDERS LATER … nou ook beskikbaar in ‘n BOEK!

 

Advertisements

115. Die HUGE goue randjie om die donker wolk

download

Gister na my effens morbiede post het een van my vriendinne my gekontak en moed ingepraat. Sy het gevoel dat als te negatief geskryf was en dat daar wel hoop en positiewe goed daarbuite is. Ek het saamgestem, maar ook gevoel dat mens maar soms mismoedig mag wees en soms maar ook negatiwiteit moet uitskryf. Dit het my egter bly pla. En gisteraand bid ek dat God bietjie vandag vir my iets positiefs moet wys.

Na ‘n bitter slegte nag waar Lisa siek wakker geword het en ek steeds van Sondag af met sinus sukkel en almal heeltyd huil en hulle ma nodig het, het ek maar min hoop dat God vandag al vir my die positief uit die dag sal kom haal.

My matrieks skryf Donderdag hulle vraestel, so ek moes by die skool wees om seker te maak alles is reg, gekram en uitgetel. So ek vat my siek lyf en Lisa se lyfie saam skool toe vir ‘n paar lesse en dan al die admin. Ek kry eers 10:45 ‘n doktersafspraak vir Lisa. Ma’s mag mos nie siek word nie, so ek kap maar aan. Terwyl ek aan die dokter verduidelik dat ek ook siek geword het nadat Diantjie siek was, maar dat ons nie nou geld het vir almal om in een maand siek te wees nie, druk hy die koorsmasjientjie teen my kop. 38.9 beepbeep die dingetjie. Lisa het net ‘n verkoue en kry nie eers medisyne nie en maar hy sit my op die bed en ondersoek my. Heeltyd maal dit in my agterkop dat ek nie eintlik hiervoor geld het nie en dat ek hoop hy charge my net vir een konsultasie en nie twee nie.

Hy kry vir my antibiotika, vir Lisa Coryx en ‘n ekstra voorskrif vir haar indien sy dalk slegter raak. En toe ek wil betaal, sê hy net: “Mommy, go get better. I’m not charging you for this.” Ek het gehuil, hom ‘n drukkie gegee en skaam, maar dankbaar uitgestap kar toe.

Dankie Jesus. Dankie vir dadelike antwoorde op gebede. Dankie vir goeie mans. Dankie vir die regte mense op ons pad. Dankie vir die goue randjies om elke dag se donker wolke.

114. ‘n Dogtertjie

1_xDDtujCf0MM_dopGVP2n4g

Vandag is my hart swaar. Ek is ongelooflik dankbaar dat klein Amy-Lee gevind is, maar ek is tranerig en swak. So ek kom skryf nou maar hier die hoeke van my donker kamer uit.

‘n Dogtertjie in ons Afrika-kultuur beteken al jare lank soveel seëninge. Maar nou? Nou skielik nie meer nie. Nou is dit amper ‘n “curse” om ‘n dogtertjie te hê. Elke aand bid ek nie net oor Lisa se toekoms nie, maar vir daaglikse beskerming. Dat sy nie gevat word nie, nie verkrag word nie, nie molesteer word nie, nie gemartel word nie, nie vermoor word nie. Ek wil so graag bly wees vir twee van my vriendinne wat dogtertjies verwag, maar ek kan nie wees nie. Want ek is bang.

Ek kyk na Lisa. Sy is 5 en ek voel ek moet haar voorberei op wat om te doen as sy ontvoer word. Sy het al geleer om te baklei en te skree en te skop en te byt as iemand haar wil vat. Maar ek voel ek moet haar ook leer om te glo dat mamma en pappa haar sal vind. En dat sy moet luister wat die “ooms” vir haar sê al verstaan sy nie die taal wat hulle praat of wat hulle besig is om te doen nie.

Aan die ander kant is sy 5. Net VYF. Ek wil haar nie onnodig bang maak nie. Ek wil haar klein hou en haar onskuld behou. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat glo dat sy die mag het om die “bad guys” met haar fiets en haar papierswaard te kan vang. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat glo in “vliegperdjies” wat die pienk en oranje kleure tussen die wolke maak. Ek wil ‘n dogtertjie hê wat in feëtjies glo en wat “unicorns” en reënboë teken.

Amy-Lee het heelaand by my gespook. Ek kon nie ophou dink wat deur daai klein breintjie moet gaan nie. Ek kon nie help om na Lisa te kyk en te wonder wat ek sou doen nie. Ek en my man het gepraat oor wie ons sal bel as dit met ons moet gebeur. My man is bereid om tronk te gaan, maar hy sal nie rus totdat die “bad guys” weg is nie. Wat is reg in hierdie geval? Skielik is alle normale lyne geblur.

Honderde posts het uitgegaan oor hoekom “ons” net hierdie dogtertjie soek en nie ook alle ander kinders (meestal nie wit) wat ook weg is nie. Dit laat my sleg voel. Want dit maak nie saak wie jy is nie, jy is iemand se kind en almal moet gelyk gesoek en waardig wees.

Miskien is dit omdat wanneer ek na klein Amy-Lee kyk, sien ek vir Lisa. Dit is net soos toe klein Poppie so wreed vermoor is. Ek het Lisa se krulkoppie op die voorblad in Poppie se ogies gesien. Dit gaan nie oor die kleur en waardigheid wat ons daaraan of nie daaraan koppel nie. Dit gaan oor of ons daarmee kan assossieer. Ek laai elke dag vir Lisa by die skool af. Dit kon net sowel ek gewees het. My kind wat weg was. My lewe wat binne ‘n sekonde verander.

My hart bloei vir elke ma en elke familie wat al ooit iemand wreed moes verloor het. Ek kan myself nie indink nie. Ek hoop dat my vertroue in ons polisiemag herstel sal word sodat ek weer kan glo dat hulle elke liewe verlore kind sal opspoor en lewend terugbesorg aan hulle geliefdes. Ek bid vir vernuwing en dat God ons dogters sal beskerm.

God seën Afrika. Nkosi sikelela Afrika!

113. Wat die ouerskapboeke jou nie leer nie.

download (1)

Daar is op die oomblik ‘n paar van my vriendinne wat swanger is. Sommige van hulle is al lank genoeg in my lewe om te weet dat die ouerskapboeke baie idilies is, maar ‘n paar het werklik nie ‘n clue wat op hulle wag sodra babatjie eers hier is nie. Dit het my bietjie oor die realiteite van ma-wees laat dink en ek skryf hierdie glad nie om enige toekomstige mammas af te skrik nie, maar net om hulle ‘n bietjie voor te berei op die real world. 

Daar is soveel goed wat ek nie in enige boek gelees het nie. Goed wat my laat lag en soms laat huil. Die lys is lank, maar ek deel met julle my top 10 (of 11):

  1. Jou kar sal NOOIT ooit weer JOU kar wees nie. Dit is wonderlik om te dink dat jou kinders nie in die kar gaan mag eet of drink nie. Ry maar net vir ‘n week met kinders in die kar (nie eers ver nie, net skool toe en terug) en ons praat weer. Daar is op enige gemiddelde dag ‘n ou sagte Niknak/fling, ‘n pop, ‘n karretjie, ‘n onpaar sokkie, ‘n skoen (die een waarvoor jy al heel week soek), ‘n taai half-gekoude lekkertjie, ‘n McDonalds chip en ‘n paar potlode in my kar. Dan praat ons nie van dit wat onder die karstoeltjie in die diep donker grot wegkruip nie. Daar vind jy vrot halfgehapte vrugte wat in die Woolworths-sappie wat uitgegooi is, lê en groei; die melkbottel met borsmelk wat al amper joghurt is en soms selfs jou huis se ekstra sleutel.
  2. Slaap.  Ek wil amper net hier stop en lag. En weer lag. En dan weer lag. Maar omdat van julle nog nie ouers is nie, sal ek maar uitbrei. Jou kind slaap dalk (en ek bid regtig dat dit vir jou so maklik sal wees) van die eerste week af deur. Maar al sleeptrain jy en al co-sleep jy met ‘n bors in jou baba se mond, is slaap nie meer slaap nie. Jy slaap net nie meer nie. Jou baba/kind is soms 5 keer ‘n nag wakker. Myne staan soggens rondom 5:00 op. Dit is normaal om aan die slaap te raak tydens ‘n fliek of selfs tydens jou gunsteling series, want moeg is deesdae net nog ‘n byvoeglike naamwoord wat aan jou naam gekoppel bly. Gelukkig vertel ‘n kollega dat sy die vakansie met haar tieners tot na 10:00 geslaap het, so daar is weer iets om na uit te sien.
  3. Jou wasgoed hou nooit op nie. Ek wil amper skree as ek sien dat “oulike” Lisa 4 broeke en 3 tops aangetrek het omdat ek gesê het sy moet warm aantrek. Dit omdat ek weet dat ek dan al 4 en 3 kledingstukke sal moet was. Jou baba sal mors sodra jy iets skoon vir hulle of jou aantrek en jou wasgoedmandjie sal nooit weer op datum kom nie. Die boeke leer jou ook nie dat jy sekere items doodeenvoudig gaan weggooi nie. Dit is soms makliker om dit liewers soos in Frozen te “Let go” as om nog ‘n vlek met die hand te staan en uitvryf.
  4. Jy gaan met jou man baklei oor wie die meeste buk … Ja, dis reg…BUK! Want dit gaan voel asof jy die hele dag net goed van die grond af optel. Jy gaan net iets optel, omdraai, dit weggooi en terugkom om te sien daar lê weer iets op die presiese plek waar jy nou-net iets opgetel het. Ek praat nie van ‘n kombers of ‘n hemp nie. Jy sal ‘n hele bakkie Otees wat uitgeval het een vir een optel; die uitgespoegde worsie; die kop van ‘n pop; die miljoene klein knipsels van papiertjies wanneer jou kind leer knip; Lego; Lego; Lego; sokkies; bottels; bakkies;  Lego; tampons wat jou seuntjie uit jou kas uitgegooi het; nat stukke mango; Lego; een-happie-gevatde appels; en nog Lego.
  5.  Jy gaan vloek! Ja, selfs die hoogste Christene vloek. Jy gaan jou shit verloor … jou toys gaan dalk lettelik uit die kot kom. Jy gaan daarna bitter skuldig voel en dadelik teruggaan en jou kind (wat jy letterlik wou optel en teen die muur gooi) optel en vashou en sleg voel. Maar jy gaan vloek. Belowe. En dis ok.
  6. Jy en jou man gaan meer baklei as wat jy ooit gedink het moontlik is. Jy gaan op ‘n punt in die middel van die nag op hom skree…soos ‘n besetene. Hy gaan probeer om als reg te maak en jy gaan voel asof jy alles doen en hy weer voel asof jy hom nie waardeer nie. Julle gaan nie meer genoeg seks hê nie en julle gaan soms vir weke nie eers soen nie. Julle gaan voel asof julle nooit meer tyd vir mekaar of selfs net op jou eie het nie. Maar dis ok. Dit gaan verby en daar kom ‘n dag waar julle weer lekker sal wees. Solank julle nog tussen al die poefdoeke en borsvoedboobs kan lag, sal alles ok wees.
  7. Jy gaan na jou kinders verwys as monsters/etters/demone/wetters/apies/fokkertjies/duiweltjies/ens. en jy gaan hulle nie minder liefhê as gevolg daarvan nie. Jou kinders gaan soms voel soos aliens en jy gaan soms voel asof hulle nie normaal is nie. Mense gaan frons as hulle dit hoor, maar ek belowe dis ook ok. Dié wat reeds ouers kinders het, het net vergeet dat hulle ook eens so gevoel het en dié sonder kinders sal nog daar kom. Jou “engeltjie/liefiekind/skattebol”-kindjie sal weer terugkom en jy het hulle net so lief soos die monstertjies.
  8. Speelgoed van hel. Niemand berei jou voor op simpel speelgoed nie. Enige iets wat musiek maak en waarvan mens nie die batterye kan uithaal nie, is hel. Ons noem dit “the gift that keeps on giving”. Ons het so ‘n simpel teddie wat liedjies sing en dit haak op die oomblik vas en hy kan nie afsit nie. Ek het hom al teen die muur gegooi, onder die kussing weggesteek en vanoggend is hierdie teddie al singend in die buitedrom op vuilgoeddag uitgegooi. Niemand berei jou ook voor op die feit dat jy op ‘n stadium uitgedroogde slime uit jou kind se hare sal moet haal nie. Ook nie dat jy sal moet Google hoe nie. Ps. Kookolie en ‘n bietjie geduld doen die trick.
  9. Jy gaan nie meer omgee oor kos nie. En Nee, ek bedoel glad nie dat jy nie meer lus gaan wees vir fênsie kos in ‘n lekker restaurant nie. Ek bedoel jy gaan random stuff eet. Soos wat ookal jy van die grond af optel. Ja…glo dit of nie, maar dit gebeur. Jy gaan nie tyd of energie hê om iets vir jouself te maak nie, so jy gaan eet wat jou kinders oorlos. Dit sluit soms vreemde goed in en geen boek het my hierop voorberei nie. Jig.
  10. Bo en behalwe al die gagga goed, gee die boeke nie vir jou hierdie stukkie raad nie. Jy gaan jou mense vind en dit gaan amazing wees. Jou mense gaan nes jy deur al die goed op hierdie lys. Hulle verstaan net en hulle kinders is ook soms ettertjies. Dit is die belangrikste ding om te vind op jou ouerskap-reis … jou TRIBE! Hulle sal jou sê as jy belaglik is, sal jou in die middel van die nag met ‘n kostuum help, sal jou nie judge nie en saam met jou lag en huil. Hulle is belangrik. Hulle leer jou dat dit ok is as jy nie ok is nie en dat dit ok is as jy ok is ook.
  • Hierdie laaste punt is eintlik deel van my lys, maar indien jy nie kies om te borsvoed nie, is dit nie top 10 nie. Maar as jy borsvoed: Jy gaan soms vergeet dat jou boob nog uit jou hemp hang. Jy gaan soms meer as wat jy kan tel, ‘n kind hê wat aan jou boob is. Op ‘n stadium gaan jy glad nie meer omgee wie jou borste sien nie. Jy gaan die vreemdste goed google en jy gaan selfs vreemder goed probeer doen om dit makliker te maak. Jou boobs gaan pyn en bloei en jy gaan aan die begin 10 keer ‘n dag voel jy wil ophou. Maar jy gaan elke dag oordeel voel … maak nie saak of jy borsvoed of bottelvoed of wat ook al nie. So doen net wat jy voel reg is. En hou net aan.

