96. ‘n Briefie vir jou voor boeta kom.

8.JPG
Vanaand terwyl ek langs jou in jou bed lê en wag dat jy slaap, sukkel ek om die trane terug te hou. Die laaste keer wat ek rustig net aan jou kan dink rondom slaaptyd. As ek weer langs jou lê is daar ‘n boetie wat my aandag gaan nodig hê. En my hart ruk ‘n bietjie as ek dink dat jy ok daarmee moet wees om my te moet deel.

Ek is so dankbaar dat jy opgewonde is oor boetie se koms. Dat jy elke dag vir hom drukkies en soentjies in my maag gee…dat jy saam die slapies aftel …dat jy verstaan het as mamma nie kon hardloop of rofspeel nie…dat jy vir almal vertel van hom en waarmee jy my als gaan help.

Ek weet jy sal ok wees, want jy is mos ‘n warrior princess. Maar vanaand terwyl jy rustig lê, is ek hartseer. Dis seker ook 39 weke se hormone wat opgebou het, maar my trane rol omdat ek jou so baie liefhet. My hartswens is dat jy altyd sal weet dat jy spesiaal is en dat jy altyd my babatjie sal bly. Ek glo dat jy sal leer verstaan dat jy vir my baie belangrik is al kan ek nie altyd vir jou al my tyd gee nie.

Ek weet nie hoe ek ‘n ander mens so lief kan kry soos vir jou nie, maar die kamers van my hart sal moet groei om plek te maak vir boeta.

Slaap rustig vanaand my engelkind. En dankie dat jy so ongelooflike dogtertjie is. Jy is een van die sterkste mense wat ek ken en jy is nou eers 3! Ek hoop jou nuwe boetie is net so cool soos jy en dat jy hom sal liefhê en dat jy hom als wat jy ken sal leer. As hy 5% van jou in hom het, gaan hy ‘n kiff outjie wees. Lief vir jou…my eerste babatjie…oneindig baie.

 

 

2 thoughts on “96. ‘n Briefie vir jou voor boeta kom.

  1. Ek was net so onseker of ek vir my tweede OOK so life sal wees soos my eerste, maar n ma se hart is soos n taxi…. en mens het elkeen op n ander manier lief. Ek hoop sy het n pop (haar eie baba) wat sy kan bad as jy hom bad en wat sy kan voed, droogmaak en en aan die slaap maak soos jy vir boeta maak. Geniet die tyd vreeslik, sy gaan n oulike ousus wees.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar