119. Tissues en al!

download

Woensdag het ek gehuil. Nie histeries en dierlik nie. Die trane het net rustig by my wange afgerol. Ek kon nie my emosie pinpoint nie, maar ek kon dit ook nie stop nie.

Ek was moeg … fisies en emosioneel. Dit het vir my gevoel asof ek niks meer het om te gee nie. Ek was op.

Dit was die eerste dag van skool. Dit was rof.

Ek was hartseer oor die dood van ‘n inspirerende oud-skoolhoof. En dit het my vir die soveelste keer laat wonder of dit alles die moeite werd is.

Ek was hartseer dat ek nie vinnig by my sussie in Londen se hospitaalkamer kon instap en haar ‘n drukkie gee nie. Hartseer dat ek klein Mia (haar klein dogtertjie) eers gaan ontmoet as sy al kan loop en praat.

Ek was hartseer dat my seuntjie steeds huil as ek hom soggens by die skooltjie gaan aflaai alhoewel ek weet hy gelukkig is deur die dag. Hartseer dat hy vandag al twee jaar oud is en dat die tyd so vinnig verby gaan.

Ek was hartseer dat ek gister so moes jaag en multi-task om net deur die dag te kom, dat ek nie my volle aandag kon gee toe een van my gr. 12’s my vertel dat sy in die vakansie haar eie lewe probeer neem het nie.

Ek was hartseer dat my man so hard werk om in my fisiese behoeftes te voldoen en dat hy my mis op emosionele vlak. Dat dit hom laat voel asof ek hom nie waardeer nie alhoewel hy vir my so kosbaar is.

Ek was hartseer dat Lisa haar eerste dag van graad R so geniet het, dat sy so moeg was dat sy oor alles wou kerm en huil. Ek was hartseer dat ek haar eers 16:00 kon optel alhoewel sy my eintlik al 12:30 nodig gehad het.

Ek was hartseer dat ek nie vir Dian koek kon bak nie. Ek was hartseer dat hy met winkelkoekies skool toe moet gaan saam met maatjies wat hy nog nie eers ken nie.

Ek was hartseer, want ek kon niks hiervan “fix” nie en dat ek eers moet fokus op die nou en hier van ons lewe.

Vanoggend is weer beter en die dag begin weer oor, maar my boodskappie vir die dag is dat dit moeilik is. Dat dit soms suck om ‘n ma te wees. Dat dit rof en uitputtend en wild is.

Dat dit ok is om te huil. Dat dit ok is om frustreerd te word. Dat dit ok is om jou menslikheid te wys. Dat dit ok is om nie die antwoorde te hê nie. Dat dit heeltemal ok is om te voel wat jy voel al weet jy self nie wat jy voel nie.

Dat dit ok is om die sleg ook te deel en dat dit ok is om nie net altyd die glimlag-foto’s met almal te deel nie.

Jy is OK! Ek is OK! Ons kinders is OK! We’ve got this…tissues en al.

3 thoughts on “119. Tissues en al!

Lewer kommentaar