Laastens, jy gaan ‘n ongelooflike ma wees en hierdie crazy-rollercoaster reis is fantasties. Dit maak ons mens en dit maak ons deel van iets veel groter! Onthou wie jy is, maar gee genoeg ruimte vir jouself om aan te pas by jou nuwe rol as mamma!

112. Wat ‘n wonderlike wêreld waarin ons woon

74950199-portraits-of-different-people-profession-nationality-vector-illustration.jpg

As kind het ek in ‘n redelike konserwatiewe, “beskermde” gemeenskap grootgeword. Ons het nie enige Moslems of Hindoes in ons skool gehad nie. Daar was net ‘n paar kleurlinge en slegs een of twee swart kinders in my graadgroep. Al ons vriende het uit sogenaamde “normale” gesinne gekom … met ‘n ma, pa, broer en/of suster. Ons was bewus van “gays” en dit was ‘n area wat vir ons vreemd was. Om ‘n sielkundige te sien was taboe en om ‘n tattoo te kry was sonde. Almal het vleis geëet en dit was onbeskof as iemand met vegatariese wors by ‘n braai opdaag.

Vandag lewe ons in ‘n wêreld waar ons openlik kan praat oor gender en oor die hele spektrum van seksualiteit waar jy jouself kan bevind. Ons gesinne is uitgebrei en gemeng. Ons leer nie net uit boeke van verskillende gelowe nie, maar ons het vriende en kollegas wat anders as jy glo en dink. Ons mag dalk moet Google vir ‘n oulike gepaste gereg as jou vegan/lactose intolerant/gluten-allergic/IBS vriend kom kuier, maar ons snoepie het deesdae selfs vegan-hotdogs. Ons lewe in ‘n ongelooflike tyd waar ons mense wat heeltemal anders as ons is, nie verdra nie, maar heelhartig aanvaar.

