115. Die HUGE goue randjie om die donker wolk

download

Gister na my effens morbiede post het een van my vriendinne my gekontak en moed ingepraat. Sy het gevoel dat als te negatief geskryf was en dat daar wel hoop en positiewe goed daarbuite is. Ek het saamgestem, maar ook gevoel dat mens maar soms mismoedig mag wees en soms maar ook negatiwiteit moet uitskryf. Dit het my egter bly pla. En gisteraand bid ek dat God bietjie vandag vir my iets positiefs moet wys.

Na ‘n bitter slegte nag waar Lisa siek wakker geword het en ek steeds van Sondag af met sinus sukkel en almal heeltyd huil en hulle ma nodig het, het ek maar min hoop dat God vandag al vir my die positief uit die dag sal kom haal.

My matrieks skryf Donderdag hulle vraestel, so ek moes by die skool wees om seker te maak alles is reg, gekram en uitgetel. So ek vat my siek lyf en Lisa se lyfie saam skool toe vir ‘n paar lesse en dan al die admin. Ek kry eers 10:45 ‘n doktersafspraak vir Lisa. Ma’s mag mos nie siek word nie, so ek kap maar aan. Terwyl ek aan die dokter verduidelik dat ek ook siek geword het nadat Diantjie siek was, maar dat ons nie nou geld het vir almal om in een maand siek te wees nie, druk hy die koorsmasjientjie teen my kop. 38.9 beepbeep die dingetjie. Lisa het net ‘n verkoue en kry nie eers medisyne nie en maar hy sit my op die bed en ondersoek my. Heeltyd maal dit in my agterkop dat ek nie eintlik hiervoor geld het nie en dat ek hoop hy charge my net vir een konsultasie en nie twee nie.

Hy kry vir my antibiotika, vir Lisa Coryx en ‘n ekstra voorskrif vir haar indien sy dalk slegter raak. En toe ek wil betaal, sê hy net: “Mommy, go get better. I’m not charging you for this.” Ek het gehuil, hom ‘n drukkie gegee en skaam, maar dankbaar uitgestap kar toe.

Dankie Jesus. Dankie vir dadelike antwoorde op gebede. Dankie vir goeie mans. Dankie vir die regte mense op ons pad. Dankie vir die goue randjies om elke dag se donker wolke.

5 thoughts on “115. Die HUGE goue randjie om die donker wolk

  1. Dit is so spesiaal! My dokter laat ons R900 betaal vir twee voorkrifte, sonder ‘n ondersoek. As ons altwee net malariapilletjies nodig het. Was laaste keer by hom, nou gaan ek na dokters wat nie so geldgierig is nie. Jou skrywe van gister was spesiaal, jy mag maar ons angs in woorde uitdruk.

    Like

Lewer kommentaar