117. TGIF!

Dis VRYDAG en vandag is ek super dankbaar! Dit reën in die Kaap. En ook nie net ‘n bietjie reën nie … dit reën katte en honde en die paaie is verspoel en ek sit met sopnat hare hier voor die rekenaar.

Gisteraand was my man diens. Dit beteken dat hy by die werk oorslaap en moet rondtes doen. Gister was ook ‘n rowwe dag by die skool. Ons het ‘n inklusiewe werkswinkel gehad wat eers 18:30 klaargemaak het. Lisa was by ‘n maatjie en Dian se dagmoeder het ingestem om hom daar te hou. Toe ek so teen 19:00 met albei kinders by die huis stop kry ek ‘n boodskap van Lisa se skool wat sê hulle het vergeet om ons te laat weet dat dit Vrydag (vandag) boekkarakterdag is. Gelukkig het Lisa ‘n tas vol opdress klere van my sussie se 3 dogtertjies gekry so ek kan rustig wees en weet sy sal darem iets kan aantrek. Ons begin die kosmaakproses, voer die hele dieretuin en pak die bad-slaap-storie aan.

Nadat Lisa en Dian elkeen hulle eie storie wou lees. En nadat albei self hulle eie teddie wou gaan haal, is almal wonderbaarlik teen 20:22 in ons bed aan die slaap. Ek oorweeg om op te staan en die skottelgoed te gaan was, maar raak toe ook aan die slaap. Ek skrik net na 1:00 wakker met die blinding wat met ‘n helse klap deur die wind teen die venster gewaai word. Teen die einste venster wat slegs van buite toegemaak kan word. En toe stort die reën neer. Noag se ark reën. En die venster ruk oop en water stroom by die venster in.

Dian spring regop en sê “Pappa, Pappa, PAPPA!” Lisa word wakker en huil. Die honde blaf en die katte spring van die bed af. En vir ‘n oomblik wil ek ook huil en PAPPA skree. Want hoe op dees aarde gaan ek nou hierdie venster toe kry. Ek kort twee mense … een om van binne te trek en een om van buite te stoot. Nadat almal soort van weer bedaar het en Lisa kliphard vir Dian ‘n “slaap”-liedjie, wat sy self opmaak, sing (wat wonderbaarlik gepaard met my rugkrap werk), probeer ek uitfigure hoe op dees aarde ek die venster-situasie gered gaan kry.

Ek kry toe maar ‘n bol wol (ek was nie bereid om in die storm garage toe te hol vir ‘n tou nie) en span dit oor die kamer vanaf die vensterknip tot by die kamerdeurhandvatsel. Ek gooi ‘n handdoek op die vloer en hoop vir die beste.

Vanoggend net na 4:00 is Dian op en wakker en ons al 3 gaan lê op die bank om TV te kyk totdat die res van die wêreld ook wakker is. En nes ek dink ons gaan almal weer OK wees, wil die klank nie werk nie. Gelukkig het mamma iewers drama gedoen en werk my byklanke en opgemaakte stemme goed genoeg om albei kinders gelukkig te hou tot 6:00. Ek spring deur die stort, want ek kan nie vir 3 dae in ‘n ry dry shampoo nie. Dian steek elke 2 sekondes sy kop by die stortdeur in en glimlag met sy stout ogies vir my, maar ons oorleef die vinnige was-sessie.

Lisa weier om enige van die 100de rokkies (Gouelokkies, Raponsie, Cinderella, heks, en elke ander prinses waarvan ‘n dogtertjie net kan droom) aan te trek en wil boekkarakterdag as ‘n KAT invaar. ‘n KAT! UGH! Ek koop haar uiteindelik om met make-up en sy trek  een of ander pienk, naamlose prinsesrok aan. Nes ek in die reën kar toe hardloop met al die sakke en met Dian wat skree omdat hy dink ek los hom alleen in die huis, kom Lisa uit met ‘n pienk unicorn hoedjie en draakhandskoene by die prinsesrok.

En net daar lag ons … almal heeltemal histeries. Lisa lag omdat ek lag. Dian lag omdat sussie lag. En ons lag en lag en lag. En laai almal in en ry giggelend skool toe. DANKIE VADER DIS VRYDAG!poster,840x830,f8f8f8-pad,750x1000,f8f8f8.u1

Lewer kommentaar