Gister terwyl ons huis toe ry, vra Lisa vir my hoekom haar maatjie, Yusrah , nie varkvleis mag eet nie. Die vraag het my vir een of ander rede omkant gevang. Ek het altyd gedink sy gaan hierdie vrae eers vra as sy bietjie ouer is. Dit het die wonderlike geleentheid oopgemaak om verskillende gelowe aan haar op ‘n kinderlike manier te verduidelik. Toe sy sê dat sy bly is dat sy nie ‘n Moslem is nie, want sy hou nogal van varke het ek maar net geglimlag en besluit dat ons maar weer hieroor sal moet praat op ‘n latere stadium.  

So ‘n tydjie terug het Lisa vir die man agter Mr Price se toonbank “Dankie Oom” gesê. Ek was trots op die feit dat sy uit haar eie uit vir die vreemde man dankie sê. Die “oom” het dadelik kliphard gelag en gesê: “Bokkie, hierdie moffie is nie ‘n oom nie, maar liewer ‘n tannie!” Dit het dadelik ‘n gesprek oopgemaak toe ons uit die winkel stap en ek moes veel vroeër as wat ek verwag het verduidelik hoe die oom-tannie ding werk.

Dié vakansie moes ek verduidelik hoekom Janet in ‘n shack saam 6 ander mense bly toe ek ons wonderlike huishulp in die reën by die huis gaan aflaai het. Dit was ongelooflik om te kan verduidelik hoekom ons meer bevoorreg is as gevolg van ons verlede. En hoekom ons ‘n plig het om ander te help en om elke dag dankbaar te wees vir alles wat ons het.

Ek is so dankbaar vir ‘n dogtertjie wat vrae vra. Vrae wat soms vir my moeilik is om te beantwoord, want sommige van ons wêreld se wonders is selfs te moeilik vir my grootmensbrein om heeltemal te snap. Dis ook nogal moeilik om dinge op ‘n vyfjarige se vlak te verduidelik.Maar dit is vir my ongelooflik om haar van vroeg af te kan leer om hierdie dinge sonder vooroordeel te kan leer ken en haar vrae te vra. Ek is ook dankbaar vir haar aktiewe brein wat hierdie dinge raaksien en optel en dat sy WIL weet hoe dinge werk. 

Ek hoop en glo vandag in ‘n nuwe generasie wat grootgemaak word deur mense wat met nuwe oë na die wêreld kyk. Ek bid dat elkeen van ons kinders vrae sal vra wat ons dalk soms ongemaklik maak en ek bid bo alles vir wysheid om dit op die korrekte manier te antwoord en te hanteer. 

Ek weet hierdie wonderlike wêreld bestaan nie orals nie en dat die meerderheid van ons nog sukkel met baie van hierdie eens taboe-konsepte. Maar vandag sê ek dankie. Dankie vir verandering. Dankie vir ‘n blink toekoms. Dankie vir verskille. Dankie dat ons vooroordeel kan leer en ontleer. Dankie vir ‘n tweede kans op menslikheid.  Net DANKIE!

111. Wanneer die bad guys nie net die wolwe in storieboeke is nie.

wolwe.jpg

Ons woon in Suid-Afrika. Die land met ‘n skrikwekkende misdaadsyfer. Waar plaasmoorde ‘n realiteit is, verkragting ‘n allerdaagse vrees is; waar bendegeweld seevier  en waar elke liewe mens wat ek ken al direk deur misdaad geraak is.

Ek is so ongelooflik lief vir ons land en het ‘n onblusbare brand in my hart vir die land se mense. Ek loop met sakke vol hoop vir ons toekoms en raak kinderlik opgewonde wanneer ek sien wat die jeug alles in ons land bereik. Ons land het baie wilde diere, maar wolwe nogal nie. Dit beteken egter nie dat die bad guys nie hier is nie.

