93. #metoo

metoo

Hierdie week het die #metoo sosiale netwerke oorgeneem en dit is met gemengde gevoelens wat ek vandag skryf. Aan die een kant is ek opgewonde om te sien hoeveel mense bereid is om ‘n publieke standpunt in te neem en #metoo te laat vlamvat en aan die ander kant maak dit my hartseer om te sien dat daar soveel mense is wat deur seksuele teistering geraak word.

Mense sien my as ‘n hardegat, sterk mens. Iemand wat mens met handskoene moet aanpak. Ek is glad nie op my bek geval nie, praat veels te veel en neem soms sterker standpunt in as wat nodig is. En dit is dalk juis as gevolg hiervan wat ek nog nie my eie #metoo storie met mense gedeel het nie. Dis asof ek magteloos gelaat is en ek het swak gevoel. Dit het my skaam gemaak en ek het geen idee hoekom nie, want ek het tog nie iets verkeerd gedoen nie. Maar dit is juis wat hierdie veldtog so spesiaal maak. Dit gee ons die vertroue terug en gee ons die geleentheid om te praat oor die duiwels wat ons vir jare in die kas weggesteek het.

Toe ek in gr. 8 was, is ek vir die eerste maal blootgestel aan die seksuele wêreld daar buite. Ek is van die gelukkiges wat in ‘n beskermde huis grootgeword het en ek tel my sëeninge dat so iets eers in gr. 8 met my gebeur het. Ek het huis toe gestap toe ‘n blou BMW langs my stilgehou het. Die man het gevra vir rigtingaanwysings. Toe ek nader kom, sien ek dat sy broek los is en dat hy besig om is sy privaatdele te vryf soos hy my my praat. Ek het onmiddellik gebloos en dit het my heeltemal omkant gegooi. Ek het so vinnig huis toe gestap en vir niemand daarvan vertel nie, maar ek onthou tot vandag nog wat hy aangehad het en hoe hy geruik het. Dit was nommer 1.

Nommer 2-192 is die rede hoekom ek vir lank nooit rokkies gedra het nie. Ek was mooi gebou toe ek nog gedans het en as ek enigsins mooi vroulik aangetrek het of lipstiffie aangesit het, was die wolwefluite op pad klas toe of op pad winkel toe altyd daar. Ek het die onaanvaarbare aanmerkings probeer aflag en het gemaak asof dit my nie pla nie, maar dit het in my agterkop vasgesit. Dit het my ongemaklik gemaak en ek liewer my jeans en t-shirts gedra. Ek sukkel steeds om ‘n werklike kompliment van ‘n man as opreg te aanvaar (en ek vermy steeds lipstiffie).

As ek luister na mense se stories, sien ek myself as gelukkig dat ek “nice” ouens gehad het op universiteit en dat ek nooit in enige seksuele situasies bevind het nie. Toe ek begin werk het, het ek ‘n outjie ontmoet. Hy was goed gebou en rugby was sy lewe. Ek het geweet dis nie my trouman nie, maar ek was jonk en ons het vir so 2 maande uitgegaan. Ek was voor die tyd met hom eerlik en het gesê dat seks voor die huwelik nie iets is waarin ek belangstel nie. Hy het dit respekteer en was ok daarmee alhoewel hy al vele seksuele verhoudings gehad het. Hy het my gereeld gedruk vir seks en ek het altyd net weggebly en dit dood gepraat.

Een aand in my woonstel het hy my ewe skielik hardhandig vasgevat. Hy het my teen die kas vasgedruk en ek kon sy asem in my nek voel. Vir die eerste keer (op 22…gelukkig soos ek al gesê het), was ek bang vir ‘n man. Hy was sterker as ek en my vroulikheid het my ongelooflik broos laat voel. Ek onthou hoe hy my hande vasgedruk het totdat dit seer was en ek onthou hoe dit my laat voel het. ‘n Soort lamheid wat ek nie kan verduidelik nie. Ek het hom op een of ander bonatuurlike manier van my af weggestoot en hom uitgeskop. Dit kon soveel anders verloop het en daarvoor is ek dankbaar. En skielik verstaan ek hoeveel soveel vrouens mans haat. Hoekom hulle nooit in ‘n huwelik wil wees nie. Hoekom hulle nie vertroue het nie. Dit was nommer 3 (of 193)

My #metoo storie voel klein en glad nie so erg nie. Ek is nie verkrag nie; ek is nie molesteer nie, maar dit is juis wat #metoo so spesiaal maak. Ons MOET praat oor goed wat agter toe deure gebeur. Ons MOET ons stories (groot of klein) deel. Ons MOET hierdie donker goed in die lig bring en dit aanspreek. Genoeg is genoeg. Ek #metoo vandag sodat Lisa dit nooit hoef te doen nie!

e1e135dc6772a69ee26402a1fe79de9b--human-trafficking-quotes-wise-quotes

 

Lewer kommentaar