105. Uit die hart van ‘n kak ma.

images (1)

Baie belangrike pre-lees vir hierdie post: Hierdie is nie ‘n “simpatie vra, kry my jammer, gee vir my komplimente om beter te voel” – post nie…maar ‘n “real” post wat dalk vir nog ‘n “kak”-ma iewers kan laat beter voel.

As werkende ma, voel ek baie soos ‘n supervrou. Een wat op een of ander manier dwarsdeur die nag borsvoed, want Diantjie wil niks van die bottel deur die dag weet nie en dan wil hy heelnag aan sy tietie vashou…soos in DIE HELE NAG. Een wat 5:30 sakke in die kombuis pak en kosblikkies vol lekker goedjies (met liefde, want ek het iewers gelees as jy nie met liefde kosmaak nie, gee dit glo maagpyn) inpak. Lekker goedjies wat iewers in die mal week gekoop moes word, want anders as wat meeste pappas glo, verskyn hulle nie net in die kas nie.

‘n Ma wat tussen periodes gou Google hoe om oulike koekies vir bakkerman te maak, of watter medisyne vir watter kwaal werk en dan na werk soos Catwoman in die winkel inhol om die regte medisyne, koekiebakgoed (en die kos wat jy vir aandete gaan maak) te koop. Een wat tydens pouse in ‘n koue kantoor sit en melk uitpomp terwyl sy dink aan die volgende periode se toets wat nog in die kluis lê.  Dit alles (en nog meer) terwyl jy ook beplan wat jou kinders by die skool moet doen, terwyl jy merk, terwyl jy vergaderings hou en bywoon, terwyl jy buitemuurs doen, terwyl jy eksamenvraestelle opstel, uitdruk, kram en tel, terwyl jy eposse lees en stuur, terwyl jy, soos net ‘n supervrou kan, al die balle bo jou kop juggle.

Maar vandag voel ek soos ‘n KAK ma. En Ja, ek weet ek kan seker liewer die woord “slegte” gebruik, want kak is ‘n vloekwoord en baie kras vir ‘n ma om hardop te gebruik. Maar dis hoe ek voel… KAK.

Vanoggend het een van my kollegas bedank, want sy voel sy kan nie ‘n ma én ‘n onderwyser wees nie. En net daar…val al die balle op die grond. Niks het gebeur nie, niemand het seergekry nie, maar die hoof wat dit vanoggend in die personeelkamer aankondig, was al wat nodig was om die kakkerige kak gevoel in my hart te sit. Dieselfde kak gevoel wat ek al soveel keer gevoel het, wanneer iemand hulle kinders/gesin bo hulle werk verkies.

En net so kruip al die jare se skuldgevoelens in. Is ek dan ‘n slegte ma? Of eerder dalk ‘n slegte onderwyser?  Is dit moontlik om albei te kan doen of is dit ‘n illusie wat ek vir myself skep om nie die hele tyd sleg te voel daaroor nie. Elke dag wanneer jy jou siek kind moet aflaai omdat jou matrieks nog twee gedigte moet doen. Elke keer wat jy jou kinders in ‘n pram druk en saamsleep na ‘n dag by interskole. Elke keer wat jy kortaf en moeg is terwyl hulle eintlik net jou liefde en aandag wil hê. Elke keer wat jy skool/werk bo hulle kies. En dis die skuldgevoelens wat die kak bring.

Want dis net dan wanneer jy kak voel. Al die ander kere voel jy eintlik wonderlik. Jy geniet jou werk. Jy voel jy dra by tot die samelewing. Die “Dankie, Juffrou” maak jou hart warm. Die feit dat jou kinders gelukkig by die skool is en as hulle die oulike kunswerkies vir jou wys, is lekker. Die tye weg van die huis, maak jou weer reg vir die tye by die huis en oor die algemeen voel jy soos die supervrou wat jy eintlik is.

Dit alles neem nie weg van die kakgevoel in jou hart wanneer iemand anders ‘n ander pad as jy kies nie, want die wêreld verwag steeds van mammas om superma’s te wees al werk hulle. So vandag is die wêreld steeds ‘n kak plek waar mammas almal met mekaar vergelyk word. ‘n Plek vol skuldgevoelens en ‘n plek waar almal met almal in alles moet kompeteer. Gelukkig het ek die kak nou uit my sisteem geskryf en voel ek nou eers weer ok. As jy ook vandag kak voel, hoop ek jy sien die SUPERma/mens/vrou/onnie wat jy is, raak. Want maak nie saak of jy werk of nie werk nie… jy is ‘n allerdaagse SUPERHERO!

images

3 thoughts on “105. Uit die hart van ‘n kak ma.

  1. “I get you”
    Ek het ook voltyds gewerk en moes my babas op drie maande oud, 6.30 in die oggend by n creche aflaai. Jy huil al die pad werk toe want jy voel kak. Maar ek moes werk “to make ends meet”
    En dan eendag vat jy tyd af en woon die assembly by want jou kind gaan praat op die verhoog en n tuisbly ma sê vir jou ” don’t you regret missing out on all this” ek sê vir haar ja maar in my kop skreeu ek ” wyk satan jy gaan my nie onderkry nie”
    As jou 16 en 19 jarige jou om die nek val en soen voor hulle “pelle” dan weet jy jy is nie so “kak” nie. Liefde bedek alles.

    Like

  2. Ek het jou skrywe baie geniet en is bly dat dit nie net ek was wat elke dag met ‘n skuldgevoel rondgeloop het oor my kinders nie. Maar, ek kan met sekerheid sê dat hulle wel grootword en kinders word om op trots te wees! Op die ou end is hulle maar net soos ander kinders wie se ma’s by die huis was. En wanneer hulle groot is en jy kyk jou pragtige onafhanklike kinders in die oë, kan jy met trots voor die spieël gaan staan en vir jouself sê: Jy het ten spyte van alles nogal nie ‘n té kak job gedoen om hulle groot te kry nie 😀

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s