Nou die dag was ons gou vinnig winkel toe om vir my man draftekkies te gaan koop. Toe ons 20 minute voor die deure oopmaak daar opdaag, stap ons rustig met albei kinders  Mc Donalds toe. Dit is net oor die pad van die skoenwinkel en by die ingang van ‘n groot inkopiesentrum. Ons is rustig, die son skyn, die kinders is gelukkig en ons voel ontspanne.

Nes ons voor die toonbank by Mc Donalds intree, hol ‘n sekuriteitswag gespanne met sy radio by ons verby. Die volgende oomblik begin hy in een van ons vele kleurvolle tale oor die radio skree en Pa-Pa-Pa hoor ons die geweerskote, letterlik meters van ons weg. Dadelik moet jy iets doen. Jy het twee kinders by jou en jou instink skop in. Jy moet  iets tussen jou en die skote te kry, want jy wil nie ‘n wegholkoël in een van jou kinders hê nie.

Nes ons teen die muur staan, hol ‘n klomp gillende mense by die trappe voor ons op direk in ons rigting by die hoofdeur uit. Ons druk albei ons kinders stywer teen ons vas en my man trek ons by die naaste winkel in (Queenspark nogal) en ons soek skuiling totdat dinge bedaar het. Om ons maak die winkels almal hulle deure toe en ‘n paar nuuskieriges loer uit om te sien wat aangaan. Lisa sê sy’s honger en vra of sy nou nie meer ‘n sappie gaan kry nie. Ek sien tussendeur alles ‘n mooi baadjie en na ‘n paar minute sê iemand die iStore is beroof. Niemand is beseer nie en almal gaan weer soos gewoonlik aan.

Lisa vra wat aangaan en ons verduidelik vir haar dat daar bad guys is wat iets kom steel het. Ek is nie seker of sy lekker verstaan nie, maar toe ons uiteindelik by die skoenwinkel instap,  leopardcrawl sy die hele winkel deur, want sy kruip vir die bad guys weg . Ons lag vir haar en alhoewel die adrenalien nog bietjie vloei koop ons skoene en gaan aan met ons dag. Ons praat weer in die kar oor die bad guys, want Lisa is erg op die Hoekom-fase en sy het baie vrae. Later praat ek en my man weer deur die situasie en dink aan wat ons anders sou doen en al die wat as-se.

Ons is nie beseer nie en niemand is vermoor nie. Maar ons kon wees. ‘n Onskuldige kind word so gereeld doodgeskiet. ‘n Bystaander word gewond. Iemand word so gereeld net deel van ‘n statistiek in ons land. Ek het heeldag geGoogle wanneer die artikel van ‘n gewapende roof op die internet gaan verskyn, maar vandag, 2 weke later, wag ek steeds. Want hierdie goed in ons land maak nie hoofnuus nie. Dit haal nie eers die plaaslike koerantjie nie. Nie eers ‘n vinnige artikel op die net nie. Niks. Dis amper asof dit net nie gebeur het nie.

Die gevoel van onveiligheid is daagliks om ons, maar ons beweeg gewoonlik in sirkels waar ons veilig voel. Wanneer daardie sirkels skielik onveilig word, is daar onmiddellik onsekerheid en vrae. Ek is dankbaar dat ons net so ‘n klein deeltjie ervaar het en nog nie die volle hartseer van misdaad in SA beleef het nie. Ek voel onrustig dat daar soveel mense se seer is wat nie die nuus haal nie. Mense wat geliefdes verloor en erge trauma ervaar. Ek is kwaad vir Eva wat die appel by die simpel slang moes vat en ek is hartseer dat ek my kinders moet grootmaak in ‘n wêreld waar die bad guys nie net in storieboeke en flieks is nie.

Nee, ons gaan nie ons tassies pak en na groener weivelde soek nie. Ek glo dat elke mens met ‘n doel geplaas is waar hulle is. Dat ons ‘n rol het om te speel. Ek glo ook dat elke mens ‘n keuse het en dié wat gaan, maak net ‘n ander keuse as ons en ek neem niemand daarvoor kwalik nie.

