108. Die vrou in die stoel langs my

vintage secretaries (31)

Soms in die wêreld ontmoet mens mense wat jou inspireer. Soms is dit bekendes, soms iemand doodgewoon en soms is dit die vrou wat elke dag langs jou sit in die personeelkamer.

Vir die van julle wat nog nooit in ‘n personeelkamer ingestap het nie sal ek eers moet verduidelik hoe dinge werk. Jou stoel is jou stoel…soos in FOR LIFE. Niemand skuif ooit nie en wanneer jy per ongeluk of vir ‘n vinnige oomblik op iemand anders se stoel sit, kry jy die “look of death”. Dus is die stoel wat jy op dag een kies, redelik belangrik, en soms redelik beperk as daar nie baie nuwe kollegas is nie.

Ek is op dag een geplaas in die stoel aan die einde van die ry waar ek steeds vandag sit. Ek onthou hoe ek gekyk het na die vrou in die stoel langs myne. Sy was Engels, sy gee kuns en het soos ‘n lekker mens gelyk, maar ek was ietwat versigtig. Dit het my twee dae gevat om presies te weet hoekom ek langs haar moes sit. Sy laat my daagliks lag en elke oggend sê sy, sonder om dit te besef, presies die regte ding wat ek op daardie oomblik moet hoor.

Sy het twee kinders en sy het presies dieselfde “parenting”-styl as ek. Sy is onsagtelik lief vir haar kinders en sal hard vir hulle baklei, maar sy laat hulle ook toe om foute te maak en seer te kry.  Wanneer ek skuldig voel omdat ek my snotneuskind by die skool moet aflaai om te kom werk, het sy altyd ‘n storie van iets wat haar twee seuns aangevang het wat my laat voel dat ons ok is. Sy deel met ‘n oop hart. Sy is “normaal” en opreg. Haar kinders breek tande, arms en val uit ‘n boom uit.

Sy inspireer my daagliks sonder om my te probeer inspireer. As gevolg van haar tel ek soms my kop op voor ek by die deur instap, want sy doen dit daagliks. Dis sy wat my laat lag wanneer die trane net agter my glimlag wegkruip. Sy wat my inspireer om die balans tussen werk en huis te kan handhaaf. Dis haar gelyke omgee en liefde vir haar skool- en huiskinders wat my ‘n beter ma en onderwyser maak.

Vandag is ek dankbaar vir hierdie ongelooflike vrou, maar ook vir al die mede werkende mammas wat om my is. Hulle verstaan net. Hulle gee om oor jou en jou kinders. Hulle gee die regte raad. Hulle is daar vir ‘n drukkie of soms ‘n klap om jou reg te ruk. Hulle laat jou lag wanneer hulle jou ‘n erger storie vertel om jou redelike erge storie te laat beter voel. Hulle is al deur tande kry, potty training, bednatmaak, skool toe gaan en al die ander mylpale waardeur ons nog moet gaan. En hulle staan nog. Mag ek ook eendag SO ‘n mamma wees. Een wat die jonger, dommer en groener mammas laat beter voel. DANKIE vir my mammahood!

1 thoughts on “108. Die vrou in die stoel langs my

Lewer kommentaar