68. #Hashtag #dit #en #hashtag #dat

cape town embrace 1Ons lewe word deesdae oorweldig deur #dit en #dat. Wie sou nou ooit gedink het dat ‘n knoppie op die rekenaar wat soos ‘n blokkie op ‘n geweefde piekniekkombersie lyk, nou ooit soveel aandag kon kry. Sommige #’s is bitter irriterend en ander #’s het die mag om die wêreld te raak en om dinge te verbeter.

Saterdag was ek deel van ‘n ongelooflike oggend gereël deur Cape Town Embrace. Snaaks hoe mens soms randomly deel word van iets wat jou lewe op ‘n baie groter vlak inspireer. Ek het nie ‘n idee gehad wat Cape Town Embrace is nie en nog minder geweet wat hulle doen. Wel…hier is ‘n kort opsomming:

Cape Town Embrace is ‘n organisasie wat passievol is oor mammas en babatjies. Hulle fokus veral op die ondersteuning van swanger ma’s en op die eerste 1000 dae van babas se lewens. Hulle glo dat elke babatjie belangrik is en fokus op breinontwikkeling en stimulering asook die algehele welstand van beide ma en baba. Hulle werk in gemeenskappe waar nood is en maak seker dat hulle vir soveel moontlike mammas leergeleenthede en ondersteuning bied. Daar is baie oulike veldtogte en projekte waarin hulle betrokke is en hulle maak ‘n sigbare verskil vir baie families.

cape town embrace 2

Ek is deur ‘n vriend op Facebook met Julie Mentor van Cape Town Embrace in kontak  gesit. Hulle het ‘n Storie-vertel-oggend gehad waar ma’s van regoor Kaapstad (van Simonstad tot Delft tot Weskus tot Strand) uit verskillende agtergronde met mekaar gesels oor hulle pad na ma-wees. Wat ‘n verrykende oggend! My oë is oopgemaak vir die seer wat soveel ma’s ervaar, maar my oë is ook oopgemaak vir ma’s se harte. Harte wat sag is (ten spyte van harde lewens), harte wat oop is vir verandering (ten spyte van vrees), harte wat mede-mammas sien, hoor en verstaan (ten spyte van verskille) en harte wat mekaar lief het sonder oordeel. 13934582_1065538003553442_4633445099181416155_n

Die oggend is deur Lisa Cohen gefassiliteer en wat ‘n fantastiese hart het sy nie vir mense nie. Sy het die stories met grasie gelei en die gehoor met praktiese oefeninge laat fokus op die luister en inneem van wat vertel word. Ma’s het hulle diverse stories vertel en snaaks genoeg het al die stories diesefde boodskap oorgedra: Ons is almal maar net ma’s en dit maak nie saak waar ons vandaan kom nie of hoe ons daar gekom het nie… ons maak ‘n verskil in die lewens van ons kinders. Ma’s se stories oor aanneming, aborsie, dood, molestering, swangeskapkomplikasies en vrugbaarheid het die hartsnare geroer en trane het die seerplekke in baie harte heel gemaak.

Die oggend is afgesluit met die aansteek van sparklers, want die vonkies verteenwoordig die breinvonkies wat in jou baba se brein gebeur. Hoe hulle leer en hoe hulle breine ontwikkel word. Ons het saam gestaan en ons klein liggies het skielik saam helder geskyn. Deur ons sparklers aan te steek het ons ‘n belofte gemaak om nie net ons eie baba’s se lewens as belangrik te ag nie, maar ook al die ander babatjies wat nie dieselfde geleenthede as ons baba’s kry nie.

As mammas het ons almal ‘n rol in die grootmaak van ons Afrika-kinders. Word deel van die gees van Ubuntu en maak jou hart oop vir mense wat minder as jy het. In plaas van oordeel (omdat jy nie verstaan nie) oor besluite wat mense neem, kom ons ondersteun liewer en miskien word jou hart ook aangeraak. Myne is vir altyd verander. #EmbraceTheSpark. 

 

 

Lewer kommentaar