Ek, aan die ander kant,  wil nog hier wees. Ek wil nog bou aan Suid-Afrika. Ek het nog hoop vir ons land. Ek sien nog meer goed as sleg. Ek het nog iets om hier te doen. Ek kan wel nie soos ‘n ninja voor ‘n geweer inspring nie, maar ek KAN my kinders leer van reg en verkeerd. Ek KAN my kinders grootmaak deur daagliks te baklei teen die verlede se foute en hulle bewus maak van ons ongelooflike voorregte en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Ek KAN my gesin so veel moontlik beskerm. Ek KAN my kinders leer van die honderde good guys daar buite, want in elke storie wat ek vir hulle lees, wen die wolwe nie.

110. Kinders verstaan nie sperdatums nie

6133f0a67b4645b5b01ee391544d070b

Soms  is ek verskriklik dankbaar dat ek nie kameras in my huis het nie. Verlede week was rof. Ek het ‘n belangrike vakvergadering gehad, ek het my gr. 12’s op ‘n fliekuitstappie geneem, ek het ‘n demonstrasie gehad vir ‘n nuwe Afrikaanse aanlyn-studiegids, ek het ‘n baie groot deadline in my persoonlike lewe gehad waarvan ek julle nog later sal vertel, ek het ‘n familie se foto’s geneem en ons punte moes in wees.

Ek het onsagtelik baie werk gehad en my man was die aand diens.  Ek het nog 2 pakke opstelle gehad om daardie aand te merk, want die volgende middag was netbalproewe.  Maar Dian wou net nie sonder my slaap nie. Ek probeer hom van my bors afkry, en hy drink glad nie meer enige borsmelk deur die dag nie, maar saans is hy nog baie moeilik daarsonder.

Ek het vir 45 minute met hom op my skouer rondgestap en hy was so uit soos ‘n kers. Dit als terwyl ek vir Lisa ‘n broodjie maak, want sy is skielik  vreeslik honger. En terwyl ek die honde voer en terwyl ek my eie pajama broek met een hand aantrek. Nadat ons vir Lisa ‘n storie gelees het (ja met slapende Dian op my skouer) en sy in die bed was, het ek hom in sy kot neergelê. Nes ek my rooi pen optel, hoor ek  hoe hy weer begin huil. UGH…regtig!?

So is ek op en af vir omtrent 2 ure.  Merk een opstel, en dan is hy weer wakker. Uiteindelik gee ek op en besluit om maar met hom in ons bed te gaan lê.  Na hy weer rustig is, staan ek op en sluip na die leefvertrek om verder te merk. En sowaar…een opstel later en hy huil alweer.

Ek is toe maar met opstelle en al kamer toe. Met ‘n koplig op my kop en ‘n kind wat aan my nipple hang, sit-lê ek toe maar en merk. Teen 2:00 skrik ek wakker van Lisa wat huil. Ek moes iewers aan die slaap geraak het.  Ek, koplig steeds aan en boob steeds uit, spring op om haar te gaan haal.

Terug in die bed met Lisa ook tussen ons, lees ek maar weer die opstel van die kind wat my aan die slaap gemaak het. Ek kon net een pak so stuk-stuk en chaoties gemerk kry. Heeltyd bid ek dat God net moet intree, dat hy net vir my 2 ekstra ure in my dag moet gee sodat ek die ander pak gemerk kan kry.

Die volgende oggend na 3 koppies koffie en ‘n ekstra laag make-up onder die oë, begin  die wolke toetrek. Teen 14:00 sak die eerste reëntjie uit. My hart het vinniger begin klop, want as dit teen 15:00 nog reën word netbalproewe gekanselleer. En sowaar, dit reën net harder en harder en daar kry ek my 2 ekstra ure en my punte is betyds in.

Sommige sê dis dalk net geluk, dalk net toevallig, maar wat as dit dalk, net dalk ‘n ongelooflike genadiglike God is wat gebede beantwoord. En dalk beantwoord hy eintlik net die reëngebede van die miljoene mense wat vir reën bid omdat dit droog is. Maar op hierdie spesifieke tyd en plek, het hy my gebed verhoor.