Ek het in ‘n ouetehuis sonder ‘n dak grootgeword: die aftreedorpie, Strand. Daar was persgrys hare al in die mode vandat ek kan onthou. En nou bly ek in die pensioenparadys, Vishoek. Albei hierdie dorpies is bekend vir hulle ou mense, want albei is lekker naby groot hospitale, maar ook lekker “klein dorpies” by die see. Ek sien dus al van kleins af my “fairdeal” van ou tannies en ooms.
Ou mense is altyd mos maar bekend “grumpier” as jong mense. Hulle is die kwaai oom wat op ons geskree het as ons die krieketbal oor die muur geslaan het; die tannie wat jou daardie vuil kyk in die kerk gegee het as jy giggel oor iets simpel; die oumense wat net negatiewe kommentaar lewer oor die ‘jeug van vandag’en hulle kleredrag en houding (alhoewel ek al foto’s van my ouma in ‘n baie sexy mini-rokkie gesien het).
Vandag was ek weer vir ‘n slag gelukkig om hip-en-happening-tannies raak te loop. Mens sien hulle maar min en hulle hang gewoonlik in spesiale “oumens”-koffiewinkels of Dischem uit. Ek het vandag die coolste nuwe koffiewinkel in Vishoek gaan besoek. Die dekor is modern en ‘n koppie koffie kos soveel soos ‘n hele blik, maar daar is gratis Wifi en jy kry darem ‘n soetkoekie in jou piering. Langs my het twee ou tannies gesit (later het ek uitgevind dat hulle 78 en 81 jaar oud is). Hulle het gelyk soos tipiese ou tannies met pastelkleur broekpakkies en kort hare, maar my mond het oopgeval toe die een tannie haar laptop uit haar sak haal en vir die ander tannie ‘n video op Facebook wys.
Net daar het ek besluit dat ek meer van die twee oumas wil leer. Ek het die sosiaal onvaarbare, maar oral beoefende afluistermetode toegepas. Hierdie het my veral laat glimlag: “You know I will be married for 51 years on Friday…do you know how long that is? TOO LONG!” “OOOO…I wouldn’t mind having a man pick me up at the home in a Lamborgini.” “Why were you not at the protest? You really have issues with understanding your white privilidge…get with the programme or maybe move to Australia!” “I am considering trying this banting thing…are you in?” “When you meet him, remember to not mention your hip replacement…that will be a deal breaker.”
Is dit nie die coolste twee ou tannies ooit nie?! Hulle het slegs 1 gesprek gehad oor dood en dit was toe hulle gespot het oor iemand wat hulle ken wat nog tot die dag voor haar dood haar oggend swempie in die see gevat het. Hierdie twee tannies het vanoggend my oë oopgemaak vir die lewe…ironies…want hulle het eintlik nie meer veel lewe oor nie. Hulle het my laat besef dat ons besluit hoe ons wil oud word. En hulle het my inspireer en laat besef dat ek elke dag ‘n rol het om die generasie jonger as ons weer te inspireer. Ek wil ook ‘n cool ouma wees eendag, maar vir nou moet ek eers fokus om ‘n cool ma te wees.
Ek glimlag lekker vir jou vertelling. Hoop ek kan ook so vol lewe wees, eendag.
LikeLiked by 1 person
Pittig vertel, Charmé – “ja-nee”, sou my pa gesê het – daar het jy dit… Dikwels hoor mens die waarheid, nie net uit die mondeling van die spreekwoordelike suigeling nie, maar by die gryse wyse, sê ek.
LikeLiked by 1 person
Jy het die resep… moenie daarvan vergeet nie, skryf dit neer en bere dit stil-stil in jou bybel…
LikeLike