83. Pienk fietsies en pap tyres

54.JPGLisa het so maand terug een oggend wakker geword en voordat sy eens hallo sê was haar woorde: “Pappa gaan vir my ‘n pienk fietsie koop, né Mamma; met ‘n helmet, né Mamma”. Net skielik het hierdie pienk fiets droom ontstaan en elke dag vra sy so ten minste 10 keer vir dié spesifieke pienk fietsie met ‘n helmet.

Die afgelope naweek was ons by ouma en oupa in Montagu en sowaar…daar haal oupa ‘n pienk fietsie met ‘n klokkie uit die stoorkamer uit. Nog nooit het ek Lisa so opgewonde gesien nie. Sy kon nie wag om te gaan “ry” nie. Sy het vir oupa ‘n groot soen gegee en daar is ons, met klokkie en al, die pad af om te gaan fietsry.

Maar soos meeste goed in die lewe was dit toe nogal nie so maklik nie. Sy kon glad nie verstaan hoekom die fietsie nie self vorentoe ry nie. Hoekom moet sy trap? En gou het sy agtergekom dat fietsry eintlik harde werk is. Sy het gehuil toe sy nie die pedale gedraai kon kry nie en die teleurstelling was op haar klein gesiggie geskryf.

Toe ouma besluit om haar toe maar vir ‘n uur in die pad op en af te stoot, het sy weer gelag en haar gate uit geniet. Arme ouma se voorkop was vol liefdesdruppels en haar rug was die volgende dag styf, maar stoot het ouma gestoot.42.JPG

Terwyl ek met my kamera staan en die hele petalje afneem, dink ek aan hoe simbolies fietry kan wees. Dat ons soms so bitter graag iets wil hê. Dat ons weke of maande of jare vra daarvoor,  bid daarvoor en wag daarvoor. Dan, as dit uiteindelik op ‘n skinkbord vir ons gegee word, wil ons nie die werk insit om die vrugte daarvan te pluk nie.

Dit het my ook laat dink aan die fiets met die pap wiel wat vol stof in ons garage staan. En dat ons soveel dinge in ons lewe het waarvoor ons voorheen gebid het, maar dat ons dit nou afskeep. Dat soveel van ons seëninge in die garage lê en stof opgaar.

Aan die einde van ‘n wilde eerste kwartaal voel my wiele ook bietjie pap en het ek verseker ‘n laag stof wat op my lê. Ek voel afgemat en kort weer ‘n bietjie polish.  Wel, vandag gaan ek weer probeer fietsry.  Ek gaan die regte fiets se wiel-oppomp vir my man los, maar my geestesfiets sal ek vandag weer ‘n slag bietjie Mr. Min.

En ek weet ek gaan dalk sukkel om al die bulte op te ry, maar trap sal ek trap. En as ek nie meer onthou hoe om te ry nie, sal ek vertrou dat God my “ouma” sal wees wat my sal lei en wat my sal leer hoe om dankbaar te wees vir ons gawes en hoe om te dien. Een ding is seker: die wiele kan mos nie altyd pap bly nie.

Lewer kommentaar