79. Joost, die MAN

joost

Gister toe ek hoor van Joost se afsterwe, was ek dankbaar dat hy nou verlos is van al sy swaarkry, maar toe ek gisteraand die tributes lees en kyk, het ek gehuil. Vanoggend toe ek met my Springboktrui by die skool instap, vra een van die Engelse onderwysers (blond en bietjie in die wolke) vir my of Joost sy terugkeer na rugby maak? My mond val oop en ek wonder hoeveel mense geen idee het hoekom almal so ‘n groot HoeHa oor hom maak nie.

Ek besluit om in registerklas met my gr. 11’s oor sy lewe te praat (net ingeval hulle ook nie weet waarom ons sy lewe vier nie). Terwyl ek klas toe stap, dink ek oor wat ek vir hulle gaan sê, maar toe ek instap kom die woorde sommer vanself. Joost was nie ‘n god nie. Hy was nie Moeder Teresa of Lady Di nie. Hy het nie die wêreld verander nie. Hy was nie perfek nie. Hy was net ‘n MAN.

‘n MAN deur wie se lewe ons ‘n paar lesse kan leer:

  1. Gee elke dag jou beste.

Jy weet nooit wanneer dit jou laaste keer op die veld is nie. Sit jou hart in dit wat jou passie is en maak seker dat jy alles insit vir dit wat jy wil bereik.

  1. Moenie bang wees nie.

Al is daar ‘n Jonah Lomu in jou lewe wat op jou afstorm, staan jou man en tackle hom. Maak nie saak of jou probleem veel groter as jy is nie, staan sterk en vat dit aan.

  1. Mense maak foute.

Joost het baie kritiek gekry oor sy persoonlike lewe. Hy het foute gemaak en dit is deur die publiek veroordeel. Almal maak foute en almal kry tweede en self derde of vierde kanse.  Wees bereid om uit jou foute te leer en wees ook bereid om te vergewe.

  1. Familie kom eerste.

Al het Joost sy roem op die veld gekry, is dit sy familie wat op die ou ent vir hom belangrik was. Familie moet altyd eerste kom… bo roem, bo geld, bo sport, bo werk.

  1. Almal is broos.

Wie sou kon dink dat Joost van der Westhuizen jonk en sieklik sou doodgaan? Dit kan met enige mens gebeur en almal kan siek word en doodgaan. Koester die oomblikke wat jy gesond is. Gebruik die geleenthede wat jy vandag het,  want niemand kan die toekoms bepaal nie.

  1. Dis nooit te laat om ‘n verskil te maak nie.

Al was Joost siek en seer het hy nie op ‘n hopie gaan sit en huil nie. Hy het maniere gevind om selfs tot aan die einde ‘n verskil te maak.  Hou op sulk en doen iets wat ‘n verskil kan maak!

Vandag is ek dankbaar vir die lewe van Joost. Ek is dankbaar vir die foute wat hy gemaak het en ek is dankbaar dat ons sy lewe kan vier. Die lewe van ‘n MAN, ‘n doodgewone, ongelooflike MAN.

 

Lewer kommentaar