55. Tick tock tick tock…tyd!

6f9eb46f8cef6f8b39c7e37f05626de7

As daar een ding in die wêreld is wat ek seker is elke ma meer van wil hê,  is dit verseker TYD! Dit is asof daar net nie genoeg tyd in ‘n dag is om by alles uit te kom nie. Hoe is dit moontlik dat ek altyd my to-do lysie op datum kon hou en nou skielik net niks gedoen kry nie?

My dag begin 5:00 soggens (wanneer Lisa kiertsregop in die bed staan en my op die wang slaan en met ‘n glimlag vir my sê: “Mamma”). Let wel…as ek sê my dag BEGIN 5:00 dan bedoel ek eintlik dis wanneer ek die eerste keer ordentlik uit die bed uit opstaan en die lig aansit. Dit sluit dus nie die 2-3 kere wat ek tussen 12:00 en 5:00 wakker word omdat Lisa melk wil hê of omdat sy sommer net ‘n bietjie wil skree nie. Dit sluit ook nie die kere in wat ek nie kan slaap nie en waar ek wakker lê en dink aan als wat ek nie gedoen gekry het nie; alhoewel sy doodrustig langs my lê en snork nie. Dit sluit ook nie die 3 toilettrippies wat ek deur die nag inwerk in nie (vir een of ander rede piepie ek dubbel soveel as voordat ek ‘n kind gehad het…seker omdat ek nooit daai ‘pelvic floor’-oefeninge gedoen het nie…oops.)

Van die oomblik wat my voete die vloer slaan, is dit ‘n gejaag. Dit is ‘n gejaag om Lisa se sak te pak en seker te maak ek het vir haar gesonde kossies ingepak vir die dag. (Dit sal dalk minder van ‘n gejaag wees as Lisa nog vir so uurtjie wou slaap, want dan sou ek nie elke twee minute moet loer waarmee sy besig is nie…gewoonlik kry ek haar besig om die diewering van haar kamer uit te klim sodat sy vir die honde kan hallo sê….OF besig om met die tampons in die badkamerkassie te speel.

Dan is dit ‘n gejaag om myself aangetrek te kry. Hierdie proses word effens vermoeilik deur Lisa wat aan my been hang terwyl ek my grimering doen omdat sy eintlik met my krale wat langs die spieël hang wil speel. Dit is ook effens oneffektief omdat die wasgoed wat al vir twee weke op die bank in die waskamer lê, nogsteeds nie in my kas weggepak is nie. Dus bevind ek myself gereeld waar ek in my bra en pantie in die huis rondhol (seker dié dat my buurman deesdae meer gereeld oor die muur loer) opsoek na iets wat al lank terug gewas is.

Dan is dit ‘n gejaag om al my merkwerk, die vier sakke (babasak, handsak, boekesak en kossakkie vir Lisa) in die kar te kry. En dan jaag ek om Lisa af te laai, om betyds by die skool te wees en om nog tyd te hê vir ‘n vinnige koppie koffie voordat my werksdag begin. Skoolgee is altyd ook ‘n gejaag. Dit is ‘n gejaag om al die take gedoen te kry, ‘n gejaag om vraestelle op te stel, ‘n gejaag om als gemerk te kry en ‘n gejaag om seker te maak jy het alles onderrig wat in die leerplan is, ‘n gejaag om seker te maak jou span is voorberei vir die wedstryd, ‘n gejaag om al jou admin op datum te hou…en en en .

Dan na skool is dit natuurlik weer ‘n gejaag. Ek stop vinnig by die winkel en jaag deur die rakke opsoek na ‘n goedkoop-gesonde-vinnige aandeet-opsie. Dan is dit weer ‘n gejaag om Lisa op te tel sodat ek darem vir ‘n kort tydjie met haar kan speel voordat dit weer badtyd en bedtyd is. Dit alles terwyl jy ook die kos moet regkry sodat ons nie na 9:00 eet nie.

Teen die tyd wat Lisa in die bed is en ons geëet het, is ek oppela. So moeg dat ek lanklaas na 9:00 in die bed gekom het. Ek is so moeg dat ek niks anders gedoen kry nie.  Te moeg vir beenhare skeer, te moeg om nog daai watsapp vir my ma te stuur wat ek al vir dae in my kop het, te moeg vir huis skoonmaak, te moeg vir seks, te moeg vir hare was, te moeg vir praat, te moeg vir dink, te moeg om met vriende te kuier, net te moeg.

Verlede week staan ek in die kerk en ons begin met Praise en Worship. Toe ek my oë toemaak en rustig raak voor die Here (en ek kon dit ook net doen omdat Lisa op my skouer lê en slaap het, want as sy rondhol kan ek dit nie vir ‘n oomblik waag om my oë toe te maak nie) hoor ek die Here se stem so duidelik: WEES STIL! RAAK STIL! Sy woorde aan my was so duidelik dat ek sommer begin huil het. My arme man (wat glad nie my emosies verstaan as dit by kerk kom nie) het my vreemd aangekyk en gevra of als ok is. En dit was vreemd hoe ek met oorvloed kon sê: JA! Alles is ok.

En skielik besef ek net dat die lewe te kort is om die heeltyd te jaag. Vat ‘n oomblik, raak rustig…en wees stil! Sit musiek aan of sit net ‘n bietjie op die gras (indien jy nog gras oor het nadat die honde daar gespeel het) in die tuin. Haal net vir n oomblik diep asem en “connect” ‘n bietjie met die Here. En na jou oomblik…al is dit net vir ‘n paar minute…kan jy maar weer die wasmasjien aansit of die speelgoed optel, want hey…als is OK!9781432122379

2 thoughts on “55. Tick tock tick tock…tyd!

    • Hi Marieta, Baie dankie vir jou terugvoer. Jy is heeltemal korrek. Ek poog nie om ooit ‘n puris te wees nie en ek skryf maar soos ek praat. Jammer dat dit jou so pla. Vir my gaan dit maar meer oor die skryf en die aanklank wat dit by my lesers vind. Groete!

      Like

Lewer kommentaar