Vandag is World Prematurity Awareness Day en natuurlik dra ek vandag pers. In die verlede het ek op hierdie dag lig gevoel. Lig omdat Lisa lewe. Lig omdat sy geen ernstige mediese kondisies het nie. Lig omdat ek ‘n oulike 3 jarige het wat monkey bars doen en swem. Lig omdat ek wonderlike mediese personeel op hierdie pad ontmoet het en dankbaar vir ware vriende wat ek gemaak het. Maar vandag voel my hart ‘n donker en diep pers.
Ek dink aan my vriendin wat ‘n tweeling verwag het wat op 28 weke gebore is. My hart is so dankbaar dat sy een gesonde lieflike klein poppie huis toe kon neem, maar ek kry trane in my oë omdat sy haar ander dogtertjie nooit kon leer ken nie.
Ek dink aan ‘n goeie maatjie wat op 24 weke moes sien hoe haar seuntjie sy eerste en laaste asem in neem. Ek is ook dankbaar dat sy tans ‘n dogtertjie verwag, maar my hart sien vandag weer vir die soveelste keer haar hartseer raak.
Ek dink aan die naamlose vrou wie se babatjie in die NICU langs Lisa was. Daai piepklein lyfie wat net een oggend skielik nie meer daar was nie.
Ek dink aan ‘n mamma wat ek deur ons storie op Facebook ontmoet het wat na 9 maande nogsteeds met haar kleintjie in die hospitaal is. NEGE MAANDE van elke dag in ry. Van elke dag sien hoe jou klein vegtertjie moet baklei. Van bang wees en bid. Van glo en hoop en vertrou dat die volgende dag beter sal wees.
Ek dink aan die ongelooflike spesialiste wat daagliks moet sien hoe van hierdie kleintjies dit onder hulle sorg nie maak nie. Hoe pediaters en susters elke dag doen wat hulle doen om hierdie kleintjies te red, weet ek werklik nie.
En vandag dra ek pers nie net vir die prem babatjies wat oral om ons rondloop en leef nie, maar ek dra pers vir die wat dit nooit huis toe gemaak het nie. Ek dra vandag op aan hulle mammas en pappas wat nie ‘n foto van hulle wonderwerkbaba op Facebook kan plaas nie. Ek bid vandag dat julle harte sal heelword
Vandag ondersteun ek die www.newborns.org.za van Grootte Schuur Hospitaal www.facebook.com/newbornstrustSA Ek dra my armbandjie en koop my sticker. Elke bietjie wat hulle kry, gaan om te sorg dat daar meer babatjies huis toe kom en dat die donkerpers weer lig word.
Ons familie ook in pers geklee…ons kleindogter is nounet 2. Sy was op 30 weke gebore en was 6 maande in NICU.
Vandag vir 8 prembabas in NICU presente gevat.
Lekker getjank.
Verlede week het my dogter uitgevind sy is 9 weke swanger…ek glo die Here het ons 2 maande afgegee vooraf. Want sien met Caira was sy op.medikasie tot op 3 maande want sy het bloeding gehad tot op 10 weke.
Ek bid vir n vol swangerskap sodat hulle na 3 dae ook huistoe kan gaan met baba
LikeLike